NG sinodes kap bevrydingsteologie

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn.

**********

NG sinodes kap bevrydingsteologie

1997-10-22

Christo van Staden

KAAPSTAD. Die evangelie word op ’n gevoelige wyse in die hart aangetas deur die wyse waarop die bevrydingsteologie in Suid-Afrika bedryf is, sê die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse sinodes in ’n voorlegging wat gister aan die Waarheids- en versoeningskommissie oorhandig is.

‘n Afvaardiging onder leiding van dr. Frits Gaum, moderator, het die voorlegging aan dr. Desmond Tutu, voorsitter van die WVK, oorhandig nadat die Sinode vroeg vandeesmaand tot hierdie stap besluit het.

Met die oorhandiging van die voorlegging is die kommissie versoek om sy opdrag “so doel treffend moontlik uit te voer” en in sy finale verslag te strewe na “onpartydigheid, ewewigtig heid en billikheid”.

“Net deur dit te doen sal die WVK ’n wesenlike bydrae lewer tot die broodnodige versoening in Suid-Afrika.”

Die voorlegging bestaan uit vier dele.

In een deel verwerp die Sinode die apartheidsteologie, soos dit vroeër in die NG Kerk voorgekom het, sowel as die bevrydingsteologie wat in ’n stadium deur van sy teoloë ondersteun is.

Oor die bevrydingsteologie sê die kerk hy het begrip vir “sekere basiese oortuigings van die beoefenaars van die bevrydingsteologie”.

“Ons meen egter die wyse waarop die bevrydingsteologie dié sake teologies hanteer, die eensydigheid daarvan, die ideologiese aansluiting by die Marxisme en die wyse waarop teologie en kerk in diens van ’n politieke magstryd gestel word, tas die evangelie op ’n gevoelige wyse in sy hart aan.”

Gaum het ná die tyd aan Die Burger gesê Tutu het nie heeltemal saamgestem met die insluit van ’n afsonderlike deel oor die bevrydingsteologie nie.

Tutu het glo vrae oor die NG Kerk se standpunt daaroor.

“Ons het hom geantwoord dat ons wel meen dit is nodig dat die kerk se standpunt hieroor ingesluit word.”

In die laaste deel van die voorlegging bely die kerk teenoor God dat hy nie altyd Sy Woord reg gehoor en gedoen het wat Hy gevra het nie.

“Waar ons ons naaste te na gekom het, wil ons ons sondes ook eerlik teenoor húlle bely.”

Die Sinode wys ook daarop dat hy onlangs apartheid, “synde ’n stelsel van gedwonge rasseskeiding en -diskriminasie”, verwerp het as “in sy wesenlike aard verkeerd en sondig”.

kommissies kerke apartheid

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui