Lasarus en Jesus is nie dieselfde

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Beeld verskyn.

Let daarop dat die eenvoudige vraag is: Julian, glo jy dat Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het?

In die 1200 woorde wat hy hier gebruik antwoord hy nie een keer die vraag nie. Hy omseil die vraag die hele tyd met die argument dat dit belangriker is dat Jesus is die gelowige (se hart) opgestaan het.

********

Lasarus en Jesus is nie dieselfde | Beeld

Deur Julian Müller

14 Oktober 2009

Dat Jesus lewe en in die gelowige opstaan, het weinig te doen met ’n saaklike uitspraak oor ’n graf wat leeg is, skryf prof. Julian Müller in antwoord op ’n artikel van prof. Adrio König.

Ek moet myself afvra waarom ek aan dié gesprek deelneem, met die wete dat dit vir baie gelowiges weinig sin maak en hulle selfs irriteer.

Ek doen dit met huiwering en net om een rede – en dit is omdat ek ook glo die evangelie is op die spel!

Dat Jesus lewe en in die gelowige opstaan, het weinig te doen met ’n saaklike uitspraak oor ’n graf wat leeg is. Dit het eerder te doen met die misterie van ’n geloofsverbondenheid met God.

God wat groter is as die magte van dood en vernietiging. Reg verstaan, bring die opstandingsboodskap jou tot die nederige, maar blye ontdekking dat jy ook ingesluit is in die lang tou mense aan wie die Opgestane verskyn (het).

Die ja- of nee-antwoord op die sogenaamde toetssteen-vraag verseker nog nie dat die opstanding “nut” (Heidelbergse Kategismus, Sondag 17) gekry het in jou alledaagse lewe nie.

Dit het met veel meer te doen, soos die verrassende ontdekking dat die Here, op watter vreemde wyse ook al, ook jou lewe betree het.

En as jou geloofsoog so oopgegaan het, word dit inderdaad moontlik om die lewende Here in selfs die eenvoudigste dinge van die lewe, soos die glimlag van ’n kind of selfs die bleek gelaat van ’n siek pasiënt te ontdek.

Gelaaide vraag

Die vraag oor die leë graf wat gedurig voor my gegooi word, is ’n gelaaide vraag. Gelaai met fundamentalistiese, teologiese uitgangspunte en met misverstande. Dit skep die indruk dat ’n “ja” daarop ’n opregte en onproblematiese belydenis behels.

Terwyl ’n “ja” daarop onafwendbaar ook ’n “ja” op ’n bepaalde teologiese paradigma is. Die vraag skep verder die indruk dat ’n eenvoudige “nee” ’n duidelike verwerping van die opstanding van Christus sou behels.

Terwyl ’n “nee” ook kan beteken dat daar nee gesê word op ’n bepaalde verstaan en interpretasie van die opstanding.

As iemand aan my die verhaal van Lasarus se opwekking uit die dood (Johannes 11) sou vertel en vra of die graf leeg was, is die antwoord eenvoudig en onomwonde ja, want Lasarus se lyk het in die verhaal lewend geword.

[Kommentaar: Hier wil dit voorkom of Julian wel aan wonderwerke soos opstanding uit die dood glo. Dit vraag is egter: sien hy die verhaal oor Lasarus as histories of sien hy dit as ’n tipe gelykenis?]

’n Opgewekte lyk kan nie anders nie as om ’n leë graf agter te laat nie.

Is dit hoe ons oor Jesus se opstanding moet dink? Beslis nie. As ons in die Lasarus-kategorieë oor Jesus se opstanding sou praat, neem ons onnoembaar baie weg van die betekenis van sy opstanding. En dit is presies wat gebeur in die teologiese denkskool wat die leë graf die “toetssteen” maak.

Die taalkategorieë van “liggaamlik”, “fisiek” en “leë graf” wat in die Lasarus-situasie volmaak van toepassing is, word op Jesus se opstanding oorgedra, met die gevolg dat dit só versmal in betekenis dat ’n “ja” daarop ’n verloëning van die werklike betekenis van die opstanding sou inhou.

Dit is nie ’n nuwe debat hierdie nie.

Dit het weer en weer in verskillende wêrelddele in die loop van die laaste paar eeue na vore gekom. Die “leë graf” is telkens vanuit evangelies-fundamentalistiese oorde as die toetssteen voorgehou.

Verdeling en veroordeling

Met daardie toetssteen is verdeling en veroordeling gesaai, soos dit nou weer gedoen word. Tog kon dié toetssteen self nog elke keer nie die toets van die tyd en teologie deurstaan nie.

Waar kerke ’n teologiese ondersoek daaroor gedoen het, soos in my eie geval in 2006, en byvoorbeeld in die geval van prof. Lloyd Geering in Nieu-Seeland in 1966, is daar telkens tot die gevolgtrekking gekom dat die geloof in die opstanding van Jesus veel meer inhou as net ’n uitspraak oor ’n leë graf.

Die leë graf speel miskien ’n “toetssteen”-rol vir König en sy volgelinge, maar beslis nie in die Nuwe Testament nie. Al sou die historisiteit van die ontdekking van die vroue dat die graf leeg is bo twyfel vasgestel kon word, sou dit nog nie as bewys kon dien van die opstanding van Jesus nie.

Volgens die evangelies is dit nie die ontdekking van die leë graf wat lei tot die opstandingsgeloof nie.

Verskynings aan volgelinge

Die geloof in die opgestane Here vind sy oorsprong in die verskynings aan sy volgelinge. Volgens al die evangelies was dit nie die leë graf as sodanig wat Paasblydskap en opstandingsgeloof besorg het nie.

En selfs nie eens die vroue se getuienis oor die leë graf kon geloof by die ander bewerkstellig nie (Markus 16:11). Dit het selfs vir hulle na onsin geklink (Lukas 24:11).

Telkens is dit eers die misterieuse verskyning en verdwyning van Jesus self wat sy volgelinge tot geloof laat kom het. In Lukas gaan dit gepaard met die eet van ’n stukkie brood of vis (Luk. 24:31, 45).

[Kommentaar: Absolute nonsens. Dit is juis die fisiese opstanding wat hulle tot geloof laat kom het.]

In 1 Korintiërs 15, waarna König graag verwys, is daar nie ’n enkele verwysing na die leë graf nie. Daarenteen verwys Paulus na ’n aantal verskynings (vers 4-8).

En wat meer is, Paulus stel die verskyning van Jesus aan homself (Damaskus-pad) op dieselfde vlak as die vroeëre verskynings. Lees ons Paulus se verhaal in Handelinge 9, is daar ook geen sprake van ’n “liggaamlike” verskyning nie.

Daar was ’n stem (Hand. 9:4) en daar word uitdruklik verklaar dat niemand iets gesien het nie (Hand. 9:7).

Dit strook met Paulus se gebruik van die begrip “geestelike liggaam” verder in 1 Korintiërs 15. König sê in die artikel dat Paulus die woord “liggaam” tien keer gebruik in hierdie hoofstuk, maar hy bly in gebreke om daarop te wys dat die opstandingsliggaam as ’n “geestelike liggaam” beskryf word.

Ons het geen begrip van wat ’n “geestelike liggaam” is nie en die beste wat ons daarvan kan sê, is dat dit ’n misterie is. Dit is definitief iets heeltemal anders as ’n lyk wat lewend geword het. Die beeld wat Paulus self gebruik, is dat dit net so verskil van ’n liggaam as wat ’n koringplant verskil van ’n koringkorrel.

Dit is ook veelseggend dat groot teoloë soos Alfred von Harnack, Karl Barth en Emile Brunner saamgestem het dat die opstanding van Jesus nie afhanklik gemaak moet word van die historisiteit van die leë graf nie.

Dít maak belydenis leeg

Hoe dieper ’n mens nadink oor die misterie van die opstandingsgebeure, hoe minder woorde het jy om dit te beskryf. Om met slagspreuk-belydenisse en toetsstene te werk is heeltemal onvanpas.

Om die belydenis van die opstanding wat, ons gelowig, maar stamelend uitspreek, te vervlak tot ’n ja of nee oor ’n leë graf, is om die belydenis self leeg te maak.

Dit is verbasend dat König Neels Jackson gelyk gee en ook verklaar: “Müller glo Jesus het opgestaan.”

Hoe is dit moontlik as ek nog nie die toets van die leë graf deurgekom het nie? Of werk König dalk met twee soorte gelowiges, dié wat die toets slaag en ’n ander, swakker kategorie wat dit nie slaag nie?

Of is dit dalk ’n aanduiding daarvan dat selfs hy moet erken dat die geloof in die opstanding van Jesus nie gereduseer kan word tot ’n enkele formule of een enkele manier van verstaan nie? En indien dit so is, wat is dan die funksie van die toetssteen, behalwe verdagmaking en veroordeling?

Wat my betref, bely jy die opstanding of jy doen dit nie. Enige kwalifikasies wat bygevoeg word, maak die belydenis nie ryker nie, maar armer.

Prof. Müller is ’n teoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui