Opstanding-debat herleef

Kyk ook:

Opstanding-debat herleef

2011-05-28 22:36

Rapport

Marlene Malan

Ses jaar nadat ’n student uit ’n teologiefakulteit geskop is weens sy klagte teen drie hoogleraars oor “die verkondiging van dwaalleer” het dié debat – oor die fisieke opstanding van Jesus Christus – weer opgevlam.

Mnr. Ferdie Mulder, wat uit die Universiteit van Pretoria (UP) geskors is, en prof. Julian Müller, destyds een van die drie hoogleraars, het boeke oor dié onderwerp geskryf.

Müller, nou adjunkdekaan, se Om te mag twyfel het vroeër vanjaar verskyn. Mulder se Opgestaan verskyn aanstaande maand.

Volgens die inhoud van die twee boeke staan albei by hul onderskeie destydse standpunte.

Die klagte teen Mulder en sy verhoor en skorsing het destyds opslae in die NG Kerk gemaak.

Müller het aan Rapport gesê hy wil nie verder kommentaar lewer nie. Hy volstaan by wat hy in Om te mag twyfel geskryf het.

Mulder, ’n doktorale teologiestudent in Nederland en Cambridge, sê hy is meer as ooit oortuig van die geldigheid van die 2005-studenteverklaring wat tot die klag gelei het.

Hy skryf in Opgestaan “dit was vir die wese van die Christelike geloof dat ek opgestaan het”.

Volgens Müller het die klag teen hom en proff. Jurie le Roux en Dirk Human veral oor hul interpretasie van Jesus se opstanding gegaan.

“Hierdie klag, wat later deur die student en ’n paar predikante ook na my ring geneem is, het nie net my verhouding met die student versteur nie, maar ook my verhouding met die kerk.”

Volgens Mulder het die meeste van sy 45 mede-studente wat die klagskrif onderteken het, hulle onder druk van akademiese leiers daaraan onttrek.

Die kern van sy (Mulder se) standpunt was dat Jesus fisiek en geskiedkundig uit die dood opgestaan het, ’n leë graf agtergelaat het en die dood letterlik oorwin het, skryf hy.

Hierteenoor skryf Müller: “As iemand vir my die verhaal van Lasarus se opwekking uit die dood sou vertel en vra of die graf leeg was, is die antwoord ’n onomwonde ‘ja’, want Lasarus se lyk het in die verhaal lewend geword.

“Is dit hoe ons oor Jesus se opstanding moet dink? Beslis nie. As ons in Lasarus-kategorieë oor Jesus se opstanding sou praat, neem ons onnoembaar baie van die betekenis van sy opstanding weg. Dis presies wat gebeur in die teologiese denkskool wat die leë graf die ‘toetssteen’ maak.

“Die betekenismoontlikhede van ‘liggaamlik’ en ‘fisiek’ en ‘leë graf’ wat in die Lasarus-situasie van toepassing is, word op Jesus se opstanding oorgedra met die gevolg dat dit so in betekenis verskraal dat ’n ‘ja’ daarop ’n verloëning van die werklike betekenis van die opstanding sou inhou.”

Mulder skryf egter Jesus het opgestaan met ’n verheerlikte liggaam, wat anders was as dié van Lasarus.

“Vir geen ander siening is daar plek in die Christelike geloof nie. Sonder dié gebeurtenis stort ons geloof in duie. Jesus en die realiteit van sy liggaamlike opstanding en leë graf is gelukkig nie afhanklik van die sanksie of uitsprake van ’n algemene sinode, regter, advokaat of die Universiteit van Pretoria nie. Ons kan nie Jesus se fisieke opstanding verruil vir ’n eensydige simboliese of metaforiese interpretasie nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui