‘Kairos is al wat keer dat NG Kerk nóg lidmate bloei’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘Kairos is al wat keer dat NG Kerk nóg lidmate bloei’ | Rapport

Johan Eybers

Rapport, 7 Mei 2023

Die NG Kerk se aanvaarding van selfdegeslagverhoudings is een van die redes waarom 73 000 belydende lidmate (11%) die kerk die afgelope vier jaar verlaat het.

So het Arnold Griesel, ’n afgevaardigde van die Bethulie-gemeente, die afgelope week by die Koinonia Sinode se vergadering vir behoudende gemeentes in Vanderbijlpark gesê.

Hy sê ook die selfdegeslag-beleid is een van die redes waarom die kerk jaarliks gemiddeld 50 predikante in vaste poste verloor.

“As dit nie was vir Kairos Netwerk se stappe om skrifgetroue (behoudende) lidmate en gemeentes saam te snoer en om kerkskeuring te voorkom nie, sou veel meer gemeentes en lidmate al uit kerkverband getree het,” het hy gesê.

Kairos Netwerk is ’n behoudende groep gemeentes van die NG Kerk.

“Hierdie uittog is onrusbarend. Slegs 20 000 lidmate het die Gereformeerde Kerk die afgelope vier jaar verlaat teenoor 73 000 lidmate van die NG Kerk. Die getal mense wat die NG Kerk in vier jaar verlaat het is gelykstaande aan die totale lidmaatskap van die Gereformeerde Kerk, wat tans minder is as 70 000 lidmate.”

Die Gereformeerde Kerk se lidmaatskap het die afgelope vier jaar van 90 000 tot 70 000 (22%) gedaal.

Volgens Griesel toon syfers uit die NG Kerk se jaarboeke dat lidmaatskap tussen 1986 en 2022 van 1,4 miljoen tot 617 005 in 2022 gedaal het – ’n daling van 56%.

Tussen 1986 en 2022 het die wit Afrikaanssprekende bevolking van 2,9 miljoen tot 2,7 miljoen gedaal (7%).

Volgens Griesel toon syfers dat die kerk sy tradisionele ondersteunersbasis vervreem het.

Hy sê as die gemeentes wat ongelukkig is met die kerk se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings nie gedoleer (treur) het nie “en nie ’n tydelike hawe van hoop binne die Kairos Netwerk gevind het nie” “sou veel meer lidmate verlore gewees het vir die NG Kerk”.

Dr. Gustav Claassen, hoofsekretaris van die NG Kerk, sê egter dit is moeilik om lidmaatgetalle te bepaal, “selfs vir diegene wat nougeset probeer boekhou van getalle”.

“Baie gemeentes, veral makro-gemeentes, hou nie meer regtig streng boek van lidmaatgetalle nie. Bewys van lidmaatskap word nie meer deurgaans aangevra en oorgedra soos in die verlede nie wanneer lidmate van gemeentes verwissel.”

Hy sê lidmaatgetalle krimp om verskeie redes soos ’n daling in geboortesyfers, veroudering en emigrasie.

“Die hoofstroomkerke ervaar almal presies dieselfde tendense en dit is nie eie aan die NG Kerk nie.”

Om ’n daling in lidmaatskap aan ’n kwynende kerk te koppel hou eenvoudig nie steek nie en is om die minste te sê ’n kwaadwillige afleiding, sê hy.

Volgens Claassen is die NG Kerk dalk kleiner wat getalle aanbetref, maar speel ’n groter rol in die land wat betref gemeenskapsbetrokkenheid, versoening, samewerking en leiersrolle in plaaslike en internasionale kerklike strukture.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Koinonia Sinode, het aan Rapport verduidelik dat daar verwarring kan wees dat hulle na hulself as ’n Sinode verwys.

Volgens Knoetze poog hulle nie om bestaande sinodes te vervang of te dupliseer nie. Hy sê hulle beskou hul Sinode as ’n kerkvergadering van behoudende NG Gemeentes en lidmate wat saam op dieselfde pad wil loop.

Hy sê 56 gemeentes was by Donderdag se vergadering verteenwoordig in opdrag van hul kerkrade om oor aanbevelings en verslae te stem.

Die Sinode het onder meer besluit dat behoudende gemeentes solank as moontlik deel moet bly van hul huidige ringe en sinodes om “kerklike strukture van binne te vernuwe” “en nie kerkskeuring moet soek nie”.

Volgens ’n verslag van ds. Theo Danzfuss van Kairos Netwerk poog hulle sedert 2020 om sinvolle gesprekke met die algemene sinodale moderamen (ASM) te voer om kerkskeuring te voorkom, maar dat hul skriftelike voorleggings en persoonlike gesprekke met die ASM se dagbestuur “vrugteloos was”.

“Kairos Netwerk het tot baie onlangs nog skriftelik aan die ASM gevra of hulle bereid sou wees vir ’n proses van mediasie om ’n oplossing te probeer vind. Die ASM-dagbestuur het summier geweier, sonder om eers die brief aan die volle ASM-vergadering voor te lê,” lui Danzfuss se verslag.

Volgens Danzfuss hou hul naam “skynbaar vir sommige ’n groot bedreiging in”.

“Ons hoor gedurig uitsprake wat Koinonia-sinode melaats verklaar.

“Gemeentes, lidmate, kerkrade en leraars word gedreig dat leraars hul ampsbevoegdheid of pensioen- en mediese voordele of selfs kerklidmaatskap gaan verbeur as hulle Koinonia-sinode ondersteun.”

Knoetze sê dit is so dat daar mense by die vergadering is wat kerkskeuring voorstaan.

“Hulle sê daar word net gepraat maar niks gedoen nie. Dit maak dinge moeilik, maar ons glo die Here se lig moet van binne af werk.”

Prof. Hoffie Hofmeyr sê in sy verslag “Reformasie in teologiese opleiding” dat hulle bekommerd is dat teologiese opleiding in die NG Kerk en veral by sy drie fakulteite in Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein agteruit gaan. Die fakulteite gee glo beperkte aandag aan die gereformeerde belydenis.

Volgens hom het hulle reeds gesprekke gehad met die Gereformeerde Teologiese Akademie in Potchefstroom en die Afrikaanse Protestantse Akademie met die oog op “klassieke gereformeerde opleiding”.

Hy sê die Koinonia-sinode sal eers “locus standi” moet kry om ooreenkomste te kan sluit en verder te onderhandel met teologiese opleidingsinstansies.

Die Koinonia-sinode het aan die einde van hul vergadering verklaar dat die Algemene Sinode se besluit om sy seën te plaas op die “lewenswyse van praktiserende homoseksuele lidmate” “uiters wreed en liefdeloos is”.

“Dit ontneem sulke mense die voorreg van bevryding deur sondebelydenis en bekering.”

Volgens die verklaring is hul “getuienis” nie gerig teen die NG Kerk as sodanig nie, “maar teen die liberale indringers wat reeds verskeie kansels en sinodale vergaderings gekaap het”.

Dit lui: “Al ons pogings om beswaar te maak teen verskeie on-Skriftuurlike besluite van die Algemene Sinode het op dowe ore geval. Daarom verklaar ons nou getrou aan die kerkorde al daardie on-Skriftuurlike besluite as nietig asof dit nie bestaan nie.”

Die Koinonia-sinode “pleit” verder dat die NG Kerk “so gou as moontlik sy erkenning van die huidige teologiese opleiding by die drie staatsbeheerde teologiese fakulteite sal staak en sal toesien dat voornemende leraars elders deeglike gereformeerde teologiese opleiding sal kry”.

Knoetze sê hulle hoop dat behoudende gemeentes hul stem sal dik maak oor hul beginsels by kerkvergaderings op plaaslike en streeksvlak en dat dit ’n impak sal hê op die vierjaarlikse sitting van die Algemene Sinode van 15-20 Oktober in Boksburg.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui