Die val van ’n ‘struggle’-held. Só voel hulle oor Boesak

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Rapport verskyn en vertel iets van die agtergrond waarin die Belydenis van Belhar opgestel is.

**********

Die val van ’n ‘struggle’-held. Só voel hulle oor Boesak.

VRYHEIDSDANS. Dr. Allan Boesak en pres. Nelson Mandela dans hier op die verhoog ná afloop van die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. DR. ALLAN BOESAK is hier by sy kinders, Pulane, Belen en Allan. Onder is hy by sy vrou, Elna, en sy dogter Belen (regs). Só voel hulle oor Boesak JUDY DYMALISILI, skoonmaker van Transkei, sê Boesak het heeltemal verkeerd opgetree. “Dis teen alles waarvoor die struggle staan.” MARIA DE SOUSA, winkel-eienaar van Milnerton, meen Boesak het gekry wat hy verdien het. “Hy moet tronk toe gaan. Hy is ’n skelm.” MARCEL VISAGIE, rekenaarprogrammeerder van Ravensmead, sê Boesak moes langer straf gekry het. “Hy kan nie dit wat hy vir die struggle gedoen het, as verskoning gebruik nie.” ERNEST BONAKELE, bankklerk van Guguletu sê dat Boesak se vonnis en straf nie as geregtigheid bestempel kan word nie. “Terwyl die regstelsel mense soos Magnus Malan, Adriaan Vlok en Louis le Grange vry laat loop, kan hulle nie vinger na Boesak wys nie.” ROBERT HENDRICKS, groentesmous van Elsiesrivier, meen dat Boesak tronk toe moet gaan omdat hy arm mense en kinders se geld gesteel het. “Hy het werklose mense se kos uit hul monde geneem. En dit is onvergeeflik. Hy verdien beslis sy straf.” PATRICK FREY, sekerheidsman van Retreat, meen dat Boesak langer straf moes gekry het.

JOHANN MAARMAN: Kaapstad

1999-03-28

ALLAN AUBREY BOESAK was vyf toe hy sy eerste “preek” gelewer het. Sy gemeente? Sy suster se poppe! Sy preekstoel ’n ou bôks. Vurige predikant. Vurige politikus. Maar ook ’n persoon met sakke vol sjarme. Vra Dorothy Boesak, Di Scott en sy vrou Elna. Ook ’n predikant wat maklik model kon gespeel het, is tong in die kies na hom al verwys. Maar dit was juis sy ma se geloof wat daartoe gelei het dat hy én sy twee broers predikant geword het. Sy suster weer is getroud met een! Maar hy is ook ’n skrywer. Farewell to Innocence ’n verhandeling oor Swart Teologie en The Finger of God ’n versameling van sy preke het al uit sy pen verskyn. As deel van sy teologiese navorsing het hy ook Coming out of the Wilderness die lig laat sien. Hy het sy doktorsgraad oorsee ontvang en het huiswaarts gekeer toe die eerste vlamme in Soweto begin brand. Twee weke later het die onluste in Kaapstad uitgebreek. Gebore in Kakamas in die Noord-Kaap, naby die Oranjerivier as seun van Sarah en Willie Boesak, het hy opgegroei in Somerset-Wes. In 1953 het sy vader hulle ontval. In 1962 het hy begin met sy teologiese studie aan die Universiteit van Wes-Kaapland en kry graad in 1967. Sy eerste gemeente is in Parow en dit is hier waar hy sy eerste vrou, Dorothy, ontmoet. Einde September 1970, is hy oorsee om verder in die teologie te studeer by die Union Theological Seminary in New York. Daar het hy een van die groot profete van Swart Teologie, eerw. James Cone, ontmoet. Cone was die man wat die grondslag van Swart Teologie gelê het. Dit was Boesak wat in 1983 suksesvol by die Wêreldraad van Kerke gepleit het dat apartheid tot kettery verklaar moet word. ’n Besluit (in Boesak se eie woorde) wat gelei het tot ’n “orgie van veroordeling”. “Dan praat ek nie eens van die gifbriewe en onsmaaklike oproepe nie.” En toe die gevleuelde woorde: “I will not compromise on the issues of justice and integrity.” (Drum 1981). Agttien jaar later word hy as ’n dief en bedrieër beskryf deur regter John Foxcroft. Boesak was laas in September 1985 in ’n hof op ’n aanklag van hoogverraad. Dit is later teruggetrek. Op ’n vroeë lenteoggend in 1985 was dit Boesak wat as ’n vry man op Malmesbury ’n dorpie buite Kaapstad uit die streekhof gestap het. By die trappe het Dorothy en sy twee dogters gewag. Een van hulle se naam was Belen. Woensdagmiddag het hy weer op ’n hof se trap gestaan. Dié keer in Kaapstad. By die Hooggeregshof. Aan sy sy? Wéér Belen. Met Elna aan die ander kant. ’n Mens kan net wonder watter een van sy boeke profeties op hom van pas is. Sy afskeid aan onskuld, na wíé wys die vinger van God of sal hy terugkom uit die wildernis? Maar soos Boesak skryf in Naby jou is die Woord onder die opskrif: Meetpaal, skandpaal, hangpaal: “van verkleineerde familiariteit na oneer na moord. En as daar geen krans beskikbaar is nie, is ’n koerant net so handig . . . .” SOU hoofregter Ismail Mohamed besluit dat dr. Allan Boesak se vonnis van tronkstraf gehandhaaf word, kan Boesak en Freddie Steenkamp se paadjies weer kruis. Steenkamp, voormalige boekhouer van die Stigting vir Vrede en Geregtigheid (SVG), dien tans ’n vonnis van ses jaar uit vir sy aandeel in die Boesak-sage. Steenkamp is ’n gevangene in die nuwe tronk in Malmesbury. Hy is ’n klas A-gevangene wat beteken dat hy meer voorregte geniet as iemand wat pas sy straf begin uitdien. Boesak het 21 dae om ’n petisie aan die hoofregter te rig. Nadat hy die petisie van Boesak se regspan ontvang het, sal Mohamed die getuienis bestudeer en dan besluit of daar gronde is vir ’n appèl.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui