Dalk is God nou verlos van Retief

Kyk ook:

*******

BRIEF | Dalk is God nou verlos van Retief | Netwerk24

Sondag, 19 Junie 2022

Danie Pienaar, Strand, skryf:

Dis met ’n komiese gelag dat ek die “teoloog” Johan Retief se onkundige verwysing na Kris Kristofferson se woorde in ’n ikoniese lied gelees het. Retief kan dalk iets weet van die lewens van ongelowiges, maar hy kort ’n bietjie leiding wanneer dit kom by die vertolking van woorde uit liedere.

Hy haal aan uit ’n gedig waarvan die betekenis klaarblyklik by hom verby gegaan het. Die lied begin met die woorde “Busted flat in Baton Rouge” wat ’n prentjie skilder van iemand wat absoluut niks het om voor te lewe nie. Dalk is dit waar Retief hom op die oomblik bevind. Maar hy het blykbaar ook nie die insig om te verstaan dat hy nooit in sy lewe sal kan sê “Freedom is just another word for nothin’ left to lose” nie.

Hoe voel sy ewe ongelowige vrou as hy sê dat sy “nothing” is? Solank hy klere aan sy lyf het wat skoon moet wees, ’n dak oor sy kop het wat hy moet behou, ’n yskas het wat hy vol moet hou, kinders het, ’n hond het en ’n kar het en ’n ongelowige vrou wat afhanklik is van hom sal hy nóóit vry wees nie. Al het hy nie eens meer klere aan sy lyf nie, is hy nog gebonde (nie verlos) aan sy vel. Al wat Retief dalk kan sê, is dat hy niks het om te verloor nie omdat hy níks het om aan te bied nie.

Kristofferson se lied, waaruit Retief op so ’n onkundige manier aanhaal, vertel die verhaal van mislikheid, van vervreemding, van ronddwaal en eindig in elk geval waar hy sy metgesel verloor, op soek na familie en ’n beter lewe. Die vraag bly steeds: Waarvan is Retief dan nou sodanig “eg bevry”?

God het my, en miljarde Christene, nog nooit gebonde gehou nie. Dit kom my voor asof Retief ’n geweldige vervolgingswaan het. Hy voel nou verlos van God. Dalk is God nou verlos van hom.

Retief vra dieselfde vraag as mede-ongelowiges: “waar is God?” Ek stel voor hy maak sy oë oop en kyk, sy visie is duidelik maar beperk. Het Retief ’n siel? Ek wonder wat dink hy waar dit vandaan kom. En wat daarvan gaan word die dag as hy sy oë toemaak.

Ek dink die lied van Kristofferson is bo sy vuurmaakplek en dat hy liewer moet wegbly van intelligente poësie en eerder sy aandag wy aan dit wat belangrik is: Om sy lewe in heroënskou te neem en te wonder waarvoor hy eendag onthou sal word.

As hy sy “vryheid” dan so hoog ag, waarom is dit nodig om hom te bind aan sinnelose opinies en pogings om te oortuig?

Iets sê vir my hy is iemand wat soos ’n dooie blaar in die wind rondfladder en agter die opinies aanstrompel van ewedenkende soekendes. Daar is miljoene heidene in die wêreld wat dit nie noodsaaklik vind om hul standpunt aan Christene oor te dra nie. Dalk het hulle net meer om te doen as Retief.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui