Kairos wil nié wegbreek van NG Kerk, maar ‘van binne suiwer’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Kairos wil nié wegbreek van NG Kerk, maar ‘van binne suiwer’ | Netwerk24

Susan Cilliers

Beeld, 6 Mei 2023

Die Kairos Netwerk wat die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk van binne wil reformeer, het Donderdag sy eerste sinode gehou.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter tydens die Koinonia Sinode in Vanderbijlpark, sê die doel van die vergadering was sodat “behoudende” gemeentes landwyd mekaar kan bemoedig. Knoetze het benadruk dat die Kairos Netwerk juis nie wil wegbreek van die NG Kerk nie, maar “soos sout in lig” binne die kerkstrukture wil protesteer teen die “onbybelse hantering van sommige sake”.

“Ons beskou onsself steeds as reformerend en wil daarom van binne af suiwerend werk.”

Een van die belangrikste beginselsake waarvoor Kairos veg, is die hantering van Skrifbeginsels in besluitneming oor moeilike sake soos selfdegeslaghuwelike in die kerk. Die NG Kerk se algemene sinode het in 2019 besluit gemeentes en Kerkrade kan volgens hul eie diskresie handel om wel sulke huwelike te voltrek.

Dit beteken volgens Knoetze “sonder twyfel” dat die Algemene Sinode namens die NG Kerk hul seën geplaas het op selfdegeslag- seksuele verhoudings, gelyk aan die verhouding in ’n huwelik tussen man en vrou.

Die Kairos Netwerk neem op sy webwerf standpunt in teen wat hy noem die afwatering van Bybelse voorskrifte oor sake soos byvoorbeeld die huwelik: “Deur die hele Bybel, van Genesis tot Openbaring, word ’n romantiese verhouding wat vir God aanneemlik is, uitgebeeld as ’n verhouding tussen ’n man en ’n vrou . . . Verder, waar daar na selfdegeslagverhoudinge in die Bybel verwys word, in die Ou én Nuwe Testament, word dit met afkeur gedoen.”

Knoetze sê afgevaardigdes uit al nege provinsies van Suid-Afrika het die Koinonia-sinode bygewoon. “Die woord sinode verwys in hierdie geval bloot na ’n vergadering van gemeentes wat saam dieselfde pad wil loop binne die konteks van die kerk. Dis dus nie ’n sinode wat ander NG Kerk-sinodes vervang nie. Tydens die vergadering het die afgevaardigdes van behoudende gemeentes weer hul gereformeerde identiteit en erfenis bevestig, asook die feit dat ons nie saamstem met sekere besluite wat die Algemene Sinode geneem het nie.”

Afgevaardigdes is ook aangemoedig om hul beleidsbesware tydens streeksinodes te lug.

Knoetze het Vrydag gesê die ander belangrike besprekingspunt tydens die Koinonia Sinode Donderdag, was oor die opleiding van NG predikante. “Onder meer die lae getalle studente en die hoë koste van die studies is ’n probleem. Ons wil dus kyk hoe ons met ander gereformeerde instansies kan saamwerk om steeds skrifgetroue, suiwer opleiding te bly verskaf. Die ander hedendaagse probleem is dat die opleiding nie altyd meer werklik gereformeerd is nie.”

Die Kairos Netwerk pleit daarom dat die NG Kerk so gou moontlik sy erkenning van die huidige teologiese opleiding by die drie staatsbeheerde teologiese fakulteite in Suid-Afrika staak en toesien dat voornemende leraars elders deeglike gereformeerde teologiese opleiding kry.

“Ons het al verskeie versoeke ontvang vir nouer skakeling met erkende gereformeerde kerke binne- en buitelands,” sê Knoetze. “Ons glo ook dat die ware kerk veel groter is as enige sinode of denominasie.”

Die Kairos Netwerk se kernstandpunt is dat die NG Kerk sy kerkordelike plig versaak het om sy beleid noukeurig in ooreenstemming met die Skrif en die gereformeerde belydenisse te formuleer. Volgens die groep is verskeie besluite geneem wat in stryd is met die Woord.

“Die kerk se missionêre opdrag in die Skrif om dissipels te maak van alle nasies deur die Evangelie te verkondig en mense tot geloof en bekering te lei, is besig om in die NG Kerk plek te maak vir ’n humanistiese ‘missionale teologie’ waar meer klem gelê word op ’n sosiale evangelie van menseregte en politieke regte as op die verlossing uit sonde deur geloof en bekering,” sê Knoetze.

Kommentaar

xxx

3 thoughts on “Kairos wil nié wegbreek van NG Kerk, maar ‘van binne suiwer’”

  1. Alhoewel ek begrip en waardering vir die standpunt het van nie skeur en van binne wil reformeer, betwyfel ek die waarde daarvan om dit ongekwalifiseerd te wil toepas. Die gekaapte en misleide ASM en AS sal dit beskou as ;n oorwinning aangesien dit pas in hulle verkondiging van hul ruim huis benadering en dit gee aan hulle moed om uit te hou en aan te hou op hulle pad, aangesien die geskiedenis bewys dat hul teenstanders moeg en uitgeput raak en moed opgee deur te wil aanhou om aan te dring om verandering terwyl daar geen behoefte by die AS is om te verander nie.

    Tweedens is die aandrang om nie te skei nie onskriftuurlik en ongehoorsaam aan God se Woord. Ek is van mening dat dit meer effektief sal wees en gehoorsaam aan die Skrif indien mens ‘n ernstige oproep tot bekering sal doen op die AS en indien dit nie by die volgende sitting plaasvind nie, die weg van die Woord te volg en uit te gaan van die ongehoorsame AS. Laat dan toe aan die Here om te doen met Sy kerk wat Hy ookal wil doen. Ons kan nie bekostig om ‘n struikelblok te wees in die werking van die Here nie.

    Ek hoop regtig dat die besluite geneem word om gehoorsaam aan God te wees en nie om eie belang of finansiële gewin nie.
    .

  2. Met verwysing na: * Die Kairos Netwerk neem op sy webwerf standpunt in teen wat hy noem die afwatering van Bybelse voorskrifte oor sake soos byvoorbeeld die huwelik: “Deur die hele Bybel, van Genesis tot Openbaring, word ’n romantiese verhouding wat vir God aanneemlik is, uitgebeeld as ’n verhouding tussen ’n man en ’n vrou . . . Verder, waar daar na selfdegeslagverhoudinge in die Bybel verwys word, in die Ou én Nuwe Testament, word dit met afkeur gedoen.” *

    Die hartseer is die groot donkerbril wat Kairos dra en die Lig van Christus laat skyn met filtreerde reënboogglans, wat nog steeds vanuit hul eie harte skyn, eerder as Sy Helder Heilige Lig.

    “Selfdegeslag huwelike” is op gelyke voet met soveel ander kompromieë in die kerk, maar dít word nie waarlik as sódanig geglo, en dus gepredik vanuit die hart nie. Andrew Murray het tereg opgemerk in 1912, dat die groot aanwesige biddeloosheid van leraars gróót sonde is, en bely moet word. En dít komende vanuit 1912…

    Romeine 1 word gewoonlik en steeds gelees deur meesste lesers, as vér meer verdoemend teenoor Romeine 2 se woorde, wat getuig van ‘n diep verskuilde Fariseërhart by die Bruid van Christus, wat haarself so mooi as ‘geestelik behoudend lig ‘ verhelder na die buite wêreld. Die NG Kerk het meer as 100 jaar gelede, nog nooit waarlik en diep en opreg in berou gegaan na die Troon van die Hemelse Vader nie, wat die verloop van die geskiedenis in SA sou verander het. Dit geld ook vir menig ánder denominasies, insluitend Pinkster en Charismatiese oriënteringe.

    Die Bybel word toenemend gepreek as ‘voorwaardelik’ deur die Gees inspireerd, eerder as ten volle inspireerd.

    Menige behoudende leraars meen hul boodskappe is “vleis”, en nie “melk”, maar die Gees van Christus se Geweldige Lig breek nie deur, want die harte is soos rots van Superman se Krypton. Daar is ‘n “witchcraft spirit” só groot en omvangryk in moderne kerke , en hul eien haar nie eens. Duiwels skrik nie vir onboetvaardige leraars nie, al klink hul preke soos Charles Spurgeon, en al ken hul elke nuans van Johannes Calvyn en Luther en die Puriste en menige geskrewe Bybelkommentaar, of selfs elke preek van John G Lake of John Macarthur.

    Ken hul waarlik die Gees se hartklop? Hoor hul die hartklop van die Vader in hul eie hart? Of meen hul Hy woon in ‘woorde’ eerder as in ‘n mensehart? Of is die Gees soos ‘n motorenjin waarvan die bestuurder die voertuig kan gebruik en bestuur na willekeur?

    Die Hartklop van die Hemelse Vader klop nie meer vanaf meesste sg. “behoudende leraars” of pastore se podiums nie, want hul “selfbehoudende woorde” is soos lou vuil skottelgoedwater in ‘n afvoerpyp na die drein.

    Ware en opregte prediking behoort te vloei soos Lewende Water vanuit die Hemelse Rivier, en die strome daarvan behoort lafenis en heling te bring vir die dorstige siel en bereik só hárt se binnekamers.

    Wanneer sal Christus opstaan uit die Ou Testament met dieselde Lig as in Johannes 1 vanuit leraars se harte? Calvyn of Luther het nie Johannes of Petrus se Lig gehad nie : Hul onbelyde sonde het 500 se “gas light” van klein kersvlam na groot “Sasolburg aanlegvlam” laat ontvlam, met verwysing na die moderne wêreld as argitekte van hedendaagse afvalligheid, terwyl die Kerk self só afskuwelik vuil en afvallig is, en steeds meen sy dra die Glans van ‘n skoon Bruid.

    Sonder belydenis, vloei Genade nie.

  3. Kerk wil nie wegbreek nie, maar wil van binne suiwer???????
    Wat ‘n stupid probleem!!! Jy kan nie jouself suiwer as jy nog ‘n aartjie of konneksie het met die NGK nie. Die hele NGK het soos ‘n 1000 albasters op teel rugbyveld uitmekaar gespat en nou het hulle vergadering op vergadering op vergadering om TE KYK in watter rigting hulle nou moet beweeg ….. agv van baie issues soos “”” maak maar die oë toe en vee alles onder die mat”” …. ou fossiele wat skaars regop kan staan!!!!!!!!!!!!!!!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui