‘God se nuwe begin’

Kyk ook:

*******

‘God se nuwe begin’ | Beeld

Beeld, 13 April 2006

Neels Jackson

Opstanding se nut word so misken

Glo jy aan die histories-fisieke opstanding van. Christus? Dié oënskynlik eenvoudige vraag het die afgelope jaar gelei tot heelwat spanning in die NG Kerk. Dit het ook een van die teologiedosente in die spervuur genoop om ’n boek te skryf om sy geloof in die opstanding te verwoord. Neels Jackson berig.

Prof. Julian Müller, hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria, het hom verlede jaar midde-in ’n polemiek oor Jesus Christus se opstanding uit die dood bevind.

Eers is hy tydens ’n opname van die radioprogram Oop gesprek voor ’n gehoor onverwags gekonfronteer met die vraag: “Glo jy aan die histories-fisieke opstanding van Christus?”

Kort daarna is hy (volgens sy eie opsomming van die gebeure) saam met twee kollegas as dwaalleraars gebrandmerk omdat hy volgens ’n student nie aan die “histories-fisieke” opstanding van Jesus uit die dood sou glo nie.

Vanwaar dié aandrang op ’n belydenis in die “histories-fisieke” opstanding?

’n Mens moet dit waarskynlik sien teen die agtergrond van die algemene onsekerheid van ’n oorgangsituasie in die samelewing. Dit is verskerp deur ‘n heftige godsdienstige debat oor die Nuwe Hervorming waarin sleutelkonsepte van die Christelike godsdiens bevraagteken is. In dié situasie het baie gelowiges gesoek na sekerhede.

Minstens een student, mnr. Ferdie Mulder, het uit Müller se skryfwerk afgelei Müller meen Jesus se opstanding het nie histories-letterlik en -liggaamlik plaasgevind nie, maar dat die opstanding volgens hom figuurlik, metafories en nie-letterlik verstaan kan word. Müller kom egter in opstand teen die manier waarop ’n belydenis van hom geëis is: nie in die veilige ruimte van die kerklike liturgie nie, maar “as’t ware met ’n pistool voor die kop”.

Hy maak dit in sy boek Opstanding duidelik dat hy die opstanding graag in die ekonomiese taal van die kerklike belydenisskrifte bely, maar dat hy nie te vinde is daarvoor om die misterie van die opstanding te beperk deur woorde soos “histories-fisiek” by te voeg nie.

Müller meen die manier waarop die vraag gestel is, verteenwoordig ’n teologie oor die opstanding wat hy nooit kan onderskryf nie.

Hy verwys onder meer na die “groeiende evangeliese fundamentalisme” in die Afrikaanse kerke.

Hy tref ’n vergelyking met Job se vriende wat ’n teologie van arrogante sekerheid het — ’n teologie wat presies weet hoe dinge inmekaar steek, maar wie se teologie in die Bybelboek Job afgewys word.

“As die betekenis van die opstanding en die krag van die opstanding sou staan en val om een enkele idee of konsep, soos dat dit histories-fisiek verstaan moet word, het die opstanding óns besit geword, óns stelsel waarmee ons beheer kan uitoefen.

“Dit is presies die teenoorgestelde van die ware opstandingsevangelie wat soos die opgestane Here onvoorspelbaar, onkeerbaar en onweerstaanbaar deur toegemaakte deure kom.

“Teenoor die selfversekerde en oortuigende standpunte van die vriende, staan Job met sy stamelende formulerings, maar met die onwrikbare vashou aan God.”

Een punt wat Müller duidelik maak, is dat ’n metaforiese verstaan van die opstanding van Jesus nie teenoor ’n letterlike verstaan staan nie. Dit is nie óf-óf nie, maar én-én.

Die opstanding moet nie net veraf historiese gebeure bly nie, maar moet ’n metafoor word in mense se lewens. Dit moet die wete bring dat God ook daar, te midde van tekens van dood en mislukking, nuwe hoop en ’n nuwe begin kan bring.

Müller wys daarop dat die Heidelbergse Kategismus niks sê oor die aard van die opstanding nie, maar bloot vra wat die nut daarvan vir gelowiges is.

Hy pleit ook daarvoor dat die opstanding nie vasgevang moet word in on-inspirerende dogmas nie. “Modernisties geformuleerde begrippe oor die opstanding, soos ‘histories-fisiek’ of ‘histories-liggaamlik’ wil nie ruimte laat vir die meervoudigheid van God se rykdom en genade nie. Dit wil met letterknegtery beheer uitoefen oor ander se geloof.”

Hierteenoor sê Müller die Bybelverhale laat hom glo. “Dit probeer nie antwoorde gee nie. Dit vertel net van die onbeskryflike ervarings wat mense gehad het toe die opgestane Jesus aan hulle verskyn het.”

Pleks van in korrekte formulerings, moet die opstanding neerslag vind in mense se lewens.

Aan die hand van die verhaal van die Emausgangers in Lukas 24 sê Müller ’n mens ontdek nie die opgestane Here deurdat jy presies weet hoé om in die opstanding te glo nie – ook nie deur Hom naarstiglik te soek nie. Jy ontdek Hom as jy toelaat dat die vreemdeling vir jou brood breek.

Müller sê: “Die opstandingsgeloof behels die glo in, die vind van en die ontdekking van die nuutbeginnende krag van God. Die implikasie van dié geloof is ’n ongekende blydskap en hoop. “God is die een wat uit die kokonne breek! God is die een wat nie vasgehou en vasgepen. kan word nie. God is die een vir Wie nie voorgeskryf kan word nie. God is die Vlinder wat ontsnap en wat kindertjies en grootmense onverwags kom bly maak.

“Wat ’n vergryp teen die opstanding self as mense met geleerde woorde probeer om die opstanding finaal vas te vang in geloofsformules.”

Oor die opstanding self voel Müller sterk dat dit nie iets is wat sommer so in woorde vasgevang kan word nie.

Hy vergelyk dit met ’n bal in Platland, ’n driedimensionele verskynsel in ’n tweedimensionele wêreld: “Ná sy opstanding is Jesus soos ’n bal in Platland. Hy doen die vreemdste dinge en wil net nie lekker in vakkies inpas nie.”

Aan die hand van die verhaal oor Jesus se verskyning aan Maria Magdalena by die graf vra Müller hoe dit moontlik is dat Maria, wat so’n uitsonderlike verhouding met Jesus gehad het, Hom nie herken het nie. Hy bestempel dit as ’n verhaal vol misterie.

Jesus se opstanding was heeltemal anders as dié van Lasarus. Lasarus het opgestaan met dieselfde liggaam as waarmee hy gesterf het. Hy was dadelik herkenbaar, onmiddellik weer onderworpe aan dieselfde fisiese wette en kragte as voor hy dood is, en hy was weer net so sterflik as tevore.

Lasarus se opstandingliggaam was ’n “histories-fisieke” of “histories-letterlike” een, sê Müller. Met Jesus was dit egter anders. Hy verskyn en verdwyn, hy is herkenbaar en onherkenbaar. Daarom kan daar nie in sulke eng terme oor die opgestane Jesus gepraat word nie.

“Enige poging om in sulke kategorieë oor Jesus se opstanding te praat, behels ’n ontsettende verskraling van die betekenis van die opstanding.”

Müller sê die opstanding kan slegs nut en betekenis hé as mense ontslae raak van die nutteloosheid van die sinlose pogings om die opstanding te probeer red met haarfyn, korrekte formulerings daaroor.

“Die opstanding is God se nuwe begin, weer en weer. Die oomblik dat ons dit met presiese belydenisse en formu lerings probeer beheer, is ons klaar besig om die nut of betekenis van die opstanding te misken.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui