Kairos is nie ‘skeurmakers’ of ‘homofobies nie’

*******

Kairos is nie ‘skeurmakers’ of ‘homofobies nie’ | Netwerk24

Arisa Schamrel

22 Julie 2022

Hulle is nie “homofobies” of “skeurmakers” nie, maar wil eerder na die “ware kerk” en ’n “Skrifgetroue” benadering terugkeer.

Dit was die boodskap van sprekers en paneellede oor die Kairos Netwerk en die dominees, gemeentes en kerkrade wat saam met hulle staan.

Hulle glo wel dat die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk nie meer die Woord as sentraal ag tot hul besluitneming nie en dat hervorming wel nodig is.

Verskeie sprekers het op Kairos se familiebyeenkoms oor die “liberale teologie” van die AS gewaarsku.

Die byeenkoms het Donderdag in Pretoria begin en duur tot Vrydag.

Die Kairos Netwerk is kort ná die besluit oor selfdegeslagverhoudings op die AS se vergadering in 2019 gestig as ’n netwerk waar behoudendes mekaar kan ondersteun en in hul besluite oor ’n toekoms in die NG Kerk lei.

Die NG Kerk het met dié besluit ruimte vir selfdegeslagverhoudings in die kerk geskep.

Onderwerpe soos Skrifgetrouheid, opleiding in teologiese fakulteite en die kerkregtelike visie van die Kairos Netwerk word op die byeenkoms bespreek.

Dr. Gert Duursema, ’n voormalige lid van die AS, het gewaarsku teen die liberale teologie van die AS en strukturele verbondenheid van die kerk.

“Christus is die Kerk, nie die mens nie. Waar daar genade is, is daar Kerk. Die Kerk is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie,” sê Duursema.

Hy het die standpunt van ds. Piet Otto, wat voor hom aan die woord was, beaam dat die Kerk nie in strukturele afhanklikheid, soos met die AS, moet leef nie.

“Dit is die liberale dwaalleerders wat die Kerk probeer skeur – ons probeer dit weer heelmaak. Ons is die slagoffers van ’n hiërargiese stelsel,” sê Otto.

Hy het gemeentes beskryf as “kinders” wat eers by “ouers” (die AS) moet toestemming kry voordat hulle besluite neem.

Kerke in krisis

“Die NG Kerk is in ’n krisis. Die Here van die Kerk is nie in ’n krisis nie. As God nie ’n krisis het nie, moet ek net by Hom die antwoorde gaan kry oor dit waarmee ons besig is,” sê Otto.

Dr. Johan Otto, voorsitter van die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG), het met Otto saamgestem maar bygevoeg dat alle kerke in ’n krisis is.

Die GHG het weggebreek van die Nederduits Hervormde Kerk ná laasgenoemde se besluit om hom van die teologiese regverdiging van apartheid te distansieer.

Johan het daarop gewys dat die besluit, net soos die AS se 2019-besluit oor homoseksualiteit, bloot ’n katalisator was.

Hy het benadruk dat die Kairos Netwerk nie “homofobies” is nie, net soos wat hulle nie “rassisties” is nie.

“Dit was besluite wat die hele proses aan die gang gesit het, maar dit gaan oor dwaalleer en swak teologie,” sê Johan.

Ds. Schalk Strauss van die AP-kerk sê hulle is ook al as “rassiste” en “skeurmakers” uitgekryt, maar het sy eie denominasie en Kairos verdedig.

Ds. Helgaard Janse van Rensburg, wat ná Otto se aanbieding die paneelgesprek gelei het, sê dit is juis oor die etikette dat die AS nie hul klagtes ernstig opneem nie.

“Ons praat, maar dit voel vir jou jy word nie gehoor nie, juis oor die etiket wat aan jou toegeëien is,” sê Janse van Rensburg.

Samewerking nou nodig

Dr. Johann “Tokkie” Ernst het dit duidelik gemaak dat Kairos inklusief te werk wil gaan.

“Ons kan oor grense en kerke heen bymekaar uitkom,” het Ernst gesê, maar benadruk dat die inklusiwiteit en diversiteit aan Skrifgetrouheid en ’n wedersydse verstaan van die teologie gekoppel is.

Hy sê die AP-kerk, GHG, die Vrye Gereformeerde Kerke asook organisasie uit die VSA en Nederland het by Kairos kom aanklop en nie andersom nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui