Hierdie bladsye al uit die Bybel geskeur

*******

Hierdie bladsye al uit die Bybel geskeur | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

22 Julie 2022

Die berig “Skrywer skeur haar boek op” (19.07) het my getref. Veral waar Carien Smith sê sy dink een van die groot probleme vandag is “waarheid”. Dit het my laat dink aan die dolerendes van die NG Kerk.

Hulle maak beswaar teen die algemene sinode en die liberale teoloë aan universiteite wat effektiewelik ook sommer die bladsye van die Bybel uitskeur as hulle nie van die “waarheid” daarin hou nie. Die bladsye van die eerste 11 hoofstukke van Genesis is al lankal uitgeskeur, want sien, God is nie die Skepper nie, dis alles sommer wolhaar- en metaforiese stories wat vir klein kindertjies bedoel is.

En Jona? Nee wat, hy is eintlik queer. Los hom maar in, want hy help ons om die hele Bybel te her-queer, soos wat die NGK teoloë by die onlangse konferensie by die Universiteit Stellenbosch gedoen het. Dan is daar die ou duiwel, of Satan self. Die moderne mense kan mos nie in so iets glo nie, so skeur alle bladsye oor hom uit. Al het Christus self in gesprek met ou Nick getree, maak nie saak nie.

En Christus? Ja, goeie morele leier, maar van sy stories oor sy maagdelike geboorte, opstanding, ensovoorts, is maar vergesog. Om nie te praat van Sy oulike storie oor die opwekking van Lazarus nie. Die moderne mens weet mos dis alles nonsens. Die wetenskap bewys die onsin van die Bybel. Skeur maar uit, asseblief.

En dan is daar die “NGK Droom Scenario 2030”. Los asseblief maar ’n paar bladsye van die Bybel in sodat ons seker is dat wanneer ons by 2030 kom daar nog ietsie oor is van die Bybel, al is al die “waarheid” al uitgeskeur. Maar moenie nou al te veel uitskeur en te veel skietgoed vir die dolerendes gee nie, want hul stemme is klaar te dik!

1 thought on “Hierdie bladsye al uit die Bybel geskeur”

  1. Ja nee , die mens ga nog die hele Bybel uitskeur …. todat dat daar net een ou bladjie oor is … ai die swakheid , die pride en die status van soveel dominees en afrikaners , …. windgat in gemeente , weet alles … ma inni stilte het hy ook maar etter geraak !!! ( jy weet mos die dwalende oog of die “regverdige leuen “”
    nou ja !!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui