‘Kerk moet sê duiwel, bose geeste is wesens’

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Beeld verskyn.

************

‘Kerk moet sê duiwel, bose geeste is wesens’

2012-04-20 21:53

Neels Jackson

Die duiwel en bose geeste is persoonlike wesens en dit behoort die enigste standpunt te wees wat die NG Kerk onderskryf.

Dit is die standpunt in ’n beswaarskrif wat die NG Kerk se Hoëveld-sinode aan die algemene sinode gestuur het. Die sinode het die saak nie self bespreek nie, maar volgens dr. Neels du Randt, die moderator, bloot “as poskantoor opgetree” wat dit stuur na die algemene sinode omdat die saak daar hoort.

Die beswaarskrif van ds. Theo Danzfuss, Hoëveld se aktuarius, en ds. Jan Louw van Secunda is gemik teen die besluit van verlede jaar se algemene sinode wat ruimte maak vir lidmate “wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel glo”, maar ook vir mense “wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer”. [kyk 2011 NGK besluit oor die duiwel]

Die beswaardes voer sewe redes aan waarom die algemene sinode sy besluit van verlede jaar moet herroep.

Die eerste is dat die besluit in stryd met die Bybel is. Hulle wys daarop dat die evangelies vertel dat Jesus met die duiwel in gesprek was en dat Hy ook verskeie kere direk met die duiwel en bose geeste praat. Ook vir die apostels was die duiwel en bose geeste “sonder twyfel ook werklike persoonlike wesens wat ons grootste vyand is”.

Verder voer hulle aan dat die besluit in stryd is met die kerk se belydenisskrifte. Hulle haal ook die kerkhervormer Johannes Calvyn aan om aan te dui dat die besluit in stryd is met die eeue oue gereformeerde uitleg van die Bybel.

Daarby meen hulle die besluit is in stryd met die sinode se eie besluite, dat dit lidmaatbelofte en ander kerklike formuliere minag en dat dit ruimte skep vir ernstige dwaalleer.

Die beswaardes vra: “Moet ons aflei dat die sinode hiermee ook ruimte maak vir mense met ’n Oosterse Yin-Yang beskouing?

Volgens hierdie beskouing is donker en lig twee onpersoonlike kragte wat altyd teenoor en naas mekaar bestaan. As die duiwel nie ’n ‘persoonlike aard’ het nie, is hy nie meer ‘iemand’ nie, maar ‘iets’.

“As die kerk sy vyand nie meer ken nie, het ons die stryd van die begin af verloor.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui