Maagdelike geboorte

*******

Maagdelike geboorte | Beeld

Beeld, 12 Des 1998

‘n Woord Onderweg

André van Niekerk

Die eerste Christene het verskeie uitdrukkings gebruik om vir die mense van hul tyd duidelik te maak dat Jesus van God afkomstig is.

Een manier was om Jesus as die beloofde Messias, as die “Seun van Dawid” te erken. ‘n Ander manier was om die titel van troonbestygende konings, “Seun van God”, op Jesus in
die mees verhewe sin toe te pas. Johannes het gebruik gemaak van die ewige “Woord” wat vlees geword het. Paulus het weer bely dat Jesus na die vlees uit ‘n vrou gebore is, maar met sy opwekking deur die Gees as Seun van God uitgewys is.

Die uitdrukking, “gebore uit die maagd Maria”, het die gewildste geword, al word dit min in die Bybel gebruik. Dit is selfs in die Apostoliese Geloofsbelydenis opgeneem. Net die inleidings van die Lukas en die Matteus-evangelie huldig Jesus so. Deur die inleidings wou hulle bely dat God by Jesus se ontstaan betrokke was. Daarom is Hy nie net ‘n Joodse mens nie, maar Verlosser van die hele wêreld.

Min uitdrukkings van geloof het só ‘n verdelende uitwerking gehad. Die maagdelike swangerskap, kenmerkend van talle buite Bybelse godsdienste, het vir miljoene moderne mense ‘n struikelblok geword sodat hulle nie langer die Bybel kan glo nie.

Vir talle Christene het hulle begrip van die maagdelike swangerskap egter die toetssteen van ware geloof geword. Hulle verstaan die verhale histories en die maagdelike swangerskap as ‘n wonderwerk. Jesus is werklik sonder seksuele omgang verwek.

Bybelse besware is teen die letterlike beskouing geopper:

Figuurlike uitdrukkings dat God ‘n koning “verwek” het en dat gelowiges “uit God gebore” is, skakel nie fisieke verwekking uit nie.

Die Jesaja-aanhaling in Matteus 1:23 is uit die Griekse vertaling van die Ou Testament geneem. Die oorspronklike Hebreeuse woord vir “jong vrou” (almah) is in dié vertaling met die woord “maagd” (parthenos) vervang.

Deur aan te neem dat ‘n man eintlik nie by Jesus se ontstaan betrokke was nie, is die ou kerkvaders se onbybelse opvatting dat seks met sonde sinoniem is, geregverdig.

Die geloof in ‘n letterlike maagdelike swangerskap het die aandag van Christus na Maria verplaas. In die vierde eeu is die “geloof” uitgebrei na maagdskap ook tydens geboorte (maagdelike geboorte) en selfs maagd ná geboorte (ewige maagd).

‘n Logiese afleiding van dié beskouing is die dwaalleer dat Jesus eintlik net ‘n skynmens was. Die Nuwe Testament bestry hierdie dwaalleer deurgaans. Vir Johannes is dit die leer van die Antichris.

Die besware beteken nie dat ons moet huiwer om “gebore uit die Maagd Maria” te bely nie. Ons hoef dit egter nie langer as biologie in ‘n biografie te probeer begryp nie, maar as “teologie in verhaal vorm” (Nürnberger) te aanvaar. Dit gaan nie om dit met ons verstand te probeer verklaar nie, maar om met ons hart te verwonder dat Jesus “God met ons” geword het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui