Homoseksualiteit-inligtingseminaar en NG Doornkloof

Kyk ook:

Neels Jackson, verslaggewer van Beeld, het na ’n telefoongesprek met Ellison Mouton, een van die direkteure van New Living Way Ministries (kyk ook www.caringforgays.co.za) die volgende Beeld-artikel geplaas — Seminaar wat gays ‘genees’: Kerk stem nie in:

*********

Seminaar wat gays ‘genees’: Kerk stem nie in

2012-04-20 21:53

Neels Jackson

Die aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode het hom gedistansieer van ’n inligtingseminaar oor homoseksualiteit wat met sy gemeente verbind word.

Dr. Johann Ernst sê hoewel die advertensies vir die seminaar sê dis die Doornkloof-familiekerk wat dit aanbied, is dit nie deur hul kerkraad goedgekeur nie.

Hy het beswaar aangeteken teen die verbintenis met hul gemeente.

Die seminaar, wat uitgaan van die uitgangspunt dat gay mense se seksualiteit kan verander, is volgens hom die inisiatief van ’n lidmaat wat hul kerksaal vir die geleentheid bespreek het.

Dié lidmaat, me. Ellison Mouton, sê sy is ’n direkteur van die New Living Way Ministry, ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat die seminaar aanbied. Hulle het dit met een van hul dominees bespreek en toe gevra of hulle die kerk kan gebruik.

Ds. Wim Griebenow, ’n gay predikant wat in die NG Kerk opgelei is, maar toe in ’n gay gemeente predikant geword het, het sy ontsteltenis oor die seminaar uitgespreek.

Hy is bang dit skep die verwagtinge by mense dat hul oriëntasie genees kan word. As hulle dan teleurgestel word, kan dit tot verwoeste lewens en selfs selfmoord lei.

Die suksessyfer van bedienings wat mense van hul homoseksualiteit wil bevry, is omtrent nul. Omtrent almal wat wel verander, val terug in hul gay lewenstyl.

Griebenow sê hy self het vroeër met trane en gebed gesoek na genesing, maar die waarheid wat hom vrygemaak het, was nie dat hy kan verander nie. Dit was dat die Here hom aanvaar soos hy is.

Mouton het by navraag gesê dis nie waar dat mense nié kan verander nie.

Sy het erken daar is mense wat terugval, maar sê homoseksualiteit is ’n baie komplekse probleem waarvan die wortel op ’n diep emosionele vlak lê.

As dit net oppervlakkig aangepak word, gaan mense nie verander nie.

Sy ontken ook dat homoseksualiteit ’n genetiese oorsprong het. Daar is nie studies wat so ’n genetiese oorsprong bewys nie. As daar so iets is, sal sy dit graag wil sien.

Mouton sê daar is meer as 50 mense wat reeds aangedui het dat hulle die seminaar wil bywoon.

Kommentaar:

Let op die verdraaide titel van die Beeld-artikel– Ellison het op Neels se spesifieke vraag aan haar of daar gebid gaan word vir genesing van gays op die seminaar, vir hom pertinent nee gesê. Dit was ’n inligtingseminaar – nie ’n beradingseminaar nie.

Kyk ook hoe distansieer ons een predikant Johann Ernst hom van die seminaar – red nou ’n gemeente met sulke openbare teenspraak binne eie geledere.

In werklikheid is dit ook ’n verdraaiing dat die kerk nie ingestem het nie, en dat dit net ’n lidmaat se eie aksie was. Die adviesspan van die kerkraad het dit help reël en dit is ter inligting amptelik (staan op die agenda) aan die kerkraad voorgelê op die kerkraadsvergadering van 22 Februarie 2012 waar daar geen teenkanting was nie. Johann se sogenaamde beswaar teen die verbintenis met NG Doornkloof is dus ongeldig – hy het geen beswaar tydens die kerkraadsvergadering geopper nie en hy het toegelaat dat Ellison die eerste bekendstelling van die seminaar in die kerkdiens doen waar hy gepreek het. Haar bekendstelling was geen verrassing vir hom nie want sy het dit vooraf met hom uitgeklaar.

Omtrent 65 mense het die seminaar bygewoon, waarvan heelwat gays en ouers van gays was.

Die hoofspreker en berader André Bekker het baie agterna gesprekke gehad.

Heelwat mense het positief gereageer op die inligting wat hulle baie insiggewend gevind het.

Ons kan vir die Here dankie sê vir die afloop en bid vir die nawerking van die Heilige Gees en dat Hy mense sal oortuig ooreenkomstig Sy wil.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui