Opvoeding is nooit neutraal

Die volgende brief is geskryf na aanleiding van die artikel Claassen tree uit debat oor godsdiens in skole (24 Sep 2009)

**********

Opvoeding is nooit neutraal

16 Oktober 2009

Henriëtta Klaasing skryf:

‘n Hele debat is ontketen deur die artikel van prof George Claassen van Skepties Suid-Afrika in Rapport oor godsdiens in skole.

Die oorweldigende reaksie van gelowiges ter ondersteuning van Christelike waardes is ’n riem onder die hart. Wat mense soos die professor blykbaar nie verstaan nie, is dat geen opvoeding van kinders, by die huis of skool of waar ook al, neutraal kan wees nie. Dit is altyd waarde-bepaald. Opvoeding is in wese nie bloot net die oordra van kennis of vaardigheidsontwikkeling nie, maar ook (en veral!) karaktervorming. Om ’n karakter te vorm beteken om gesindhede, houdings en waardes aan te leer, om te kan onderskei tussen reg en verkeerd. Olie en water meng nie, so ook nie die oortuigings van Christene en ateïste, wat evolusie ondersteun, nie. Dus sal hulle ten opsigte van onderrig noodwendig drasties verskil.

Die gelowige sien die kind as geskape na Gods beeld met `n ewige siel, die kind kan rasioneel dink en keuses met sekere implikasies maak. Die kind se gedrag is die uitwendige vrug van `n inwendige wortel. Christene glo nie gedragsmodifikasie kan enige ware verandering bring nie – dit verlaag die kind tot die vlak van ’n apie wat ’n piesang kry vir die regte gedrag en ’n elektriese skok vir verkeerde gedrag. Ongeag veranderinge in die huidige Onderwyswet tree die skool steeds in loco parentis op (in die plek van die ouer) vir daardie ure wat ’n kind die skool se verantwoordelikheid is. Die Christen-ouers (én grootouers soos ek!) vertrou dus dat die skoolopvoeding in ooreenstemming sal wees met die leer van die Bybel soos wat die kinders by die huis en in die kerk geleer word.

(brief verkort – Red)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui