Kairos: ‘Gemeentes moet deur sieklike afhanklikheid van NGK-sinode breek’

*******

Kairos: ‘Gemeentes moet deur sieklike afhanklikheid van NGK-sinode breek’ | Netwerk24

Arisa Schamrel

21 Julie 2022

“Ons is soos kinders wat afhanklik is van die grootmense. Ons moet eers vir iemand anders gaan vra is dit reg voordat ons iets doen. Dit is ’n sieklike afhanklikheid waardeur ons moet breek.”

So het ds. Piet Otto gemeentes se afhanklikheid van die algemene sinode (AS) van die NG Kerk beskryf.

Otto was ’n spreker op die Kairos-netwerk (KN) se familiebyeenkoms wat Donderdag en Vrydag by die AfriForum-teater in Pretoria plaasvind.

Die KN is kort ná die besluit oor selfdegeslagverhoudings op die AS se vergadering in 2019 gestig as ’n netwerk waar behoudendes mekaar kan ondersteun en lei in hul besluite oor ’n toekoms in die NG Kerk.

Die KN het tydens sy eerste sessie benadruk dit gaan nie net oor selfdegeslagverhoudings nie, maar ook die Skrifgetrouheid en struktuur in die kerk.

Die Alliance of Reformed Churches in Amerika het deur ’n videoboodskap ook sy ondersteuning aan die KN beloof.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die KN, sê die groep het hulle ook lidmaatskap aangebied, maar het benadruk dat die KN se “roeping” nou nog in Suid-Afrika is.

Otto het ook benadruk dat hul doel nie kerkskeuring is nie.

“Dit is die liberale dwaalleerders wat die kerk probeer skeur – ons probeer dit weer heelmaak. Ons is die slagoffers van ’n hiërargiese stelsel,” sê Otto.

’n Paneelbespreking, met ds. Helgaard Janse van Rensburg as die voorsitter, het beslis dat gemeentes op hul eie steeds ’n kerk moet wees, sonder ’n afhanklikheid van die AS.

Verteenwoordigers van die AP Kerk en Geloofsbond van Hervormde Gemeentes sê hulle sit met dieselfde probleme in hul denominasies.

• Hou Netwerk24 dop vir meer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui