NG Kerk ‘nie in doodloopstraat’: Belhar-belydenis ‘nodiger as brood’

Kyk ook:

NG Kerk ‘nie in doodloopstraat’: Belhar-belydenis ‘nodiger as brood’

Anika Marais

Donderdag 05 Maart 2015 03:00

Dr. Braam Hanekom, moderator van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaapland.

Die moderamen van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaapland het Woensdag vir ’n laaste keer hul gewig agter die Belydenis van Belhar ingegooi.

Nadat die sinode van Namibië onlangs nie ’n tweederde-meerderheid vir die wysiging van artikel 1 van die Kerkorde kon bekom nie, het die leiers van die sinode van die Wes- en Suid-Kaapland egter ’n duidelike boodskap aan hul lidmate gestuur: Ons is nie in ’n doodloopstraat nie.

“Ons herbevestig ons diepe oortuiging oor die Belydenis van Belhar,” het ds. Nelis Janse van Rensburg, ondervoorsitter van die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaapland, op die vergadering in die NG kerk Stellenberg in Bellville gesê.

“Niks is afgehandel as die voorgestelde wysiging van artikel 1 nie aanvaar word nie. Die feit is dat daar gelowiges in die kerk is wat baie sterk daaroor voel dat die Belydenis van Belhar ’n belydenisskrif moet word. Die debat móét voortgaan.

“Ons sal moet kyk na verskillende moontlikhede om almal te akkommodeer en steeds eenheid in die kerk ten alle koste beskerm.”

’n Voorstel wat deur die moderamen aanvaar is en in Mei aan dié streek se sinode voorgelê gaan word, beveel aan dat indien die wysiging van artikel 1 nie aanvaar word nie, daar in die toekoms ruimte vir lidmate en kerkrade geskep moet word wat baie sterk oor die Belydenis van Belhar voel.

Die Namibiese sinode het egter einde Februarie die vereiste tweederde-meerderheid met ’n skamele sewe stemme gemis.

Om die wysiging op die algemene sinode in Oktober goed te keur, moet al tien sinodes en alle kerkrade landwyd met ’n tweederdemeerderheid ten gunste van die wysiging stem.

Die wysiging van die artikel sluit onder meer in dat elke lidmaat self kan besluit of hy/sy die Belydenis van Belhar wil aanvaar.

Die stemproses in die ander sinodes van die NG Kerk gaan egter voort.

Byna 180 gemeentes in die Wes- en Suid-Kaapland moet nog voor die einde van die maand die stemproses afhandel voordat dit in Mei aan die streek se sinode in Goudini voorgelê gaan word.

“Ons lidmate het hierdie belydenisskrif meer as brood nodig,” het Janse van Rensburg gesê.

“Die debat oor Belhar is ’n emosionele een en nie ’n intellektuele een nie.

“Ek kry die indruk dat Afrikaner-mense nog nie werklik die verleentheid van apartheid verwerk het nie en al dié emosies is gesimboliseer in dié besluit.

“Ons sal moet werk met die harte van ons lidmate,” het hy bygevoeg.

Nóg Janse van Rensburg nóg dr. Braam Hanekom, moderator van die sinode van die Wes- en Suid-Kaap, wou Woensdag uitwei oor die uitslae wat reeds van 50 gemeentes in die Wes- en Suid-Kaapland ontvang is.

“Dit sal onverantwoordelik wees om daaroor kommentaar te lewer voor die stemproses afgehandel is,” het Hanekom gesê.

Hy het Woensdag die laaste keer as moderator van die sinode van die Wes- en Suid-Kaapland die moderamen gelei.

’n Nuwe moderator sal tydens die sinodesitting in Mei verkies word.) Die Belydenis van Belhar is ’n belydenisskrif van die destydse Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk met die kerntemas van eenheid, versoening en geregtigheid.

Kommentare

D K

As ons die lidmate van die VGK en ander aanhangers van Belhar sien en hoor oor die omgekeerde ongeregtigheid sal ons anders oor dit begin dink. Tot dan bly dit vir my’n politieke dokument

Riaan van Zyl

As hulle so graag Belhar wil bely, is daar mos niks wat hulle keer nie. Hulle kan dit soggens en saans doen, elke dag. Hulle kan dit in die stort opsê en terwyl hulle in hulle motors ry. Hulle kan selfs spesiale Belhar-konferensies reël waar hulle van oor die land kan saamtrek en dit in al 11 amptelike tale doen.

T Van Vuuren

Wat van die manne wat die kat in die donker knyp, gaan daar ’n Belhar vir hull ook wees, wat van die wat te veel drink, of vloek. Hoekom word een sonde nou uitgewys. Julle Belhar manne sal maar moet afstig, besgee gaan ons nie.

Pieter Greyling

Gaan lees die dokument en sien wat werklik daarin staan, presies wat nou teen die blanke gedoen word deur die kerkleiers. Die stuk word in ons kele afgedruk en nerens is daar versoening in gesien nie

S Visser

Politieke pot stront! Die dae van onderdrukking van die vrou en gay mense is verby.Selfs van julle eie ds knyp die kat in die donker.“SO GET ALIVE”

jacques steffen

Ek is nou eers bly ek is klaar met die NGK…

Willem Liebenberg

Ek gaan ’n nuwe Belydenis opstel wat die VGK dan moet aanvaar as teenprestasie vir die Belhar Belydenis. Ek gaan dit die RASEB Belydenis noem(Dit staan vir die Regstellende Aksie & Swart Ekonomiese Bemagtigings Belydenis.) Hierdie twee belydenisse gaan een gemeenskapllike ding in gemeen he – hulle is altwee geskoei op die ongeregtighede van die verlede. Die nuwe verlede is nou al mooi groot en mondig – ’n volle 21 jaar oud. Hoe klink daai, dit kan dalk net die balans inbou in die situasie wat heeltyd ontbreek het. Wie gaan my daar ondersteun?

G Scheepers

WILLEM LIEBENBERG HET ‘N PUNT BEET.

Cobus Botha

Gooi die stuk politieke Boesak-geskrif in die see!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui