Peter Nagel: ‘n slagoffer van slegte tydsberekening?

Die skrywe hieronder is op 10 Januarie 2023 aan Rapport gestuur, maar is nie geplaas nie.

*******

Peter Nagel: ‘n slagoffer van slegte tydsberekening?

Daniel Louw

10 Januarie 2023

In Rapport (08.01) is berig dat dr. Peter Nagel, ‘n teologiese dosent verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, se ampsbevoegdheid in die NGK Kerk tydelik opgeskort is, onder andere omdat hy Jesus se godheid in ‘n artikel in 2019 bevraagteken het.

Nagel is baie ontsteld hieroor. In sy verweer beroep hy homself daarop dat sy artikel aan portuurbeoordeling onderwerp was. Dit help natuurlik nie, want as NG predikant staan sy legitimasie-eed bo enige “wetenskaplike bevinding”.

Nagel sê ook dat hy teologies verkrag is en dat hy verhoor is weens politieke redes om ’n voorbeeld van hom te maak. Die idee wat ‘n mens kry is dat Nagel in sy posisie as teologiese dosent, die vryheid gehad het om hierdie tipe gevolgtrekkings te maak.

Die Kairos Netwerk, beskuldig al vir ‘n geruime tyd die kuratoriums (toesighoudende liggaam vir teologiese opleiding) daarvan dat daar nie behoorlik toesig gehou word nie. Die situasie is al so erg dat Kairos Netwerk reeds besig is om alternatiewe teologiese opleiding op die been te bring. Daar word selfs oor kerkskeuring gepraat in die NG Kerk.

In ‘n onderhoud met ds. Dubois du Toit van Namibië op 7 September 2021 het dr. Frederick Marais, voorsitter van die algemene kuratorium, die drie teologiese fakulteite (Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein) sterk verdedig. Hy het dit weer in ‘n video op 26 Oktober 2021 gedoen.

Alles in ag genome, lyk dit baie asof die kuratorium verplig was om teen Nagel op te tree, nie uit eie oorweging nie, maar weens die volgehoue druk van Kairos Netwerk. Nagel is dus waarskynlik ‘n slagoffer van slegte tydsberekening.

Nagel sal hoogs waarskynlik nie “sy standpunt regstel” nie. Hy sal hoogstens uit die NG Kerk bedank maar steeds aanbly as teologiese dosent, waar hy sal voortgaan om jong NG studente op te lei.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui