Opstanding

Kyk ook:

*******

Opstanding | Beeld

Kerkbode, 14 April 2006

Gerhard Bothma

Julian Müller is hárd geslaan, maar hy het opgestaan. Hierdie boek handel nie net oor Jesus se opstanding nie, maar ook oor die skrywer s’n uit ’n moeras van beskuldigings, vyandigheid en openlike vervolging. Hy het die boek geskryf teen die agtergrond van beskuldigings teen hom en ander dosente van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria. Alhoewel dit nie bedoel is as ’n polemiese of strydgeskrif nie, teken dit op ’n geloofwaardige wyse protes aan teen ’n teologiese stroming wat meer mense as net die skrywer bekommer.

Müller wys die opvatting van die opstanding as polariserende en konfronterende “toetssteen” met goeie argumente af en pleit daarvoor dat ons die onsêbare en die misterie rondom die opstanding moet (her)ontdek sodat ons onsself weer daaroor kan verwonder. Volgens hom is daar ’n wye behoefte aan deeglike teologiese besinning oor ons geloof in die opstanding van Christus. Eerder as ’n stuk dogmatiek of ’n uitgewerkte sisteem van denke oor die opstanding, bied hy persoonlike refleksies oor sy geloof daarin vanuit verskillende invalshoeke aan. Hy behandel nie net Bybelse tekste oor die opstanding nie, maar betrek ook die perspektiewe van figure soos Calvyn, Geelkerken en Marcus Borg en laat die leser nuut dink oor die manier waarop taal, verstaan en konteks funksioneer in die geloof. Dit alles doen hy op ’n manier wat beslis aanklank sal vind by lesers se geloofsvrae en -ervarings. Die waarde van die boek 1é juis hiér.

Oor die “wat” van die geloof sal mense altyd verskil en stry, maar oor die “waarom” daarvan kan dit nie gedoen word nie. Die persoonlike aard van ’n mens se geloof méét gerespekteer word.

Veral in die lig hiervan is die skrywer se erkenning dat hy probéér glo in die opstanding en die wyse waarop hy sy eie geloof in verband bring met die “lande” waardeur ’n mens se lewensreis beweeg ’n noodsaaklike perspektief. Die vraag “Glo jy in die histories-fisiese opstanding van Christus?” word teen die agtergrond van die verhouding tussen God en mens ontmasker as ’n manier waarop ’n teologie van arrogante sekerheid, ’n teologie wat presies weet hoe dinge in mekaar steek. Die gevaar van die fundamentalisme blyk treffend uit die manier waarop Müller die onderskeid tussen waarheid en Jeuen; tussen goeie en vals teologie — soos vergestalt in die boek Job — uiteensit.

Hy slaag baie goed daarin om die nut en betekenis van die opstanding, as God se nuwe begin weer en weer, vir ’n relevante teologie, teologie wat ’n verskil maak, aan te toon en om dit prakties te maak. Hy slaag ook daarin om aan te toon waarom pogings om meer woorde en fyn en slim formulerings tot sober belydenisse oor die opstanding toe te voeg, verwerp moet word en help ons om die opstandingsgeloof uit te leef en nie daaroor te stry nie. Veral rondom Paasfees kan die boek die leser help om nuwe insig in die opstanding te ontwikkel en daaroor opgewonde te raak. Dis ’n móét-lees vir elke Christen!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui