Kruisverhoor: ‘Dit gaan oor vertroue in NGK, en oor grense’

Kyk kommentaar in rooi-bruin tussen die teks.

*******

Kruisverhoor: ‘Dit gaan oor vertroue in NGK, en oor grense’ | Rapport

Hanlie Retief

Sondag, 22 Januarie 2023

Die kerk is nie besig met ’n heksejag op dr. Peter Nagel nie, sê dr. Frederick Marais, voorsitter van die algemene kuratorium.

1. Hoekom is julle vies oor Rapport oor jul ondersoek berig het? Die kerk het besluit om die gesprek in ’n veilige ruimte te voer, en dit daarna openbaar te maak.

Só kan ons rustig na mekaar luister.

2. Is ’n oop gesprek nie in die kerkgemeenskap se belang nie? As dit uit die staanspoor in die openbaar is, beïnvloed dit die proses nadelig.

3. Nagel se navorsing was tog reeds in ’n vaktydskrif en op sosiale media. Dis ’n akademiese artikel wat deur akademici beoordeel is. Die kerk het die reg om te sê: “Ons het met jou ’n ooreenkoms as gelegitimeerde dat jy ’n bepaalde geloofstandpunt handhaaf.”

4. Nagel het gesê die kerk het hom teologies verkrag. ’n Mens sal in só ’n situasie uiteraard weerloos voel, want jy moet jouself verantwoord. Dis ’n tragedie, want ons het gedink ten spyte van die feit dat dit ’n moeilike gesprek is ons hierdie ruimte respekteer.

5. Kom die klagte van iemand uit die Shofar-gemeente? Ja.

6. Hoe kon ’n klagte kom van ’n gemeente wat nie eens lid is van die NGK nie? Dr. Chris van Wyk het dit raakgesien en toe navraag gedoen.

[Kommentaar: Let daarop dat Frederick Marais in ‘n onderhoud op 7 Sep 2021 gesê het: “…ek eet, slaap, leef, drink teologiese opleiding, 24/7. Ek praat hieroor, ek skryf hieroor.” Daarom is dit uiters vreemd dat hy kwansuis niks geweet het van Peter Nagel se artikel wat hy in 2019 geskryf het nie.]

7. Smoor julle nie teologiese navorsing nie? Teologiese navorsing is vir die NGK baie belangrik. ’n Protokol is juis nou ontwikkel sodat albei partye billik behandel kan word.

8. Is dit in orde dat ’n dagbestuur, en nie die algemene sinode nie, dié soort protokol kan bepaal? Natuurlik. Bestaande protokol is bloot uitgebrei.

9. Was Van Wyk lid van die groep wat die protokol bepaal het? Ja.

10. Dis sy navraag; maak dit hom nie partydig nie? Nee, net ’n neutrale raamwerk vir die soort proses is ontwikkel.

11. Hier is tog ’n strydigheid. Die NGK het geen seggenskap oor Nagel se navorsing nie, want hy werk vir die universiteit. Die ooreenkoms is tussen ’n kerk en ’n gelegitimeerde. As jy van die geloofstandpunte verskil, het die kerk die reg om met jou daaroor te praat, ongeag vir wie jy werk.

12. Daar is dosente in ander vakrigtings wat gelegitimeer is. Ondersoek julle hul navorsing ook? Die kerk werk binne ’n vertrouensverhouding met gelegitimeerdes. Ons verwelkom kritiese denke, maar daar is grense.

13. Wil julle nie maar net ’n byltjie slyp met “liberale” kweekskole nie? Mense het verskillende standpunte, dis hoekom gesprek belangrik is. Dié val egter buite die belydenis van die kerk.

[Kommentaar: Frederick Marais wil definitief nie ‘n byltjie slyp met liberale teologie nie.]

14. Nagel sê daar word ’n voorbeeld van hom gemaak. Is dit nie net kerkpolitiek nie? Dis nie ons werk om aan ’n spesifieke drukgroep toe te gee nie, maar om so getrou moontlik aan die belydenis van die kerk te bly.

[Kommentaar: Die vraag is steeds, as Kairos Netwerk nie soveel druk op teologiese opleiding geplaas het nie en as iemand uit Shofar en Chris van Wyk nie hierdie saak aangeroer het nie, wonder ‘n mens of Frederick Marais iets daaroor sou doen.]

15. Gaan dit nie eintlik hier oor kweekskole se rol in die opvoeding van NGK-predikante nie? Natuurlik het dit implikasies, en daarom is die kerk baie spaarsamig om sulke ondersoeke te doen. In die ekumeniese wêreld is daar teologiese verskille, maar geen Christelike kerk sal nié saamstem met dié tradisionele belydenis nie.

16. Is dit nie tyd dat die NGK hom van kweekskole distansieer nie? Dis ’n billike vraag. Ek sou dink dis ’n voortydige gevolgtrekking. Die vraag is: Moet die kerk akademiese teologie respekteer en hul studente daaraan blootstel? Die NGK glo nog altyd dit is belangrik. Maar as akademiese teologie vir ons belangrik is, moet niemand oorsensitief wees as ons uit ons belydenisoortuigings gesprekke daaroor het nie.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui