Drie wyses dink tesame oor… evolusie

Kyk ook:

Die artikel Drie wyses dink tesame oor…evolusie het op 14 September 2014 in Rapport verskyn in reaksie op Qume Erasmus, voorsitter van die VF+ se vroue-aksie in Gauteng, wat in ’n verklaring gesê het dat ouers nie skole en handboeke sonder meer kan vertrou nie en dat Christen-ouers moet eis dat die leuen van evolusie uit skole en handboeke verwyder word (kyk Evolusie in handboeke: VF-leier vra vir balans).

Die “drie wyses” is:

1. Die teoloog: Dr. Chris Jones

Dr. Jones is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap vir die NG Kerk. Hy glo in evolusie (soos hieronder duidelik gesien kan word), is pro-homoseksualiteit, pro-saamwoon en pro-intergeloof.

2. Die wetenskaplike: Dr. Jurie van den Heever

Dr. van den Heever is ’n ateïs. Van ateïste sê die Bybel: “Die dwaas dink daar is geen God nie.” (Psalm 14:1). Dit is dus baie ironies dat hy een van die “wyses” is.

Vir meer oor Dr van den Heever, kyk Kommentaar op “Quo Vadis: ’n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA”.

3. Die filosoof: Prof. Louise du Toit

Sy is minder bekend.

—————-

Dit is interessant dat Rapport dit goedgedink het om so ’n eensydige opinie te publiseer. Hoekom hoor ons nie wat die siening van skeppingsleerders hieroor is nie, of is hulle nie wys genoeg nie? (1 Kor 1:19-21 & 1 Kor 2:5-8,13)

Hier volg die artikel met kommentaar in [bruin blokhakies] tussenin.

************

Drie wyses dink tesame oor… evolusie

2014-09-13 23:20

Genesis verhale oor oorsprong

Die teoloog:

Evolusie is nie ’n komplot wat agter toe deure uitgedink is nie.

[Hierdie is nie waar nie. Die motief van evolusie is om alles te verklaar sonder God. Kyk Darwin’s real message: have you missed it? en Aanhalings – Evolusie ’n geloof/Wetenskap nie objektief.]

Tog is baie mense teen evolusie gekant op grond van ’n bepaalde verstaan van die Bybelse skeppingsverhale.

Heelwat Christene beskou die Genesis-skeppingsverhale as historiese berigte. Gen. 1-11 behoort egter verhalend verstaan te word. Dit wil iets verwoord van die mens se soeke na wie hy is en wat sy rol in die wêreld behoort te wees.

[Nie waar nie. Kyk Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word?]

Die Bybelse boeke en literatuur is grootliks menslike pogings om die mense van daardie tyd te beskryf, hoe hulle die wêreld om hulle verstaan het en wat dit met hul geloof in God te make gehad het.

Die skeppingsverhale is nie “oorsprongverhale” nie, maar veel eerder “teologiese waarneming- of interpretasieverhale”.

Ons weet vandag dat die geskrifte in Gen. 1 en 2 waarskynlik in die tyd van die Babiloniese ballingskap ontstaan het en dat die bedoeling was om te midde van ’n hopelose situasie troos aan Israel te bring en ’n vorm van identiteit te gee.

[Hierdie siening is maar bloot om evolusie met die Bybel te versoen. So ’n siening het hoegenaamd geen meriete nie. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?]

Tog beskou baie Christene dit nie so nie en stel daarom hul letterlike verstaan van die Bybelse skeppingsverhale téénoor evolusie.

[In die bogenoemde artikel is dit baie duidelik dat evolusie nie versoenbaar is met die Bybel nie. Kyk ook Aanhalings – Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?]

Veral Afrikaanssprekendes kom uit ’n tradisie waar die kerk dikwels voorgeskryf het, ook wat evolusie betref. In 1955 sê ds. Koot Vorster, later moderator van die NG Kerk, sonder teenspraak in The Star: “Die teorie van evolusie is in direkte konflik met die lering van die Bybel en behoort nie in skoolhandboeke ingesluit te word nie”.

In Kerkbode van 27 Mei 1981 erken ds. S.J. Eloff dat benoemde professore skool- en universiteitshandboeke van tyd tot tyd ondersoek om te verseker dat daar nie standpunte ingesluit word wat “evolusionisme” ondersteun nie.

Só is baie Afrikaanssprekendes baie lank onkundig gehou oor die evolusieproses en nooit bemagtig met kritiese denkvermoëns om wetenskaplike bevindings sinvol met hul geloof- en wêreldbeskouing te integreer nie.

[Onkunde is nie die rede hoekom baie mense evolusie verwerp nie. Die rede is omdat dit bloot ’n swak teorie is. Inteendeel, baie mense het hulle evolusiestandpunt verlaat nadat hulle dit verder ondersoek het en baie het tot bekering gekom daarna – kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed.
Verder is skeppingsleerders dit eens dat evolusie nie van mense weggehou moet word nie, maar dit word aangemoedig dat mense ALLES van evolusie te leer, ook die probleme daarmee. Kyk
Education Questions and Answers en Arguments evolutionists should not use.]

Oorblyfsels hiervan kom steeds wyd voor. – Dr. Chris Jones

Kinders só deel van iets groots

Die wetenskaplike:

Om ’n spesifieke, fundamentalistiese geloofsoortuiging, wat nie teologies begrond is nie, aan skoolkinders op te dwing, is sowel immoreel as teen die Grondwet.

[Dieselfde kan van evolusie gesê word. Evolusie is niks anders as ’n geloofsoortuiging nie. Ek verwys weer na Aanhalings – Evolusie ’n geloof/Wetenskap nie objektief. Kyk ook Evolution, Creation, and the Public Schools.]

In ’n onlangse persverklaring propageer die vroueaksie van die Vryheidsfront Plus (VF+) juis dít in ’n poging om die onderrig van evolusie op skool te probeer kelder.

[Soos reeds gesê moedig meeste skeppingsleerders dit aan dat evolusie aan kinders voorgehou word, maar nie net die beweerde bewyse daarvoor nie, maar ook die bewyse daarteen.]

Die persverklaring is deurspek van blatante foute oor die aard en werking van die evolusieproses. [Kyk Hoe evolusie werk en hoekom dit nie werk nie.] ’n Persoonlike navraag het bevestig dat die berig korrek was en dat die vroueaksie wel sulke oortuigings handhaaf. Om bewese wetenskaplike teorieë met ongegronde stellings te verdoem, terwyl jy in ’n samelewing woon en werk wat deur die wetenskap in stand gehou word, spreek van ’n soort kognitiewe dissonansie.

Evolusie laat kinders nie glo hulle is niks nie. Hulle word eerder deel van ’n onmeetlike en ongelooflike kosmos. Vir die gelowige spreek dit wonderbaarlik van ’n almagtige God in beheer van sy grootse skepping, in teenstelling met die fundamentalis se klein onbeholpe godjie wat ná ’n week se verbroude pogings steeds nie lyding in die wêreld kan hokslaan nie.

[Dit is juis presies wat evolusie soms doen – dit laat kinders glo hulle en die mensdom is niks. Kyk Inside the mind of a killer, Answering life’s big questions en Morality and Ethics Questions and Answers.
Dr van den Heever glo self nie in God nie, maar nou praat hy van ’n almagtige God wat in beheer is van Sy grootse skepping. Interessant. En lyding in die wêreld kan slegs behoorlik verduidelik word deur ’n letterlike verstaan van Genesis – kyk Death and Suffering Questions and Answers.]

Teoloë wys lank reeds daarop dat die Bybel nie ’n feitelik korrekte weergawe van die ontstaan van die heelal en die ontwikkeling van lewe daarin is nie en dat sulke onderwerpe gevolglik buite die reikwydte van die Skrif lê. In dié verband verskaf die wetenskap en spesifiek die evolusionêre biologie duidelike en sinvolle antwoorde. Om dus evolusie te verwerp ten gunste van Bybelse fundamentalisme, spot in werklikheid met die Bybel.

[Dit is ’n interessante afleiding. Kyk Om geloof en wetenskap te skei.]

As Christen repudieer die leier van die VF+ heel tereg die persverklaring deur daarop te wys dat die aarde nie 6 000 jaar oud is nie. Moontlik is die interne skakeling aangaande persverklarings in die party nie na wense nie en kan dit help as die leier, soos ’n Herkules van ouds met sy vyfde taak, ’n bietjie stal skoonmaak.

[Dit is onmoontlik vir die wetenskap om die ouderdom van die aarde te bepaal. Hoekom dan nie net die Bybel glo nie? Kyk 101 bewyse vir ’n jong(er) aarde en heelal.]

dr. Jurie van den Heever

Albei kante het magsambisies

Die filosoof:

Qume Erasmus, voorsitter van die VF+ se vroueaksie, se onlangse eis “dat leuens (evolusie) uit ons skole en handboeke verwyder word” en slegs die “goeie, suiwer en akkurate feite” behou word, dui op ’n simplistiese onderskeid tussen “leuen” en “feit”. Boonop impliseer sy dat sy ’n bevoorregte (en onmoontlike) perspektief het op sake waar die onderskeid tussen “leuen” en “feit” klinkklaar verskyn: waarskynlik die lens van die Christelike fundamentalisme.

[Ten minste erken sy haar vooropgestelde idee. Dit is iets wat evolusioniste nie bereid is om te doen nie. Ek wil weer verwys na Aanhalings – Evolusie ’n geloof/Wetenskap nie objektief. Kyk ook Darwinism—a cult?]

Friedrich Nietzsche het meer as 100 jaar gelede gesê: “Alles is onderhewig aan interpretasie, en watter interpretasie op ’n gegewe tydstip van krag is, hang af van mag, nie die waarheid nie.”

[Amen! Net so interpreteer evolusioniste die feite om dit in die evolusieraamwerk te laat inpas.]

Dat Erasmus se veroordeling van die evolusieteorie minstens deels geïnspireer is deur haar vrees vir die implikasies daarvan, blyk daaruit dat sy dit “gif” noem, en bang is kinders gaan begin “glo dat hulle niks is nie – sonder enige doel… en verantwoordelikhede”. As teengif bied sy waarskynlik geloof in die Christelike God aan, wat ons met ’n doel geskape het en teenoor wie ons verantwoording moet doen. Maar geloof in God werk nie noodwendig sinloosheid teë nie en evolusie werk nie noodwendig sinloosheid in die hand nie.

[Verwys na die skakels gegee in Dr. van den Heever se skrywe. Kyk ook Philosophy Questions and Answers/morals.]

Of ons in God glo of nie, daar bly baie interpretasiewerk oor om sin van die lewe te probeer maak. Ons moet ons kinders veral leer om met onsekerheid saam te leef.

Hoewel prof. George Claassen hom nie hieraan skuldig maak nie, is daar ’n soortgelyke denkfout in sommige se verdediging van wetenskaplike teorieë soos evolusie. Dit gebeur wanneer wetenskapfilosowe (meer as wetenskaplikes self) voorgee húl lens gee hulle ’n perspektief waarin die onderskeid tussen leuen en feit klaarblyklik is, en dat wetenskaplike uitsprake absolute kennis verteenwoordig.

Wanneer dit gebeur, raak wetenskap inderdaad ’n metafisika met magsambisies van sy eie.

[Absoluut!! Wat is dan die probleem om evolusie te bevraagteken?]

Egte geloof het myns insiens min uit te waai met enige van hierdie twee selfverabsoluterende posisies. – Prof. Louise du Toit

*************

Kommentaar

Die volgende kommentaar is ontvang oor hierdie artikel:

Jan Louw – 2014-09-03

Ek sou nie wil praat van drie wyses nie, maar van drie geleerdes. Geleerdheid en wysheid val nie altyd saam nie.

Die teoloog Chris Jones sê Genesis 1-11 is nie historiese berigte nie. Dit sou volgens hom (en baie ander geleerdes) in die ballingskapstyd (500 vC) ontstaan het. Die bedoeling met die verhale was om Israel in die ballingskapstydte troos en vir hulle ’n vorm van identiteit te gee. Die implikasie van sulke denke oor Genesis is dat die gerespekteerde priester Esra bv deel was van ’n onheilige komplot wat verhale oor God gefabriseer het. Hierdie priesters het die verhale so vindingryk opgestel dat die volk en selfs Jesus gedink het dat dit geskiedenis was. Selfs die geleerde Lukas is later so deur hierdie ballingskapstories mislei dat hy gedink het dat die mense in die geslagsregisters van Genesis 5 werklike mense was. Lukas het selfs so ver gegaan om daardie mense in Jesus se geslagsregisterin te sluit (Luk 3:23)!

Mense wat so vindingryk oor die Bybel praat kan dalk in die oë van die mense baie geleerd voorkom, maar dit het niks met wysheid te doen soos God dit bedoel het nie.

Die wetenskaplike Jurie van Heerden, meen die evolusionêre biologie gee duidelike en sinvolle antwoorde oor die ontwikkeling van lewe in die heelal. Ons weet almal dat die evolusionêre biologie gegrond is op die gedagte dat lewe spontaan ontstaan het, dat die miljoene spesies self hulle ingewikkelde genetiese inligting vermeerder en gedupliseer het, dat manlikheid en vroulikheid spontaan deel van die biologiese werklikheid geword het, ens.

Sulke vindingrykheid is indrukwekkend en is dalk ’n teken van geleerdheid, maar dit druis in teen die gesonde verstand van die eenvoudigste onder ons en is niks anders as dwaasheid nie.

Die filosoof Louise du Toit, is ook een van die “wyses” wat aan die woord gekom het. Sy het ook kritiek teen Qume Erasmus wat besorg is ook die bevordering van die evolusieleer in die skole. Filosofie gaan oor liefde vir die wysheid. Elke filosoof het ’n lens waardeur hy na die werklikheid kyk. ’n Verkeerde lens kan veroorsaak dat ’n filosoof dwaasheid vir wysheid aansien. Die Bybel help ons met die regte lens as ons lees in Ps 111:10: “Wysheid begin met die dien (vrees) van die Here; almal wat dit doen, het ware insig.”

Ek het ’n idee dat Qume Erasmus van die VF+ ten minste met die regte lens werk as sy die evolusieteorie veroordeel en dat Louise du Toit, Qume se standpunt verkeerdelik aan Christelike fundamentalisme toedig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui