NG Kerk allesbehalwe apaties teenoor gays – Niemandt

Kyk ook:

Die volgende is van Kerkbode aanlyn gekopieer.

************

NG Kerk allesbehalwe apaties teenoor gays – Niemandt

2012-01-18

PRETORIA. – Die NG Kerk staan allesbehalwe apaties teenoor die gay gemeenskap en werk hard daaraan om diskriminasie teenoor al God se kinders teen te staan.

Dié versekering is deur die moderator van die NG Kerk se jongste Algemene Sinode, prof Nelus Niemandt, aan Kerkbode gegee. Dit volg op die NG Kuratorium op Stellenbosch se weiering einde verlede jaar dat ’n gay student gelegitimeer word omdat sy in ’n vaste verhouding met iemand van dieselfde geslag is.

Prof Niemandt het gesê dit is vir hom ’n baie ernstige saak en dat hy simpatie met die student, me Lulani Vermeulen, het. “Ek probeer my indink in die moeilike situasie waarin sy haar bevind. Ek is veral dankbaar oor haar eerlikheid teenoor die Kuratorium.”

Prof Niemandt sê hy is ook oortuig dat die Kuratorium die saak nie op ’n hardvogtige wyse hanteer het nie en slegs uitvoering gegee het aan die besluite van die Algemene Sinode. Hy sê dit is goed dat daar nou ’n oop gesprek tussen die Kuratorium en die Dosenteraad oor die saak is.

Prof Louis Jonker, lid van die NG Kerk se Dosenteraad op Stellenbosch, skryf elders in hierdie uitgawe (bl 12) dat die Dosenteraad die afgelope jare herhaalde versoeke aan die Kuratorium se dagbestuur gerig het om saam te werk aan voorstelle vir verdere gesprek by die Algemene Sinode in 2011, maar dat dit op niks uitgeloop het nie. Tydens die jongste kuratoriumvergadering het die Kuratorium hulle egter wel tot verdere gesprek verbind.

Prof Niemandt voorsien dat daar in die toekoms weer nuut gedink sal moet word oor bewoordings soos “selibate lewenstyl” omdat dit vatbaar is vir misverstand. “Daar sal dalk ook verder besin moet word oor wat die sinode bedoel met: ‘Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.’”

Prof Niemand het ook gesê die NG Kerk se standpunt oor homoseksualiteit is aansienlik “sagter” en verteenwoordig ’n meer inklusiewe standpunt as dié van baie ander kerke oor die wêreld heen. “Die verskuiwing was moontlik omdat die saak met ’n groot mate van geduld en wedersydse respek hanteer is. Dié soort benadering kan ons sekerlik ook in die toekoms help.”

Prof Niemandt sê soos baie ander kerke moet die NG Kerk nog nadink oor dié saak. Hy het lidmate se voorbidding en volgehoue Bybelstudie gevra.

jean@tydskrifte.co.za

Hier is prof Niemandt se volledige kommentaar aan Kerkbode:

Ek het regtig simpatie met Lulani en probeer my indink in die moeilike situasie waarin sy haar bevind. Ek is veral dankbaar oor haar eerlikheid teenoor die kuratorium van Stellenbosch.@ Ek het gehoor van die legitimasieplegtigheid en dink die wyse waarop sy dit hanteer het, getuig van ’n ruim gees.@ Ek is ook oortuig dat die kuratorium die saak nie op ’n hardvogtige wyse hanteer het nie en uitvoering gegee het aan die besluite van die Algemene Sinode. Dit is goed dat daar ’n oop gesprek tussen die kuratorium en die dosentekorps oor die saak is. Wanneer ons lank en geduldig saampraat groei oplossings. Die besluit van die Algemene Sinode in 2007 moet natuurlik ook verstaan word in die lig van die skerp meningsverskil wat daar oor die saak in die NG Kerk was. Dit is deel van die hele besluit wat vordering rondom die saak moontlik gemaak het en op ’n manier beide die groeperinge in die Algemene Sinode se goedkeuring weggedra het. Persoonlik dink ek dat die bewoording “selibaat lewenstyl beoefen” vatbaar is vir misverstand. Die formulering sal sekerlik in die toekoms weer hersien kan word – dalk sal daar ook verder besin word oor wat die sinode bedoel met:@@”Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.”@@@ Soos baie kerke oor die hele wêreld moet ons nog nadink oor hierdie saak en lidmate se voorbidding en volgehoue Bybelstudie vra.@ Indien mens na die NG Kerk se standpunt oor die saak kyk in die lig van die breë Christendom oor die wêreld heen, is dit ’n duidelik dat die NG Kerk se standpunt teenoor gays radikaal verskil van baie ander kerke en ’n “sagter” en meer inklusiewe standpunt verteenwoordig. Die verskuiwing was moontlik omdat die saak met ’n groot mate van geduld en wedersydse respek hanteer is. Die soort benadering kan ons sekerlik ook in die toekoms help. Ten slotte – ek wil dit duidelik stel dat die NG Kerk allesbehalwe apaties teenoor die gay gemeenskap staan. Ons het al tydens ’n vorige sinode verskoning aangebied vir die marginalisering van gay gelowiges en werk hard daaraan om diskriminasie teenoor al God se kinders teen te staan. Vir my persoonlik is dit ook ’n baie ernstige saak.

Kommentaar

Die volgende paragraaf is baie interessant (indien die beriggewing akkuraat is):

Prof Niemandt voorsien dat daar in die toekoms weer nuut gedink sal moet word oor bewoordings soos “selibate lewenstyl” omdat dit vatbaar is vir misverstand. “Daar sal dalk ook verder besin moet word oor wat die sinode bedoel met: ‘Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.’”

Dit is baie duidelik wat “selibate lewensstyl” beteken. Daar hoef glad nie misverstande te wees nie. Dit is duidelik dat Lulani Vermeulen van die begin af besluit het dat sy moeilikheid gaan maak.

Met die volgende sin probeer Nelus duidelik die 2007 besluit anders te interpreteer. Dit is egter ongelukkig so dat die 2007 glad nie baie duidelik is nie (kyk 2007 NGK homoseksuele besluit).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui