Misleiding van NG Kerkleiers oor gays (Jan Louw)

Kyk ook:

Frits Gaum vra in die Rapport van 28 Junie 2015 in die artikel Die NG Kerk en gays: ‘Tyd vir herbesin’ vir “verdraagsaamheid” onder Christene oor ons siening van gays en oor Belhar. Hierdie keer voel ek ’n behoefte om ’n slag te sê oor waarmee Gaum besig is.

Die opskrif by die artikel in die koerant is: Tyd vir verdraagsaamheid. Daar verskyn ’n illustrasie by die artikel met die sg. Reënboog Vlag van die internasionale LGBT (Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender) beweging. Elkeen van die kleure het ’n betekenis en so het die vlag ’n kragtige simbool geword van die dinge waarvoor die gay beweging wêreldwyd staan. Die vlag verteenwoordig ’n uit en uit wêreldse en onchristelike beweging.

Vereenselwiging met die gay-beweging?

alt

In die illustrasie kom daar twee arms uit die vlag uit wat met mekaar handevat. Die simboliek daaragter is dat die kerk met die gay beweging (moet) handevat. Die vermoede bestaan dat die illustrasie presies verwoord wat Gaum wil oordra, want die moderator van die NG kerk, Nelus Niemandt, gebruik ’n paar dae later dieselfde terminologie in die Beeld van 1 Julie 2015 toe hy gesê het: “My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) genormaliseer sal word (binne die kerk).” Gaum sal waarskynlik sê hy is nie verantwoordelik vir die illustrasie nie, maar uiteindelik is dit sy artikel en hy moet pa staan vir wat hy in die koerant propageer.

Of Gaum dit wil weet of nie, hy bevind hom nou vierkantig in wat Daan Nortier noem, ’n internasionaal gedrewe, gay-politieke offensief. Gaum is ’n wel ter tale teoloog en algemeen erkende leier in die NG Kerk. Nou het hy ’n agent geword van die omstrede gay-leefstyl en hy wil sommer die kerk wat hy verteenwoordig oorreed om saam met hom op die pad te gaan.

Verdraagsaamheid by die apostelvergadering in Jerusalem

Ek wil uitkom by Gaum se redenasies waarmee hy probeer om vir ons te leer dat “verdraagsaamheid” ’n Bybelse opdrag is om met die die gay-kwessie om te gaan. Volgens Gaum was verdraagsaamheid die sleutelwoord by die vergadering in Jerusalem in Hand 15. Die apostels sou gekies het vir ’n verdraagsame benadering en dit moet nou vir ons ’n voorbeeld wees oor hoe om op te tree met die gay-kwessie en ook wat Belhar betref.

Gaum wil voorgee dat die besnydenis uit verdraagsaamheid teenoor die nuwe Christene deur die apostels opgehef is. Die implikasie is dat die apostels eintlik voorstanders van die besnydenis was, maar uit verdraagsaamheid teenoor die nuwe Christene wou hulle dat “geen verdere las” op hulle gelê moes word nie. Dit is ’n valse voorstelling waarmee die apostels beslis nie met Gaum sal saamstem nie.

Die aanloop tot die besnydenis-kwessie was dat die Here vir Petrus gesê het: “Wat God rein verklaar het mag jy nie onrein ag nie”. God het vir Petrus daarmee gesê dat die heidene nie in die nuwe bedeling as onrein beskou mag word nie. Dit het ’n kentering meegebring in die apostels se verstaan van die evangelie. Petrus het ná God met hom gepraat het, reguit na die huis van Kornelius die Romein gegaan en die evangelie aan hom en sy huis verkondig. Terwyl hy gepraat het is die mense in die huis (heidene) met die Heilige Gees vervul en hulle is gedoop. So het ’n belangrike insig by die vroeë kerk deurgebreek nl dat God bedoel het dat nie-Jode ook gered kan word. Hand 15:11 was ’n uitdrukking van die nuwe insig: “Ons … glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word”.

Die volgende hekkie wat die vroeë kerk moes oor kom was die besnydenis wat van Abraham se tyd af vir hulle voorgeskryf was. Daar was Joodse gelowiges wat daarop aangedring het dat nuwe gelowiges naas die doop ook besny moes word om gered te word. Hieroor het die apostels ’n vergadering in Jerusalem gehou en tot ’n duidelike besluit gekom. Hulle het ’n omsendbrief aan die gelowiges uit die heidendom opgestel, waarin hulle verklaar het daar is “mense wat verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van die apostels gekry het nie” (Hand 15:24). Daar was ’n ongeduld in die vergadering by die apostels oor die mense wat “God se geduld op die proef stel” en “’n juk” op die nek wou sit vir die gelowiges uit die heidennasies.

Paulus spreek hom later in sy brief aan die Galasiërs nog sterker uit teen hierdie mense wat voortgegaan het met hulle propagering van die besnydenis. Hy gaan so ver as om te sê dat ’n vloek van God die mense sal tref wat die besnydenis as vereiste stel omdat hulle ’n “ander evangelie” verkondig en die evangelie “verdraai” (Gal 1:6-10).

Die vergadering in Jerusalem was dus ’n waterskeidings moment in die kerk. Dit het glad nie oor verdraagsaamheid gegaan in die sin dat ’n skikking bereik is om verskillende sienings in die kerk te akkommodeer nie. Gaum is dus heeltemal verkeerd as hy die apostelvergadering as ’n voorbeeld wil stel van hoe ons nou verdraagsaam teenoor mekaar moet wees ten opsigte van die gay-kwessie.

Die komende vergadering van die Algemene Sinode

Die Algemene Sinode van 2015 vind oor ’n paar maande plaas en die debat oor die homoseksueles gaan vir die soveelste keer oopgemaak word. Daar is groot druk van mense soos Gaum en baie ander kerkleiers en teoloë van die NG Kerk dat mense met ’n gay-leefstyl volledig deel moet kry in al die ampte van die kerk. Nelus Niemandt het onlangs sy standpunt oor die homoseksueles gestel toe hy gesê het: “Ek dink die ideale uitkoms sou wees as mens alle mense, ongeag (seksuele) oriëntasie, waardig behandel en volledig opneem in ’n kerklike lewe, sonder om teen enigiemand te diskrimineer.” Hy het bygevoeg dit geld vir diakens, ouderlinge en predikante.

Dit is duidelik dat die kerkleiers hierdie keer ’n besluit wil deurkry wat volledig ruimte maak vir mense met ’n gay-leefstyl op alle vlakke van die kerklike lewe. Ons sal nie weet of Gaum se artikel deel van ’n sinodale strategie is nie maar dit is duidelik dat Gaum in Rapport besig is om voorbrand te maak vir ’n verdraagsame houding oor gays by die sinode.

Die Skrif is ons basis

Teen hierdie agtergrond is dit dalk nou goed om ’n slag duidelik vir Gaum en sy geesgenote te sê dat hierdie soort van meningsverskil tussen gelowiges waarmee ons nou te doen het, ontstaan as ons nie meer ’n gemeenskaplike grondslag het nie. Ons kan ons nie deur menslike filosofieë, die sielkunde of die tydsgees laat lei as ons oor hierdie belangrike sake van ons geloof ’n pad moet vind nie. Ons moet ons laat lei deur die Skrif en spesifiek dit wat vir ons nagelaat is deur die apostels. Ons kan nie elkeen sy eie kop volg nie.

Paulus praat wel van verdraagsaamheid in Kol 3:13 as hy sê: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het”. Dit is egter duidelik dat ons hier met iets heel anders te doene het as persoonlikheidsverskille. Ons het te doene met dinge wat ongehoord, skandelik en vreemd aan die Evangelie is. Dit gaan oor “onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes” (Kol 3:5). Sulke dinge in die kerk kan nie met verdraagsaamheid opgelos word nie. Paulus sê dit is dinge wat “doodgemaak” moet word. Ons kan dit nie verdra nie – nie in die persoonlike lewe nie en ook nie in die kerk nie.

Die apostel sê verder in Ef 5:12: “Dit is ’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.” Dit is ’n skande dat homoseksuele gedrag hoegenaamd as ’n belangrike besprekingsonderwerp op die tafel van die NG Kerk se hoogste vergadering moet dien. Ons bring hiermee oneer oor die Hoof van die kerk. Dit is nie goed te praat nie!

Daar is dinge wat vir God heilig is: Die kerk is heilig. Ons behoort aan ’n heilige algemene Christelike kerk. Die gelowiges word heiliges genoem. Ons liggame is heilig. Die huwelik is ’n heilige instelling van God. Die homoseksuele gedrag waarvoor Gaum nou so skaamteloos voorspraak maak, skree teen alles wat God heilig gemaak en heilig verklaar het. Net Frits Gaum sal weet waar sy obsessie vandaan kom om voortdurend te vra dat daar in die kerk vir hierdie onheilige lewenswyse van sommige menseruimte gemaak moet word.

Onreg teenoor gays

Gaum meen dat die kerk die gays ’n onreg aandoen deur afwysend te staan oor hulle leefwyse. Hy sluit sy artikel af met die woorde: “Verdraagsaamheid oor verskille, ja. Verdraagsaamheid oor onreg, nee. Nooit nie.” Hy meen dit is ’n onreg om van gays wat as predikante opgelei is te verwag om selibaat te bly. Hy vra dat permanente lewensverbintenisse van gay persone in die kerk erken moet word, anders is dit blykbaar ’n onreg wat hulle aangedoen word. Nelus Niemand sluit ook hierby aan as hy op 1 Julie 2015 in die koerant verklaar: “Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die kerk voltrek word” en daar word in die berig bygevoeg: “Dit is die pleidooi van prof. Nelus Niemandt, algemene moderator van die NG Kerk. Hy hoop die besluit oor gay predikante sal in Oktober op die algemene sinode opgehef word en dat hulle ook sal kan trou.”

Waarom kry mens die idee dat Gaum en Niemandt nie meer ’n saak het met die basiese Christelike leringe wat ons in die Skrif kry nie? Miskien is dit nodig om weer sommige daarvan uit te spel. Dit geld vir almal wat hulle met Christus wil identifiseer – ook vir gay mense.

Christene se lewens word deur die Gees beheer.

Paulus leer ons dat God besig is om ’n nuwe mensheid op te rig wat nie meer onder leiding van die wet leef nie, maar deur die Gees beheer word. Gal 5:22 is die bekende gedeelte oor die vrug van die Gees. Hoe lyk ’n Christen wie se lewe deur die Gees beheer word? Paulus identifiseer nege aspekte en een daarvan is selfbeheersing. Selfbeheersing is ’n basiese kenmerk van ’n Christen. Doen jy jou kinders ’n onreg aan as jy van hulle selfbeheersing verwag in hulle optrede? Doen jy ’n medegelowige ’n onreg aan as jy hulle vermaan om selfbeheersing toe te pas? Doen God sy kinders ’n onreg aan om selfbeheersing van ons te verwag? Is dit net gay-mense wat vrygestel is van selfbeheersing? Die antwoord is tog ’n duidelike, nee!

In die geskiedenis van die kerk het honderde duisende mans en vroue besluit om selibaat te lewe om op dié wyse hulle lewe aan die Here te wy. As ander Christene so opgetree het kan ons mos van Christene met ’n homoseksuele oriëntasie vra om ook hulle kruise op te neem en eerder selibaat te lewe as om in ’n lewe van oneer te verval.

Die voorbeeld van Christus

Die ingesteldheid op die regte van mense is ver verwyderd van die voorbeeld wat Christus vir ons gestel het. Hy het nie vasgehou het aan sy “regte” wat hy in die hemel gehad het nie, maar Hy was bereid om ’n slaaf te word (Fil 2:6). Hy was aan God gehoorsaam tot in die dood en daarom het God Hom verhef en aan Hom ’n hemelse ereposisie gegee.

Volharding

Volharding is ’n belangrike deel van Christenskap. Dit kom op baie plekke voor:

Fil 3:14-15: Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê.

2 Tim 4:7: Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.

Heb 10:36: Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.

Bekering

Die Heidelbergse Kategismus beskryf bekering nie as ’n eenmalige gebeurtenis nie, maar as ’n voortdurende afsterwe van die ou mens en ’n opstanding van die nuwe mens (Sondag 33). Dit is gebaseer op leringe van Paulus soos:

Gal 5:24-25: Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal?

Ef 4:22-24: Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

Kol 3:1: Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

Kol 3:5: Julle moet die aardse dinge doodmaak.

Volledige identifikasie met Christus

Gal 2:20: Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

Fil 3:10: Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,

Kol 3:3: Julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Gay-Christene?

Christene met ’n gay oriëntasie het dieselfde verantwoordelikheid om die stryd aan te sê teen hulle sondige natuur as alle ander gelowiges. Of hulle oriëntasie aangebore of aangeleer is, is irrelevant. Ons staan almal met ons lewens voor Christus.

Ek kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat Christene wat hulle op die pad van die gay leefstyl begewe het voordurend gaan ervaar dat hulle in botsing is met die lewe wat die Gees van Christus in ons wil bewerk nie. Hulle gaan voordurend (soos saamwoners) uit hulle plek voel in die Christelike gemeenskap. Ons help hulle nie deur hulle te verseker dat alles reg is en dat Christus met hulle tevrede is nie. Diep binne in hulle harte weet hulle dat Christus iets anders vir hulle in gedagte het en dat hulle met dinge besig is wat nie reg is nie.

Misleiding

Frits Gaum is een van baie mense in die kerk wat met allerande redenasies homoseksualiteit in die kerk wil goedpraat. Sy redenasies dra die karakter van misleiding. Dit is ’n skrikwekkende gedagte om die woord “misleiding” toe te dig aan leiers in die hoogste kringe van die NG Kerk. Dit gaan daaroor om mense op ’n verkeerde pad te lei.

Ek kan tot geen ander gevolgtrekking kom as om die woord misleiding te gebruik nadat ek goed nagedink het oor die redenasies waarmee die kerkleiers homoseksualiteit nou in die kerk wil indra nie.

Ek het gekies vir die leer van die apostels en oor hierdie saak sê die apostel Paulus in 1 Kor 6:9-10: Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui