Op watter dag is Jesus gebore?

Daar bestaan verskillende hipoteses oor Jesus se geboortedatum:

Heidense oorsprong

In 274 nC het Romeinse keiser Aurelianus ‘n fees aangekondig vir die songod Sol Invictus.[1] Sy bedoeling daarmee was om aan al die volke van die Ryk, burgerlikes of soldate, oosterlinge of westerlinge, ‘n enkele god te gee waarin hulle kon glo sonder om hul eie gode te verraai.[2]

Die kerk het kersfees saam met hierdie fees gevier en daardeur vir mense ‘n Christelike alternatief vir die heidense feeste gebied en uiteindelik baie van hul simbole en handelinge herinterpreteer op maniere wat aanvaarbaar is vir Christelike geloof en praktyk.

Hippolitus

In 202 nC skryf Teenpous Hippolitus van Rome (170 tot 235 nC) in sy kommentaar op Daniël die volgende:

Vir die eerste koms van ons Here in die vlees, toe hy in Bethlehem gebore is, agt dae voor die kalenders van Januarie [25 Desember], die 4de dag van die week [Woensdag], terwyl Augustus in sy twee en veertigste jaar was, [2 of 3 vC] maar vanaf Adam vyf duisend vyf honderd jaar. Hy het gely in sy drie en derdigste jaar, 8 dae voor die kalenders van April [25 Maart], die Dag van Voorbereiding, die vyftiende jaar van Keiser Tiberius [29 of 30 nC], terwyl Rufus en Roubellion en Keiser Gaius, vir die 4de keer, en Gaius Cestius Saturninus, konsuls was[3]

Integrale jaar

Die “integrale jaar” is ‘n buite-Bybelse Joodse tradisie wat beteken dat ‘n profeet se lewensduur ‘n presiese aantal jare sou wees. Oorspronklik is gesê dat die sterfdag ‘n herdenking van sy verjaardag was, en die Talmoed pas dit toe op Moses en Abraham. Maar die vroeë Christene het dit gewysig dat hy sou sterf op ‘n herdenking van sy verwekking (bevrugting), die werklike begin van sy lewe. Jesus se dood is bereken as 25 Maart deur die Westerse kerk, en 6 April deur die Oosterse Kerk. Die teenstrydigheid is waarskynlik te wyte aan probleme om van die Joodse maankalender na Juliaanse en Gregoriaanse kalender te gaan. Daarom is hierdie selfde datum gevier as die datum waarop Christus verwek is, en genoem Aankondigingsdag. Nege maande later is 25 Desember of 6 Januarie, en laasgenoemde datum word steeds in die Oosters-Ortodokse kerk gevier (en baie takke van die Westerse kerk vier ‘Epifanie’ op dieselfde dag, nou om die aankoms van die onbekende aantal wyse manne te herdenk en hul drie geskenke). Die heidense afleidingsteorie kan nie verduidelik hoekom die Oostelike helfte van die vroeë kerk 6 Januarie gekies het wanneer geen heidense fees op daardie dag val nie. Maar die integrale jaar verduidelik beide datums.

Keiser Augustus se sensusopdrag

In Luk 2:1-7 lees ons van die belastingsensus wat deur keiser Augustus beveel is. Hierdie sensusrekords is uiteindelik na Rome geneem en Cyril van Jerusalem (348-386 n.C.) het versoek dat die ware datum vir Jesus se geboorte van hierdie sensusdokumente geneem word. Volgens hierdie dokumente was die datum 25 Desember. Ongelukkig is hierdie rekords nie langer beskikbaar nie.

Priesterdiens

Pogings om te probeer vasstel wat die presiese datum is, val binne twee kategorieë – twee denkskole. Beide metodes maak staat op die telling volgens die ‘groep van Abia’. ’n ‘Groep’ was dié priesters wat ’n spesifieke tyd in die tempel diens gedoen het.Die eerste metode begin met Luk 1:5,8 waar ons lees dat Sagaria, vader van Johannes die Doper, in die ‘groep van Abia’ in die tempel diens gedoen het. 1 Kron 24:7-19 dui aan dat daar 24 sulke groepe was. Die aanname is nou dat die agtste ‘groep’ die ‘groep van Abia’ was en dat dié dienstydperk vroeg in Junie begin het.

Deur te aanvaar dat hierdie slotsom akkuraat is, glo sommige dat ons net vorentoe kan tel en die presiese datum van Johannes se geboorte kan vasstel en dan, deur ’n aftreksom te doen (Jesus is ses maande na Johannes gebore – Luk 1:24-36), Jesus se geboortedatum vasstel.

Geboorte en herfsfeeste val saam

As daar dus aanvaar word dat Elizabeth dadelik swanger geword het en dat Elizabeth sowel as Maria se swangerskappe normaal verloop het, sou Johannes in Maart gebore gewees het – nege maande na bevrugting. Volgens hierdie berekening, kon Jesus moontlik in September gebore gewees het. Vir sommige is die feit dat die herfsfeeste van die Ou Testament juis in hierdie tyd gevier word, ’n aanduiding dat hierdie berekenings korrek is.

Berekenings gemaak

Indien hierdie berekenings reg is, het die bevrugting van Maria deur die Heilige Gees (Luk 1:35) in Desember plaasgevind. Die tweede metode om Jesus se geboortedatum vas te stel, tel agteruit eerder as vooruit. Toe die tempel in 70 n.C. vernietig is, was dit tydens ‘die groep van Jojarib’ se diens.

Indien die priesterlike diens ononderbroke van Sagaria se tyd tot en met die vernietiging van die tempel was, sou die ‘groep van Abia’ tydens die eerste week van Oktober wees.

Twee datums moontlik

Sommige van die vroeë Christen-skrywers (John Chrysostom, 347 – 407) was van me¬ning dat Sagaria die boodskap van Johannes se geboorte op die Groot Versoendag ontvang het en dit was in September of Oktober. Dit sou dan meebring dat Johannes die Doper in Junie of Julie gebore is en Jesus ses maande later – in laat Desember of vroeg in Januarie. Sommige voorstaanders van hierdie tweede metode glo dat 25 Desember die akkurate dag van Jesus se geboorte is terwyl ander glo dis op 6 Januarie.[4]

Was 25 Desember te koud?

Sommiges beweer dat laat Desember te koud is vir herders om in ope velde te wees. Dit is egter nie waar nie. In Betlehem is Desember een van die drie natste maande in die jaar met die gevolg dat die gras welig is ná die droë somer. En dit is nie so koud nie. ’n “Wit Kersfees” in Bethlehem is skaars. Trouens, meeste Desembers is nooit onder vriespunt nie. Jakob het sy oom Laban se kuddes in die buitelug opgepas in Paddan-Aran wat baie verder noord was, dus kouer met selfs ysige nagte (Genesis 31:38-40; Die Hebreeus woord vir “koue” in vers 40, “qerach” = ys, ryp [H7140]). Herders in die Ou Nabye Ooste was dus geharder as wat moderne kritici dink.

Gevolgtrekking

Jesus se geboortedag kan met geen sekerheid bepaal word nie.

Verder is daar nie eers sekerheid oor die jaar waarin Jesus gebore is nie.

Tydens kersfees op 25 Desember vier ons egter Jesus se geboorte, nie Sy geboortedag nie. Daarom is dit nie belangrik vir ons om te weet op watter dag Hy gebore is nie.

Bronne

Voetnotas

[1] Kyk:

[2] Kyk Aurelian (Wikipedia).

[3] Hier volg die aanhaling in Engels:

For the first advent of our Lord in the flesh, when he was born in Bethlehem, eight days before the kalends of January [December 25th], the 4th day of the week [Wednesday], while Augustus was in his forty-second year, [2 or 3 BC] but from Adam five thousand and five hundred years. He suffered in the thirty third year, 8 days before the kalends of April [March 25th], the Day of Preparation, the fifteenth year of Tiberius Caesar [29 or 30 AD], while Rufus and Roubellion and Gaius Caesar, for the 4th time, and Gaius Cestius Saturninus were consuls.

[4] Kyk How to Calculate When Jesus Was Born (Youtube, 6 Desember 2018)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui