Noord-Kaap sê waarom nee vir Belhar

Kyk ook:

Die volgende het verskyn in die Noord-Kaaplandse sinode se nuusbrief “Noord-Kaapland eNuus”, Jaargang 7, Uitgawe 9, 12 Maart 2015. Dit sê waarom die Noord-Kaapse sinode nee gestem het vir die voorgestelde wysiging van Artikel 1 om die Belydenis van Belhar as opsioneel te aanvaar.

*********

HERDERLIKE BRIEF – SINODESITTING NED. GEREF. KERK IN NOORDKAAPLAND – MAART 2015

Broers en susters in die Here – ons groet julle in die Naam ons Here en Hoof, Jesus Christus!

Tydens laasjaar se sinodesitting is besluit om op 9 en 10 Maart vanjaar ’n buitengewone sitting te hou, om die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van ons Kerkorde te bespreek en daaroor te stem. Ons berig dan nou oor hierdie twee dae se verrigtinge.

Ons was bevoorreg om te kon luister na ons broers en susters van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika Phororo, die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika Phororo, en die Reformed Church in Africa Pearl. Hulle het met ons kom gesels oor hulle kennis, insig en oortuigings oor die proses van kerkhereniging in die NG kerkfamilie. Ons gemeentes se afgevaardigdes het deur tafelgesprekke met mekaar gesels oor wat ons gehoor het, hoe ons daaroor voel, en watter vrae ons wou stel aan hierdie kerkafvaardigings. Die drie kerkafvaardigings het daarna op van hierdie vrae deur die afgevaardigdes gereageer.

Die vergadering het Maandagmiddag besluit om tot stemming oor te gaan, en dan die oorblywende tyd te wy aan ’n bespreking van die pad vorentoe, en die visie vir die Kerk. Die vraag waaroor gestem is, was: “Verleen u as afgevaardigde na die vergadering van die Sinode u instemming met die voorstel van die Algemene Sinode vir die wysiging van Artikel 1”. 57 afgevaardigdes het op hierdie vraag JA geantwoord (33,9%), en 111 het NEE geantwoord (66,1%).

Die vergadering het – aan die hand van verskeie voorstelle – gesels oor die pad vorentoe, en ons visie vir die Kerk. Hierdie voorstelle het aangesluit by die vergadering se bespreking van, onder andere, die Belharbelydenis, en die vergadering se verwerping van die voorgestelde wysiging van Artikel 1. Die sinode aanvaar en respekteer die Belydenis van Belhar as ’n volwaardige belydenisskrif van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.

Elke kerkraad van die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland is versoek om – met die betrokkenheid van die gemeente en aan die hand van die Skrif en die Drie Formuliere van Enigheid – die Belharbelydenis te evalueer. Die Taakspan vir Leer en Aktuele sake is opdrag gegee om die Belydenis van Belhar leerstellig en eksegeties te toets en veral aandag te gee aan dié Belydenis se Skrifgebruik, die moontlikheid van verskillende interpretasies daarvan, die moontlike invloed van die sogenaamde Bevrydingsteologie(ë), voldoening aan die vereistes vir ’n belydenisskrif, met volledige verslag aan die volgende gewone vergadering van die sinode.

Die sinode het – sonder om hom uit te spreek oor die aard of die inhoud van die Belharbelydenis – die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde, onder andere, om die volgende redes nie goedgekeur nie:

  1. Die voorgestelde kompromisvoorstel poog om mense tevrede te stel eerder as om aan die Skrif getrou te wil wees.
  2. Die voorgestelde wysiging voer leervryheid in die Kerk se orde in, in stryd met die Skrif en die Drie Formuliere van Enigheid, omdat dit die keuse laat om ’n belydenisskrif te aanvaar of nie te aanvaar nie. Die implikasie is dat dit dan ook noodwendigerwys van die ander belydenisskrifte móét geld en/of dat nog belydenisskrifte – volgens die begeerte van lidmate – tot die belydenisgrondslag van die kerk toegevoeg kan/mag/moet word.
  3. Daarby stel dit die kerk op die sogenaamde quatenus-standpunt, in plaas van die gereformeerde quia-standpunt. Eersgenoemde is meermale in die geskiedenis baie sterk deur die kerk afgewys. Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland aanvaar die belydenisskrifte omdat dit in ooreenstemming is met die Skrif, nie insoverre of indien dit (volgens die oordeel/willekeur van lidmate) in ooreenstemming met die Skrif is nie.
  4. Die voorgestelde wysiging is in stryd met die Ned. Geref. Kerk se belydenisgrondslag en die Skrif.

Oor die pad vorentoe het die sinode soos volg besluit:

1. Die sinode spreek dit as sy oorwoë mening uit dat die Ned. Geref. Sendingkerk met die aanvaarding van die Belharbelydenis in September 1986 en die stigting/vorming van die VGKSA op 14 April 1994 homself ontwortel en losgemaak het van die familie van Ned Geref. Kerke omdat dit ’n nuwe, ander kerk geword het met ’n ander belydenisgrondslag as die tradisionele familie van Ned. Geref. Kerke, wat dieselfde belydenisgrondslag het. 2. Daarom oordeel die sinode dat nie gepraat en onderhandel behoort te word oor moontlike kerkhereniging nie, maar oor kerkvereniging en dat die twee selfstandige kerke in die Noord-Kaap en in die RSA op dié basis met mekaar in gesprek behoort te tree en saam met mekaar behoort te werk as nabye familie, met liefdevolle wedersydse erkenning en respek vir en van mekaar se belydenisgrondslae, selfstandigheid en onafhanklikheid.

Daarbenewens

1. Die sinode herbevestig dat die band met die lede van die NG Kerk familie onvervreembaar vasstaan. 2. Die sinode speek sy dank uit teenoor die familiekerk se verteenwoordigers wat die onderlinge band tussen ons kerk opnuut bekragtig het. 3. Die sinode besluit om die familiekerke te versoek om saam ’n pad te loop waardeur gesamentlik ’n nuwe rigting ontsluit word om uitdrukking aan ons verbondenheid te gee. 4. Die sinode benadruk dat so ’n gesamentlike pad geskied met die behoud van die identiteite van die saamwerkende kerke. 5. Die sinode onderstreep dat die familiekerke deur 6 belydenisskrifte reeds ’n gemeenskaplike platform het om só ’n toekomstige pad te begelei. 6. Die sinode wys daarop dat hierdie nie noodwendig ’n eindpunt vorm nie, maar ons help om ons droom vir groter eenheid te verwesenlik. Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland verbind haar tot kerkhereniging en kerkvereniging. Gemeentes word aangemoedig om op allerlei maniere eenheid te soek en by gemeentes te gaan kersopsteek waar die proses reeds aan die gang is en die sinodale kerkordekommissie en die sinodale kommissie vir diens en getuienis te bedien met die nodige inligting. Die vergadering het, ten slotte, om die tafels saam gebid vir ons land, veral vir die landbousektor – wat tans rampdroogtes moet hanteer – asook ons land se ekonomies- en politieke uitdagings. Geliefdes, ons is op pad, omdat ons Here altyd op pad is met ons na horisonne van kerkwees en Christen-wees. Ons word opgeroep om die Here – in die woorde van Deuteronomium 6 – te vrees, sy gebooie te bewaar en Hom lief te hê met alles in ons… dat dit met ons goed kan gaan (Deut. 6:3). Ons glo Hy sal voorsien in alle opsigte – ons is in sy hand. Jesus is die Here!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui