Moet Christene kersfees en paasfees vier?

Vir jare lank vier Christene kersfees, wat die geboorte van Jesus herdenk. Dit een van die twee belangrikste gebeure op die Christelike kalender. (Die ander belangrike gebeurtenis is natuurlik Jesus se kruisdood en opstanding wat as deel van paasfees gevier word.)

Daar is egter Christene wat hulle van kersfees distansieer oor verskillende redes.

In hierdie artikel word gekyk na hierdie redes.

Dit is nie ‘n Bybelse opdrag nie

‘n Mens moet onderskei tussen buite-Bybelse dinge en teen-Bybelse of on-Bybelse dinge.

Teen-Bybelse of on-Bybelse dinge is alles wat in stryd is met wat die Bybel leer. Dit sluit alle sonde in soos afgodediens, moord, egbreek, diefstal, leuens, begeer, die bevraagtekening van die drie-eenheid, maagdelike verwekking, Jesus se liggaamlike opstanding, ens.

Buite-Bybelse dinge is alles wat nie teenstrydig met die Bybel is nie, maar waaroor die Bybel nie ‘n opinie het of ‘n opdrag gee nie. Dit is byvoorbeeld die gebruik van rekenaars en motors. Dit sluit ook sekere Christelike gebruike in soos pinkster, kersfees, paasfees, gemeente-etes, basaars, koffie en tee na die diens, verskillende denominasies, ensovoorts.

Feeste in die algemeen is hoegenaamd nie on-Bybels nie; trouens, God het ten minste agt feeste in die Ou Testament ingestel wat vir die volk as opbouing moes dien en hulle verhouding met God moes versterk. Vandag vier Christene nie meer hierdie Ou Testamentiese feeste nie. Om hierdie Ou Testamentiese feeste met kersfees (en paasfees) te vervang, maak eintlik baie logies sin.

Heidense oorsprong?

Sommiges wil redeneer dat kersfees teenstrydig met die Bybel is omdat dit ‘n heidense oorsprong het.

Selfs al is dit waar, is hierdie redenasie ‘n genetiese denkfout: die fout om iets verkeerd te bewys deur dit na sy oorsprong terug te trek. Byvoorbeeld, Friedrich August Kekulé se inspirasie om die regte chemiese struktuur vir benseen uit te dink was ’n droom wat hy gehad het oor ’n slang wat sy eie stert vasbyt. Hierdie kan nie as argument dien dat die huidige siening van die struktuur van ‘n benseenring nie geldig is nie.

Verder, veronderstel dat Christene een of ander Christelike fees of biddag begin op dieselfde dag as Halloween in teenreaksie daarop. En veronderstel dat hierdie Christelike fees of biddag só uitbrei dat Halloween kleiner en kleiner word en die Christelike fees groter en groter. 500 jaar later bestaan Halloween nie meer nie, maar die Christelike fees word baie sterk ondersteun. Nou is daar ʼn groep Christene wat gekant is teen die Christelike fees omdat hierdie fees heidense wortels het. Die vraag is: Het hierdie Christelike fees werklik heidense wortels? Is dit sinvol om hierdie Christelike fees af te skaf oor hierdie rede? Ek dink nie so nie.

Dit is ook nie noodwendig ‘n uitgemaakte saak dat kersfees werklik ‘n heidense oorsprong het nie.

Sommige liberale teoloë beweer dat die 25 Desember-datum verkry is van Mitraïstiese misterieë. Dit is egter nie korrek nie.

In 274 nC het Romeinse keiser Aurelianus die posisie van die songod, Sol Invictus (of die “Onoorwonne Son”), versterk deur die fees Dies Natalis Solis Invicti (“verjaarsdag van die Onoorwonne Son”) op 25 Desember, die datum van die wintersonstilstand in die Romeinse kalender, in te stel.{1} Sy bedoeling daarmee was om aan al die volke van die Ryk, burgerlikes of soldate, oosterlinge of westerlinge, ‘n enkele god te gee waarin hulle kon glo sonder om hul eie gode te verraai.

Reeds vóór Aurelianus hierdie feesdag vir die songod ingestel het in 274 nC, het Christene egter al geglo dat Jesus op 25 Desember gebore is: In 202 nC skryf Teenpous Hippolitus van Rome (170 tot 235 nC) in sy kommentaar op Daniël die volgende:

Vir die eerste koms van ons Here in die vlees, toe hy in Bethlehem gebore is, agt dae voor die kalenders van Januarie [25 Desember], die 4de dag van die week [Woensdag], terwyl Augustus in sy twee en veertigste jaar was, [2 of 3 vC] maar vanaf Adam vyf duisend vyf honderd jaar. Hy het gely in sy drie en derdigste jaar, 8 dae voor die kalenders van April [25 Maart], die Dag van Voorbereiding, die vyftiende jaar van Keiser Tiberius [29 of 30 nC], terwyl Rufus en Roubellion en Keiser Gaius, vir die 4de keer, en Gaius Cestius Saturninus konsuls was.{2}

Waar kom 25 Desember vandaan?

Nog ‘n argument teen kersfees is dat soos volg: Kersfees word op 25 Desember gevier omdat Konstantyn (keiser van Rome in 306–337 nC) probeer het om ‘n heidense vakansiedag te verchristelik in die hoop om die Christendom meer aanneemlik vir die Romeine te maak. Hy het die datum van die Fees van die Onoorwonne Son, 25 Desember, vasgestel om die geboorte van Jesus te vier. Dus is Kersdag net ‘n kopie van ‘n heidense vakansiedag.

Dit is absoluut so dat Jesus se werklike geboortedag nie bekend is nie (kyk Jesus gebore in die winter? (Chris van Wyk)).

Daar is egter sommiges wat beweer dat Jesus op 25 Maart verwek is en dus nege maade later, in Desember, gebore is.{3}

Desember te koud?

Sommiges beweer dat laat Desember te koud is vir herders om in ope velde te wees. Dit is egter nie waar nie. In Betlehem is Desember een van die drie natste maande in die jaar met die gevolg dat die gras welig is ná die droë somer. En dit is nie so koud nie. ’n “Wit Kersfees” in Bethlehem is skaars. Trouens, meeste Desembers is nooit onder vriespunt nie. Jakob het sy oom Laban se kuddes in die buitelug opgepas in Paddan-Aran wat baie verder noord was, dus kouer met selfs ysige nagte (Genesis 31:38-40; Die Hebreeus woord vir “koue” in vers 40, “qerach” = ys, ryp [H7140]). Herders in die Ou Nabye Ooste was dus geharder as wat moderne kritici dink.

As 25 Desember egter problematies is, sou kersfees skeptici meer gemaklik wees om Jesus se geboorte op ‘n ander dag te vier?

Kersfees is gekommersialiseerd

Dit is absoluut so dat die kommersiële wêreld baie voordeel uit kersfees kry en dat hulle dit tot ‘n mate gekaap het, maar dit is nie ‘n goeie rede vir Christene om daarvan weg te stap nie.

Daar is baie vals en skynheilige Christene in die wêreld, maar dit beteken nie dat ons die Christelike geloof moet verlaat nie.

Belangriker dinge

ʼn Mens moet maar jou gevegte kies. Ek dink dit ʼn verlore stryd om teen kersfees te veg. Besighede sal nooit kersfees afskaf nie, want dit is finansieël te voordelig. As Christene moet ons eerder hierdie geleentheid aangryp en vir mense herinner aan die ware betekenis van kersfees. Daar is baie belangriker gevegte wat ʼn mens eerder moet veg, bv postmodernisme en evolusie. Hierdie twee sake het ʼn wesenlike invloed op die Evangelie van God (kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed).

Maak ruimte

Vandag is daar baie Christene wat tydens kersfees en paasfees werklik van die geleentheid gebruik maak om eer aan die Here te bring (terwyl die Christene wat daarteen gekant is, langs die strand lê of gras sny by die huis). Dit is vir my bitter moeilik om te glo dat God eerder kies dat ons niks doen nie as wat ons van die geleentheid gebruik maak om Hom eer te bring. As ons dit met opregte motiewe doen, gaan God nie eendag sê: “Jy kan maar hemel toe kom, maar dit is darem jammer dat jy kersfees en paasfees gevier het. Ek sal jou egter vergewe omdat jy dit opreg gedoen het bloot omdat jy nie van beter geweet het nie.”

Romeine 14:5-6 is waarskynlik van toepassing op hierdie kwessie:

(5)Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ʼn ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. (6)Die een wat ʼn bepaalde dag op ʼn besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.

‘n Geleentheid

Daar is ’n baie beter alternatief as om jouself te distansieer van kersfees en paasfees:

Alle Christene weet dat ons nie halloween moet vier nie (daar is baie artikels daaroor). Dit is daarom dat ware Christene hulleself totaal distansieer van halloween. Living Waters het egter ’n geleentheid gesien om die Evangelie uit te brei tydens Halloween: wanneer kinders aan hulle deure klop, jaag hulle nie die kinders weg nie, maar is hulle voorbereid op hulle koms. Dan gee hulle die kinders allerhande dinge wat hulle aan die Evangelie laat herinner (kyk hier en hier).

Efesiërs 5:16 sê: Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.

Dit is veel meer sinvol vir mense om die ware betekenis van kersfees en paasfees onder mense se aandag te bring en te vier as om jouself daarteen te distansieer.

My ervaring is in elkgeval dat my ware Christen vriende hierdie feeste tot eer van God vier.

Verdere bronne

Vir meer bronne oor hierdie onderwerp, kyk:

*******

The War on Christmas from Open Doors USA on Vimeo.

Voetnotas

{1} Kyk:

{2} Hier volg die aanhaling in Engels:

For the first advent of our Lord in the flesh, when he was born in Bethlehem, eight days before the kalends of January [December 25th], the 4th day of the week [Wednesday], while Augustus was in his forty-second year, [2 or 3 BC] but from Adam five thousand and five hundred years. He suffered in the thirty third year, 8 days before the kalends of April [March 25th], the Day of Preparation, the fifteenth year of Tiberius Caesar [29 or 30 AD], while Rufus and Roubellion and Gaius Caesar, for the 4th time, and Gaius Cestius Saturninus were consuls.

{3} Vir meer oor waar die datum van 25 Desember moontlik vandaan kom, kyk:

2 thoughts on “Moet Christene kersfees en paasfees vier?”

  1. Dankie Daniel. Ek dink HOE dit gevier word, is bepalend van wat die Feeste vir ons as Christene beteken. Ek het vanoggend in ’n Youversion- weergawe weer die Boek Ester deurgeluister, die ontstaan van die Purimfees wat die Jode steeds vier en hoe hulle lekker eetgoed en geskenke uitgedeel het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui