Johann Rossouw: Die erge lyding wat ongeloof kan bring

*******

Johann Rossouw: Die erge lyding wat ongeloof kan bring | Netwerk24

Johann Rossouw

Sondag, 19 Junie 2022

As voorgraadse student sit ek op ’n dag in die klas van ’n uitstaande dosent. Iets wat hy in die lesing sê, sit my aan die dink, in so ’n mate dat ek niks van die res van die lesing weet nie, en aan die einde van die klas skoon benoud na hom toe gaan met die gedagte waarby ek uitgekom het.

“Doktor,” begin ek, “hoe gemaak met die volgende probleem? As God alles geskep het, het Hy ook die bose geskep, of minstens die moontlikheid van die bose, wat moet beteken God is nie volledig goed nie. Óf as Hy nie die bose of die moontlikheid daarvan geskep het nie, beteken dit Hy het nie alles geskep nie en Hy is nie almagtig nie.”

Die dosent skater van die lag, korswil dat as ek so aanhou het ek dalk ’n goeie toekoms in die teologie, en leer my toe die vakterm vir wat ek verkeerdelik gedink het ’n oorspronklike vraag was, naamlik die teodiseevraag, soms ook só geformuleer: As God so goed en liefdevol is, waarom is daar dan soveel lyding in die wêreld? Nog erger, waarom ly selfs gelowiges soms die vreeslikste dinge?

Die vraag is natuurlik so oud soos die Christendom self, byvoorbeeld wanneer Christus ’n man wat van geboorte af blind was, genees. Volgens die Evangelie van Johannes vra Christus se dissipels Hom: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?”

Hierop antwoord Christus: “Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig; maar dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word.” (Joh. 9:2-3)

Daarmee verskaf die grondlegger van die Christelike tradisie ’n eerste antwoord op die teodiseevraagstuk – soms word God deur menslike lyding geopenbaar.

Die tradisie het egter nie hiermee volstaan nie, en hier kan verwys word na twee van die belangrikste vroeë Christelike denkers, naamlik Dionisius “die Areopagiet” en Augustinus.

Dionisius bly ’n ietwat mistiese figuur van wie ons omtrent net weet dat hy ’n Siriër was wat iewers tussen die laat vyfde en vroeë sesde eeu geleef het. Hy staan bekend as “die Areopagiet” omdat van sy vroeëre lesers hom verwar het met ’n ander Dionisius, ’n lid van die Atheense regbank, die Areopagus, wat volgens Handelinge 17:34 danksy Paulus se prediking ’n Christen geword het.

Hoe ook al, die Siriese Dionisius gee in sy Die goddelike name ’n tweede klassieke antwoord op die vraag hoe die bose kan bestaan, naamlik dat die bose geen selfstandige bestaan geniet nie, maar slegs “bestaan” as die pervertering of verdraaiing van die goeie – soos wat verkragting die pervertering van liefdevolle geslagsgemeenskap is, of soos wat, in Van Wyk Louw se woorde, “liefde so tot haat kon skif”, of soos die Lucifer-figuur wat as die heerlikste onder die engele teen God in opstand kom en self God se plek wil oorneem.

Samehangend hiermee is ’n derde klassieke antwoord, dié van Augustinus.

Augustinus worstel met ’n vraag wat hy erf van die antieke Griekse filosoof Plato. Volgens Plato verlang die mens van nature na die goeie, wat die vraag laat ontstaan waarom mense dan soms die bose of die slegte bo die goeie kies.

Vir Augustinus is die goeie ten diepste God en al die goeie dinge wat God tot die mens se beskikking stel, en sy antwoord op waarom ’n mens dan tog die bose of die slegte kies is dat die mens in onkunde die slegte of die bose verkeerdelik vir die goeie aansien, soos ’n mens uit onkunde oor die gevare van kitskos jou daaraan kan ooreet – dis smaaklik, maar dis nie goed vir jou nie.

Volgens Augustinus hang hierdie kwessie ten nouste saam met die feit dat God aan die mens ’n vrye wil gegee het – as die vrye wil nie verlig word deur gemeenskap met God nie, word die vrye wil ’n voertuig waarmee die mens in onkunde die bose of die slegte kies. En belangrik vir Augustinus – tekenend van die liefde van God – is dat God die mens nie in ’n rigting dwing nie.

Met ander woorde, as die mens vrye wil gebruik om teen God te kies of teen die goeie is dit tekenend van God se liefde dat God die mens laat begaan, wat insluit dat die mens toegelaat word om die gevolge van slegte keuses te dra, en wat dikwels vir die mens leersaam is en help om die mens tot insig oor die wenslikheid van die goeie te bring.

’n Vierde klassieke antwoord op die vraag na lyding is dat ons in ’n gevalle, gebroke wêreld leef. Christus verwoord iets hiervan wanneer Hy verklaar dat die een wat Hom wil volg sy kruis moet opneem en Hom volg (Markus 8:34), terwyl ook Paulus male sonder tal in sy sendbriewe verwys na die lyding wat hy juis weens sy verbintenis tot Christus ondergaan.

Met die belangrike beperking dat die lyding juis dit is wat ’n mens aan jou gebrokenheid herinner, en dat sonder hierdie bewustheid van menslike gebrokenheid is, enersyds, volledige oorgawe aan God onmoontlik en, andersyds, oorskatting van eie krag ’n gegewe. Laasgenoemde word grafies geïllustreer deur die enorme ekologiese skade en lewensverlies wat teweeggebring is deur die groot, moderne, anti-Christelike ideologieë wat ’n volmaakte wêreld beloof het soos die Nazisme, die Kommunisme en fundamentalistiese aanhangers van die wetenskap en die kapitalisme.

Die verhaal van Thomas en Christus kan in die verlenging hiervan soos volg vertolk word. Luidens die vertolking waarmee ek self en sekerlik geslagte Afrikaanse gelowiges grootgeword het, lê die fout by Thomas, aangesien Thomas uit sy ongelowigheid weier om die ander dissipels te glo dat Christus opgestaan het – vandaar dat hy in die volksmond as die ongelowige Thomas bekend staan.

Maar volgens die vertolking wat aansluit by die ouer tradisie oor die betekenis van lyding was Thomas wat die eietydse sielkunde beskryf as ’n traumasubjek, dit wil sê, iemand wat so deur ’n trauma ontwrig is dat die persoon tydelik nie in staat is om normaal te funksioneer nie.

In die geval van Thomas kan ons sê dat hy so deur die verskriklike dood van sy geliefde meester getraumatiseer was dat hy eenvoudig nie in staat was om die gedagte te verwerk dat Christus opgestaan het nie.

En verder, wanneer Christus dan weer aan die dissipels verskyn, hierdie keer met Thomas by, is die verstommende uit ’n Christelike oogpunt dat die liggaam van die verheerlikte Opgestane stééds die littekens van die kruisiging vertoon, en dat Thomas juis deur sy liggaamlike aanraking van die fisieke spore van Christus se eie trauma aan die kruis tot geloof kom, dit wil sê tot vólle oorgawe.

Die vyfde en laaste klassieke antwoord wat die Christelike tradisie op die vraag na lyding gee, en een wat miskien nuwe resonansie kry in die aangesig van die verdiepende ekologiese krisis, die Covid-19-pandemie en die verskriklike oorlog in Oekraïne, is dié van die apokalips wat ’n nuwe aarde sal voorafgaan.

In navolging van Augustinus se betoog van hoe gevaarlik vrye wil gekombineer met die onkunde van ongeloof is, en wat toenemend kenmerkend is van tradisionele Christelike samelewings, hoef dit ons nie te verbaas dat gevaarlike politieke en ekonomiese keuses van sulke samelewings vandag apokaliptiese lyding meebring nie.

In die lig van die voorgaande bly dit bisar om huidige of voormalige Christene te bevraagteken of God hoor op grond van lyding in die wêreld. Kan dit wees omdat hulle nie hul Christelike tradisie ken nie?

  • Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui