Jean Oosthuizen afgedank

Let op Jean Oosthuizen se “geloofsverklaring” hieronder. Dit is skreiend dat iemand met so ’n geloofsoortuiging vir so lank die nuusredakteur van die NG Kerk se amptelike koerant, Die Kerkbode, was. Dit is net so goed SkepticSA vra vir Angus Buchan om hulle amptelike kommunikasie te behartig of ’n sendingorganisasie soos Operasie Mobilisasie of Geopende deure vra ’n ateïs of moslem om vir hulle te kom werk.

Verwante artikels:

**********

Inhoudsopgawe

Kerkbode en sy nuushoof se paaie skei finaal

2013-03-04 21:44

(Van Die Burger gekopieer.)

Malani Venter

STELLENBOSCH. – Die paaie van Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode, en dié van Jean Oosthuizen, nuusredakteur van dié blad, het nou finaal geskei.

Oosthuizen se tugverhoor is gister gehou en daar is besluit dat hy nie meer by die NG Kerk se nuusblad betrokke sal wees nie.

Dié verhoor het gevolg nadat Kerkbode as donateur vir gesprekke oor godsdiens by die Universiteit Stellenbosch se Woordfees onttrek het. Oosthuizen is kort hierna geskors.

TM, verbonde aan Bybel-Media, het aangevoer die rede vir die onttrekking is dat die bestuur en direksie nie daarvan bewus was dat die koerant as donateur sou optree nie.

Oosthuizen het gesê dít is onwaar. Hy moes toe hiervoor voor ’n tugkomitee verskyn.

Ds. Danie Mouton, voorsitter van TM se direksie, het gister op navrae oor die verhoor geantwoord.

“Tydskriftemaatskappy en mnr. Jean Oosthuizen het vandag ’n ooreenkoms bereik ingevolge waarvan ons weë op vriendskaplike basis skei.

“Die partye het ooreengekom om die inhoud van die ooreenkoms vertroulik te hou.’’

Oosthuizen het nie op navrae gereageer nie.

Intussen gaan die twee betrokke gesprekke, wat nou deur Protea-boekhandel aangebied word, op die Woordfees voort.

“Net een God?’’ is Donderdag om 11:00 in die Boektent. Vrydag om 10:00 word die gesprek “Hemel en hel?’’ ook in die Boektent aangebied.

Die fees duur tot Sondag.

– Die Burger

Oor die voorafgaande gebeure kan gelees word by Kerkbode se nuushoof geskors.

Kommentaar onder berig in Die Burger:

Susan Loubscher – Maart 5, 2013 om 00:47

As politieke joernalis het Jean Oosthuizen ’n dekade of so gelede sy werk met groot onderskeiding gedoen. Vandat hy by Kerkbode begin werk het was daar dadelik groot spanning. Hoekom? Jean skryf in Hier Staan Ek (Griffel Media, 2011) oor sy eie teologiese pad wat radikaal anders geword het as die basiese belydenis van die NG Kerk. Byvoorbeeld: hy glo nie dat Jesus liggaamlike uit die dood opgestaan het nie; hy glo nie dat Jesus maagdelike gebore is nie; en hy glo ook nie dat God ’n persoon is nie. As professionele joernalis by Kerkbode, sou hierdie teologiese standpunte nie noodwendig sy werk hoef te beinvloed het nie. Hy is immers ’n professionele joernalis wat objektiwiteit nastreef.

Die groot probleem het ingekom toe hy sy teologiese standpunte fanaties en met groot mag op verskeie forums begin verkondig het, en diegene wat meer konserwatief as hy was gereeld uitgevloek het met woorde soos “p*ph*l”, “k*k” om enkelle voorbeelde te noem. Hy het die mooiste berigte geskryf oor die meer liberale teoloe soos Julian Muller wat by sy eie teologie gepas het; maar ander met wie hy persoonlik verskil het, se berigte was gereeld ’n swartsmeerdery. Teen hierdie agtergond moet mens die TM en Kerkbdoe se optrede verstaan. Jean het reeds sy eie kerk begin: Kletskerk … gaan in vrede Jean, en maak asseblief nie van jouself ’n martelaar nie, want jy was nie een nie – gaan terug politiek toe – selfs ek erken jy was baie goed in daardie kader …

Kerkman liég, sê brief

2013-03-09 23:37

Pieter Malan in Rapport:

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Kerkman-lieg-se-brief-20130309

Die hel is nou behoorlik los by die Christelike uitgewers Bybel-Media (BM) nadat nóg ’n senior werknemer sy base vir leuenaars en ’n “verleentheid vir die kerk” uitgekryt het.

Die maatskappy is nou reeds ’n paar weke die middelpunt van debat in kerkkringe ná sy omstrede besluit om sy borgskap van ’n godsdiensgesprek aan die US Woordfees te onttrek.

Baie het gehoop die storm sal bedaar ná die bedanking van Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode en doring in die vlees van sommige konserwatiewe kerklui.

BM, ’n maatskappy sonder winsbejag, is die mediamaatskappy van die NG Kerk en uitgewers van Kerkbode en die tydskrif Lig.

Die maatskappy is afhanklik van skenkings en erflatings – veral van NG lidmate – om te oorleef.

Twee plofbare (maar naam­lose) briewe wat sedert voorverlede week die ronde doen, gee ’n aanduiding van hoe sleg dinge by die maatskappy se kantoor in Wellington gaan.

Die topbestuur bestaan grootliks uit dominees.

Dr. Pieter Fourie, uitvoerende hoof (foto), sowel as ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie, word openlik in die briewe uitgedaag om te bedank.

Volgens bronne binne BM het Fourie aanvanklik verklaar hy steur hom nie aan naamlose briewe nie.

Maar sake is dramaties op die spits gedryf toe die hoof van die maatskappy se publikasie- en video-afdeling, Danny Fourie, Maandag tydens die weeklikse personeelvergadering erken het hý het die briewe geskryf.

In sy brief aan Pieter Fourie kryt hy sy baas uit vir ’n “leuenaar” wat sy direksie “met halwe waarhede om die bos lei”.

Die bewering is dat Pieter Fourie sou gelieg het oor die feit dat “die regte kanale” nie gevolg is voordat besluit is dat Kerkbode ’n Woordfees-gesprek sou borg nie.

Luidens die brief is werknemers “skaam om deel te wees van ’n organisasie wat so min­agtend met die waarheid omgaan”.

Hy sê hulle werk juis by ’n Christelike maatskappy in die hoop dat dinge daar anders gedoen word as in die “sekulêre wêreld”.

Pieter Fourie se algemene bestuurstyl, sy “gereelde onbeskofte gedrag”, woede-uitbarstings, dat hy nie die mening van vroue ag nie en “beterweterigheid” kom ook onder skoot.

’n Vroue-werknemer wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê dié brief se bewoording is kras, maar verwoord baie werknemers se gevoelens. Sy sê Pieter Fourie is bombasties, onbeskof en onvoorspelbaar.

“Hy gee sy misnoeë gereeld te kenne deur te bulder: ‘Nee, dit sal nie so wees nie.’?”

Die brief aan Mouton, voorsitter van die direksie, wat blykbaar ook aan sy mededirekteure gestuur is, draai ook nie doekies om nie.

Hierin word beweer Mouton het “blatant gelieg” toe hy op RSG se nuusprogram Monitor oor die borgskap van die Woordfees-program uitgevra is.

“Ons land verkeer in ’n morele krisis en u wat die voorbeeld moet stel, u dien die leuen…

“Dan het u nog die vermetelheid om… te sê dat Kerkbode, soos die NGK, ’n bydrae tot genesing van ons land te lewer het. Hallo? Genesing in ons land? Maar die voorsitter van die BM-direksie lieg soos ’n tandetrekker!

“Iemand soos u behoort nie ’n verantwoordelike posisie… in die kerklike opset te vul nie.

“Ons hoop u kollegas neem kennis van hierdie gemors waarin u Bybel-Media en die Christelike gemeenskap met u leuens gedompel het.”

Danny Fourie het die afgelope week geweier om sy outeurskap van die brief te bevestig of te ontken.

“Ek hoop jy verstaan dat ek nie hierop kan reageer nie.”

Rapport het die gebeure tydens Maandag se vergadering by twee onafhanklike bronne bevestig.

Mouton het Vrydag gesê ’n onafhanklike konsultant het reeds begin om die beweringe te ondersoek.

“Ons verstaan die personeel se emosies. Ons probeer om gefokus te bly op die maatskappy en die geluk van ons personeel.”

Hy wou nie kommentaar lewer oor die bewerings dat hy “soos ’n tandetrekker” gelieg het nie.

“Dit is deel van die ondersoek.”

Hy sê geen tugstappe word teen Danny Fourie oorweeg nie.

Pieter Fourie het teen druktyd nog nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

**********

Hanlie Retief gesels met Jean Oosthuizen

2013-03-09 23:36

Rapport:

http://www.rapport.co.za/Rubrieke/HanlieRetief/Hanlie-gesels-met-Jean-Oosthuizen-20130309

In ’n groen hoek van Stellenbosch se botaniese tuin, met die Woordfees net ’n agtergrond-roesemoes, sit Jean Oosthuizen hande oormekaar.

Sy oë lyk tam. Daar’s ’n glimlag op sy lippe; kommer in sy agterkop. Hy’s 55, wit, ’n Afrikanerman en die kerk het hom pas ge-fire.

Of eerder: Hul “weë het geskei”, soos die NG Kerk se Tydskriftemaatskappy (TM) – Kerkbode se uitgewers – dit stel.

Laas maand het Kerkbode as borg vir godsdiensgesprekke op Stellenbosch se Woordfees onttrek omdat Oosthuizen, Kerkbode se nuusredakteur, glo nie sy bestuur van dié deelname verwittig het nie.

Hulle hét geweet, het Oosthuizen gereageer, maar ná ’n tugverhoor is hy sy pos kwyt.

Steun vir hom stroom van alle oorde in. Sy Facebook-blad “loop oor” van goeie wense. Vroeër die oggend het Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, hom gebel met “waardering vir my en my werk”.

“Hy sê hy’t nooit getwyfel aan my objektiwiteit in beriggewing nie. Ek waardeer sy oproep verskriklik. Want ná alles is ek nou sonder ’n werk en daar’s absoluut niks vir my op die horison nie.”

Selfs konserwatiewe, plattelandse predikante met wie Jean vroeër kopgestamp het, bel hom en sê: “Hulle’t nie reg gemaak met jou nie.” Manne soos FD Hugo (Kimberley) en die kerkhistorikus Gerdrie van der Merwe.

Tydens die Woordfees se Net een God-gesprek is hy met ’n handeklap begroet.

Oor die skikking met TM mag Jean nie praat nie. Senior kerkmense het wel bedenkinge oor die korrektheid van die amptelike weergawe van gebeure uitgespreek. Daar is aanduidings dat TM die waarheid effens aanpas.

Kortom, soos ’n joernalis opmerk, is dit business as usual: binnegevegte, voorskriftelikheid, vinnige omset van personeel.

“Ek is ontnugter,” het Anton Pienaar, ’n vorige redakteur, destyds aan Rapport gesê ná sy bedanking.

Is daar ’n skroef los by Kerkbode? Of by Bybel-Media, waaronder TM val? Of is dit net ’n simptoom van ’n groter probleem: Die NG Kerk wat sukkel om al sy uiteenlopende stemme in één koor te hou?

Of het Jean Oosthuizen net sy hand oorspeel nadat hy die gereformeerde leeu se snorbaarde al hoeveel keer getrek het?

“Dis wáár dat ek vrae vra wat vir sommige mense ongemaklik is. Maar dis vrae wat in baie mense se gemoed leef.”

Natuurlik moet Kerkbode as NG Kerk-koerant binne ’n bepaalde raamwerk beweeg, sê hy, maar in elke uitgawe staan die leuse: “Vandag se kerkkoerant vir vandag se kerkmense.”

“Hy moet praat met vandag se mense. En, natuurlik, die stemme van álle kante moet gehoor word.”

Het hy alle kante laat hoor?

“Mense dink ek het in Kerk­bode geskryf net wat ek wou.

“Maar dit werk nie so nie; elke berig gaan deur ’n proses, met die hoofredakteur as hekwagter.”

Kerkbode is juis daar om na alle stemme te luister, sê hy.

Van die hardste goed wat gesê is, kom van die fundamentaliste soos Hennie Mouton. “Mense wat hul mes vir my in het, is ook dié wat kerkleiers soos Johann Symington, Ben du Toit en Nelus Niemandt as dwaalleraars aangevat het in die boek Die Trojaanse perd in die NG Kerk.”

Hy wás soms ’n bietjie moedswillig?

Hy gee ’n laggie daar op die tuinbank; noem die gay-debat as voorbeeld. “Ek het met Laurie (Gaum) gepraat oor die onregte wat teenoor hom gepleeg is, toe’s gesê ek dryf ’n gay-agenda.

“Nou as dít moedswillig was, dan ís ek moedswillig. Maar dis brandende vrae wat op die tafel móét kom. Soos Belhar. Selfs as ek die woord ‘Belhar’ in ’n Kerkbode-opskrif wou gebruik, is kapsie gemaak – dat dit konserwatiewe lidmate ongemaklik sou maak.”

Hy het wel begrip daarvoor dat mense nie elke dag net oor brandende vraagstukke in Kerkbode wil lees nie. Maar die gesprekke moet daar wees. “Jy kan mos nie net basaar-basaar in die kerk se koerant nie.”

Selfs Pienaar, met wie Jean soms maar ’n klipperige pad gestap het, het nou vir hom in die bres getree en sy pogings gesteun om godsdiensgesprekke markplein toe te vat (“dis wat Paulus gedoen het”).

“Ek het in die tien jaar nog nooit ’n skriftelike of mondelinge waarskuwing gekry nie.”

Hy is ’n deurwinterde joernalis wat die politiek – van Treurnicht tot Mandela – eers by dagblaaie en toe by die SAUK gedek het. By Kerkbode gekom, was hy pas deur die politieke transformasieproses. “Ek dog toe ek gaan kerkbasaar-stories skryf – maar toe’s daar die interessantste gesprekke hier in die kerk. Toe begin ek kerkjoernalistiek verskriklik geniet.”

As ’n nuushond met ’n neus vir ’n twis, word hy beskryf, en waar daar die afgelope dekade debat of kerktwis was, het Jean se naam opgeduik. Dit was die warm God-debat van 2001 op LitNet wat die saadjie was vir Kletskerk. “Daardie debat het my gefassineer en my destydse redakteur, Johann Symington, het ingestem vir ’n soortgelyke forum waar ouens wyd en oop kan vrae vra.

“So begin ek toe Kletskerk as deel van Kerkbode. Maar gou-gou was daar ateïste op die wa en ouens wat vloek en te kere gaan. Ek het die bydraes so min moontlik gemodereer, die swetse ingehou, want dit was soos ’n pot wat oorkook.” [En hom baie duidelik eerder by daardie vloekendes geskaar as by die behoudendes.]

Toe twee gemeentes protes aanteken, het die kerkvaders hom aanvanklik ondersteun.

Sien die konteks, kyk wáárom vloek hulle, het hy verduidelik.

“En die kerkleiers het dit regtigwaar verstaan.”

Maar hoe later hoe kwater.

Kerkbode het sy bande met Kletskerk verbreek. Toe sit Jean op twee stoele: Kerkbode betaal sy salaris en Kletskerk is sy aweregse nuwe sendingveld. [Dit is lagwekkend dat hy ’n sendingveld gehad het! Jean Oosthuizen het min tot niks gedoen om ateïste tot inkeer te bring.Hoe kan hy as hy self nie glo in meeste wat in die Bybel opgeteken is nie? Ek is nie seker of Jean homself al uitgespreek het oor sy siening oor Jesus se Godheid en fisiese opstanding nie, maar ek twyfel sterk of hy dit glo. Sy sendingveld was eerder om behoudendes af te trek na die vlak van Abel Pienaar en kie.]

Wat was sy intensie by Kerkbode? In Kerkbode-aanlyn reageer ’n leser op die Woordfees-petalje: “Sy (Jean se) jare lange polarisering en onverbiddelike gevegte met meer behoudende Christene hét die NG Kerk gebreek.

“Hy het hoegenaamd nie genuanseerd en versoenend sy standpunte gepropageer nie.”

So, wou Jean Oosthuizen die kerk bykom of dien?

“Dit was nooit om die kerk by te kom nie, net om mense te kry om openlik te gesels. Om gesprek toe te laat.”

Die kerk kan nie geloofsvrae heeltyd in ’n blik toe-deksel nie.

Maak Kerkbode se Facebook-debatblad (ook Jean se inisiatief) toe en die vrae duik elders op, word gesê.

“Ek dink nie die kerk besef die krag van sosiale media nie.

“Kerke krimp wêreldwyd. [Omdat kerke nie standpunt inneem vir die waarheid nie.]

“Mense luister nie net meer na die dominee op die preekstoel nie.

“Denkende mense ­google, blog, vra vrae en verdwyn dan sonder ’n kabaal uit die erediens. Sondae kry jy hulle in winkelsentrums, die natuur, of waar ook.”

Dis dáárdie mense wat Jean goed leer ken het. “Hulle’s moeg vir die geveg oor gays. Hulle wil nie meer oor Belhar praat nie.

“Hulle soek deernis en liefde en hulle wil met vrymoedigheid kan sê: ‘Ons is nie meer seker oor dit of dat nie.’”

Hy bly ’n oomblik stil.

“Wat my bybly van dié tyd wat ek so na aan die kerk geleef het? Ek het die hárde kant gesien, die kerkpolitiek, maar ook die sagte kant…”

Sukkel deur ’n stukkie emosie: “Dis veral wat my sal bybly, die kant van die kerk wat ek graag wíl sien, die omgeekant.”

Waarin glo Jean Oosthuizen?

Hy glimlag. “Baie mense het my al gevra. Op Kletskerk is gesê ek is te bang om te sê waarin ek glo.”

Wie is God?

“Dis die vraag, nè. Mense sê ook my definisie van God is wollerig. Maar hoe kan ek Hom in ’n kassie sit? God is vir my die Groot Misterie. Nie eens die belydenisskrifte gee my al die antwoorde oor God nie. Jy kan net ’n ervaring van God hê. En ek hét ’n Godservaring.”

En die hemel en die hel?

Hy gee ’n laggie. “Ja, die hemel en die hel, verál die hel.

“Joe. As ons glo in ’n God van liefde en genade, hoe sal Hy toelaat dat jy vir net 80 jaar op aarde leef en dan vir die res van die ewigheid in die helse vuur deurbring? Ek kan my nie met so ’n godsdiens vereenselwig nie. En die hemel? Ja… wat wéét ons wat ná die dood gebeur.”

En is daar net een God vir Christene, Moslems en Jode?

“Kyk, party mense dink ons geloof is ál regte een. Maar as ek in ’n Moslemland gebore is, was ek mos ook een.

“En ’n Jood in Israel. Wie gee mý die reg om te sê net my godsdiens is reg? Ek het God leer ken deur ­Jesus van Nasaret wie se volgeling ek is, wat rigting gee aan my lewe. Maar ek kan nie sê ’n Moslem is verkeerd nie, dis arrogant.”

Geloof is vir Jean intens persoonlik. “Dis maklik om te sê wat God nié is nie. Nié die omie met die wit baard wat als daar van bo af sit en reël nie. God is vir my hier op aarde, want as Hy nie tussen mense is nie, waar is Hy dan?”

En God was by hom in dié krisis, knik hy, tussen al die mense op die fees wat hom deur dié drif getrek het. “As iets gebeur, sê my dierbare ateïstiese vriende dis maar hoe die wêreld werk. Maar die manier hoe mense my ondersteun, hoe iemand – toe hulle my rekenaar gevat het – gesê het hier’s my laptop, gebruik hom… dis darem net te toevallig.

“Ek’s mos nou nie so nice dat almal my wil help nie!”

Ons stap terug na die roese- moes. Na al die mense. Jean se mense. God se mense.

Kommentare:

Henrietta Klaasing – Maart 10, 2013 om 06:17

Dit lyk my Jean het ’n hou of twee ingekry – – Lees nog ’n mening hier:

http://hierstaanek.com/2013/03/10/wat-glo-jean-oosthuizen/

Leendert Van Oostrum – Maart 10, 2013 om 09:18

Ek merk dat Mnr Oosthuizen hier ook die groot vloekwoord van die Nuwe Hervorming aanwend vir mense wat van hom verskil: “fundamentaliste”.

Terwyl ons in hierdie uitgawe van Rapport moet hoor hoe oorverdowend die NG-Kerk (waarvan ek nie lidmaat is nie) geskel word omdat hulle kwansuis nie wil luister na “ander menings” (= menings wat strydig is met hul openlikverklaarde belydenis) nie.

Skynbaar is “fundamentaliste” die enigste mense wat nie godsdiensvryheid geniet nie en wat nie gehoor mag word nie. (As ek reg onthou het die ouer geslag Neo-Marxiste hierdie selektiewe verdraagsaamheid beoefen onder die term “repressive tolerance”. “Repressive”, inderdaad.)

Leon Atterbury – Maart 10, 2013 om 07:22

Henrietta, jy maak telkens groot gewag daarvan as uitsprake van senior kerklui nie ooreenstem met 50 jaar gelede se dogma en denke nie. Dit is werklik glad nie meer deesdae sensasioneel nie. Daar is talle predikante en lidmate wat die afgelope aantal jare nuut dink oor die goddelikke.

As almal uit die NG Kerk moet padgee wat nie meer dink soos jy nie, raai ek dat minder as die helfte van predikante en lidmate sal oorbly.

In ons boek Hier staan ek vertel 24 persone hoe dit gekom het dat ons tans anders dink oor die tradisionele dogmas waarmee ons grootgeword het. Een vd belangrike ervarings met die saamstel vd boek is dat sulke nuwe denke baie meer wyd verspreid voorkom as wat op die oppervlak blyk.

Die “nuwe denke” van persone soos Jean, Nelius en Abel is nie ’n uitsondering nie. Hulle gee ’n stem aan talle wat ook ’n behoefte ervaar om nuut te dink en te praat oor die goddelikke.

Emwee Vorster – Maart 10, 2013 om 07:50

Maar dan moes Oosthuizen uit die Kerk vebindtenis getree het as hy nie meer kon vereenselwig met die dogma nie, soos Pienaar en al die ander. Jy kan nie vloek en skel en soos ’n ateïs optree in die kerk se naam nie, dis belaglik!!

Henrietta Klaasing – Maart 10, 2013 om 08:27

Leon, as mens voor ’n kansel by verskillende geleenthede staan en belowe ( eintlik GE-lowe – voor God lê mens tog ’n GELOFTE af?) om te bly by die leer van die kerk, dan is dit mos oneerlik om op te tree teen daardie eed?

Alwyn van der Merwe – Maart 10, 2013 om 08:58

Ek stem normaalweg met bittermin saam wat Emwee skryf, maar hierdie keer kry dit ’n stewige en groot opduimpie van my af.

Die ergste is dat daar predikante is wat nog erger goed kwytraak as Oosthuizen.

Erika Swart – Maart 10, 2013 om 07:39

Dankie Hanlie – ek wou so graag hoor wat Jean se standpunte is. Ek vermoed baie, baie gelowiges voel soos hy. Dit kan selfs wees dat ons die stille meerderheid is!

Margie Rensburg – Maart 10, 2013 om 08:17

Maybe maak soos die pous laat die hele boksemdice bedank, wie is opreg en wie is vals?

Daniel Louw – Maart 10, 2013 om 09:33

Jean moet net vir geen oomblik homself as martelaar verklaar nie. Ek dink hy het baie meer uitgedeel as wat hy ontvang het van sogenaamde fundamentaliste. Ek ken Hennie Mouton en hy speel nooit die man nie, maar die bal. Interessant dat Jean juis hom noem. Kyk https://www.glodiebybel.co.za/index.php/indeks-m.html#jeanoosthuizen en besluit maar self wat jy van Jean dink…

Ralph Barnard – Maart 10, 2013 om 10:05

Hanlie, dankie is vir hierdie noodsaaklike, lekkerlees artikel.

Jean, ek sê weer: Jou teologiese insig as nie-teoloog is van hoogstaande gehalte.

Ek treur oor die gebeure. Ek treur daaroor dat “die saak” en sake belangriker skyn te wees in die kerk as mense. Maar ek dank God vir mense soos Johann Symington, Ben du Toit en Nelus Niemandt, Ben du Toit, Johann Symington en baie ander wat nog steeds ’n sterk rol speel om te wys dat daar integriteit in die kerk (ook die NGK) is. Mag daar vir jou ’n poort oopgaan!

Hennie Mouton – Maart 10, 2013 om 10:30

Dat Jean Oosthuizen altyd objektief geskryf het, is onsin. Hy het die sogenaamde fundamentaliste, onder andere vir my, feitlik sonder uitsondering altyd beledig as hy na ons verwys het. Gaan soek “Jean Oosthuizen” op www.glodiebybel.co.za en talle aanhalings sal dit bevestig.

frans.pieterse3 – Maart 10, 2013 om 10:55

Hond byt vir hond!!!?

Annemarie Verster – Maart 10, 2013 om 10:59

Jean was voor hy by Kerkbode begin werk het ’n voorslag politieke joernalis. Sonder enige teologiese opleiding het hy van dag een af teoloe soos Ben du Toit, Johann Symmington, Gerhard Bothma en Julian Muller beskerm omdat hulle teologie met sy voorkeure saamgestem het. Jean glo nie Jesus is die einigste weg na God nie; hy glo nie dat die hel bestaan nie; God is nie meer ’n persoon nie. Teoloe wat van hierdie agenda verskil het was of geblok op Facebook; of uitgevloek (bv “k*k”), en uitgekryt as fundamentalis. Jean stap weg van Kerkbode met ’n goue handdruk. Die slegste vir my is dat Nelus Niemand nooit getwyfel het aan Jean se objektiewe joernalistiek nie, en ook Henk Gous en Johann Ernst wat op Faceboek aangetoon het dat hulle hom al beskerm het in die verlede … die persoon vir wie die jammerste in al hierdie dinge is Danie Mouton wat baie meer integriteit as Jean verdien. Jean se fanatiese agendas en gevloek het lang termyn skade aan die NG Kerk gerig … meer as 50 000 lidmate is in twee jaar weg … sterkte Jean, jy behoort in die politiek, nie die kerk nie vriend…

**********

‘Ons wou nooit iets wegsteek’

2013-03-16 23:51

Danie Mouton se brief in Rapport

http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Ons-wou-nooit-iets-wegsteek-20130316

Die gebeure van die laaste paar weke ná Kerkbode se besluit om te onttrek as borg van twee gesprekke by die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees het baie reaksie en kritiek uitgelok.

Dit het vanselfsprekend ook baie druk op die personeel van die Bybel-Media-groep (BM – onder meer die uitgewers van Kerkbode) geplaas – soos geïllustreer in die berig in Rapport verlede naweek oor kwetsende briewe wat in die maatskappy die ronde gedoen het.

Ons as direksie en ek as voorsitter is maar te bewus van dit alles. Ons het baie groot waardering vir die ongelooflik goeie werk wat deur ons personeel op soveel terreine gelewer word.

Ons as direksie wil graag in alles beredeneerd en verantwoordelik optree. Van die kommunikasie in die verlede is gekritiseer. Daar was egter nooit by ons die bedoeling om enigiets weg te steek, te verdraai of weg te praat nie.

Die direksie is almal mense uit verskeie agtergronde wat vir die liefde van die saak ons deel bydra om van die organisasie ’n sukses te maak. Niemand word betaal vir die addisionele pligte en groot verantwoordelikhede wat ons ingevolge die maatskappyreg op ons neem nie.

Ons is egter deeglik daarvan bewus dat daar individue is wat die debat om ons onttrekking van die Woordfees gebruik om die NG Kerk, die BM-groep, Kerkbode en sekere individue binne dié strukture by te kom.

Ons probeer om met goeie korporatiewe orde op te tree binne die raamwerk van ’n paar maatskappye wat elk sy eie spesifieke rol vervul binne die mediabedieningsveld. Dit doen ons in goeie orde en alle maatskappye is volledig onderworpe aan jaarlikse oudits en verslagdoening aan die algemene sinodale moderamen (ASM) en die algemene sinode.

Dit is met trots dat ons gereeld oor ons werksaamhede rapporteer en al die goeie korporatiewe ordemaatreëls is ook in ons akte van oprigting vervat. Volgens ’n onlangse ouditverslag is die wyse waarop die finansies in BM bestuur word ’n voorbeeld vir soortgelyke niewinsgewende organisasies.

Ek het vroeër daarna verwys dat een van ons personeellede onlangs twee briewe omgestuur het waarin aantygings gemaak word wat ons onverhoeds betrap het en waaroor sedertdien ook in die pers berig is.

Ons is baie hartseer oor die moontlike skade wat dié briewe en ongetoetste bewerings aan die organisasie se beeld kan doen. Ons as direksie het onmiddellik die hulp van ’n professionele konsultant ingeroep met die versoek om aanbevelings te maak sodat ons personeel voort­aan ook gelukkig kan werk. Ons bedank ons personeel van harte vir die wyse waarop hulle met haar saamgewerk het en ons is bemoedig deur hul ondersteuning vir dié inisiatief.

Ons personeel is die grootste enkele bate van ons maatskappy. Ons vertrou dat rustigheid en vreugde binnekort sal terugkeer. Ons wil graag leer uit wat gebeur het en op die regte manier vorentoe gaan. Vir ons is dit noodsaaklik dat elke personeellid tuis moet voel in ’n gelukkige werkomgewing.

Sedert die onttrekking van Kerkbode se borgskap aan die Woordfeesgesprekke is die maatskappy toenemend die teiken van ’n venynige media-aanslag.

Ons is gereed om die maatskappy deur hierdie donker tyd te bestuur. Ons doen dit deur gebed, afhanklikheid van die Here, die raadpleging van die regte mense en verstandige besluite.

Ons is oortuig dat ons optrede rondom die Woordfees, en sedertdien, gemotiveer is deur getrouheid aan die evangelie van Jesus Christus. Moenie die leuen glo dat dit uit verkramptheid of konserwatisme gebore is nie.

Ons wil leef as kinders van ’n liefdevolle Vader, verlos deur die bloed van Jesus Christus, bekragtig deur die Heilige Gees. Dit doen ons in ’n eietydse idioom en dinamiese styl. Ons produkte bewys dit en getuig van die hoop wat in ons leef.

Die afgelope week het ek en die moderamen van die algemene sinode bymekaargekom. Ons het al die tersaaklike dokumente sedert ons onttrekking aan die Woordfees vooraf tot hul beskikking gestel en die moderamen het dit onafhanklik deur sy eie interne prosesse geëvalueer. Dinsdag het hulle hul volle vertroue in die direksie en uitvoerende bestuur uitgespreek.

Dit beteken nie dat die gesprek hiermee hoef op te hou nie. Ek as voorsitter en my ­mede-direksielede is deurlopend beskikbaar – vanselfsprekend op ’n geordende wyse. Ek stel voor dat daar regstreeks met my gesels word en ek sal enige van die ander direksielede betrek waar nodig.

Uiteindelik behoort BM aan die Here. Ons is getuies van die Here se liefde en genade. Mag die Here verheerlik word deur alles wat ons doen.

* Ds. Danie Mouton is voorsitter van die BM-direksie.

**********

Ope brief aan Ds Danie Mouton, voorsitter van Bybel Media

17SundayMar 2013

http://hierstaanek.com/2013/03/17/ope-brief-aan-ds-danie-mouton-voorsitter-van-bybel-media/

Beste Ds Mouton

U brief vandag in Rapport verwys.

http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Ons-wou-nooit-iets-wegsteek-20130316

Ek is baie bly oor die volgende stelling wat u maak:

“Ons is oortuig dat ons optrede rondom die Woordfees, en sedertdien, gemotiveer is deur getrouheid aan die evangelie van Jesus Christus. Moenie die leuen glo dat dit uit verkramptheid of konserwatisme gebore is nie. “

Ek glo dit plaas ons aan die selfde kant van die draad. Ons veg aan dieselfde kant.

Ek wil na aanleiding van hierdie aanhaling een stelling maak en dan aan u ’n paar vrae vra.

Die stelling is as volg: Die probleem by Kerkbode en Bybel Media is ’n teologiese probleem en nie ’n bestuursprobleem nie.

My vrae is as volg, en ek sal dit waardeer as u dit in die openbaar kan antwoord.

1.Jean Oosthuizen het eksplisiet ’n persoonlike getuienis gelewer in sy boek “Hier Staan Ek” wat onverenigbaar is met die geloofsbelydenis van die kerk vir wie hy gewerk het. Waarom is hy toegelaat om as woordvoerder op te tree vir ’n kerk terwyl hy nie dié kerk se boodskap, wat hy moes verkondig, geglo het nie?

2.Kerkbode het vir langer as ’n jaar Dr Abel Pienaar se boeke direk, en later indirek via die heidense New Age uitgewer Griffelmedia en Boekblik op hulle webwerf adverteer, en so die NG Kerk se goedkeuring verskaf aan hulle godslasterlike publikasies. Waarom is dit toegelaat?

3.Dr Pieter Fourie het onlangs in Kerkbode ’n artikel publiseer waarin hy die bestaan van die hemel en die persoonlike voortbestaan van die mens na die dood ontken. Hierdie is basiese premisse van die Christelike geloof. Is Bybel Media se direksie bewus daarvan dat hy skynbaar die belydenisskrifte van die kerk wat hy verteenwoordig verwerp, en wat word op die oomblik daaraan gedoen?

4.Bybel Media het onlangs ’n boek van Jaap Durand publiseer waarin die dwaalteologie van Teilhard de Chardin, ’n beroemde panenteïs (hy het hom self ’n “Christelike panteïs” genoem), verkondig word. Is Bybel Media se direksie bewus van die feit dat Bybel Media boeke publiseer en en by NG Kerk lidmate aanbeveel wat die Evangeliese wêreldbeeld verwerp ter wille van ’n heidense wêreldbeeld wat die mens verhef tot God?

Ds Mouton, u sê in u brief dat die direksie van Bybel Media nooit iets wou wegsteek nie. In die lig van hierdie verklaarde openheid en eerlikheid aan u kant versoek ek u dringend om hierdie vrae hier in die openbaar te antwoord.

Groete

Wynand Louw

Kerk moet self ook kwelvrae antwoord

So nie, klink geleerdes immer reg en behoudendes verstok

Tom van Rooyen, Benoni

Hanlie Retief se onderhoud met Jean Oosthuizen in Rapport van 10 Maart het betrekking.

Dit is jammer dat oor hierdie twis tussen modern en behoudend in die NG Kerk met soveel geskal in die pers berig word.

Ek het die grootste waardering vir die insigte wat die nuwere Bybelnavorsing na vore bring. Dit moet gedebatteer word en algaande moet die kerk dit in sy liturgie en belydenisstukke weerspieël.

Maar tipies van die nuutdenkendes is dat hulle met groot simpatie in die openbare media aangehaal word sonder om selfs ’n flenter bewys vir hul opinies te verskaf.

Dit laat die indruk dat hul konserwatiewe kritici verstok en uit voeling met die moderne wêreld en sy denkstrome is. Dis eenvoudig nie in alle gevalle waar nie.

En wat van die tannie met haar verslete Bybel op die bedkassie wat na die kerk opsien om kontak en rigting aan haar Jesus-ondervinding te verskaf Is dit regverdig om al die nuwe, soms hoogs abstrakte en dikwels spekulatiewe idees op haar af te dwing?

En wat van jongmense wat nog nie die intellektuele mondering het om die klinkende uitsprake van gesofistikeerde geleerdes te kan beoordeel nie? Hier bly die kerk te dikwels in gebreke om binne sy strukture vrae en bekommernisse op te vang en te hanteer.

Geen wonder mense dwaal Sondae in winkelsentrums rond eerder as om na niksseggende preke te luister en aan die leë kerkritueel deel te neem nie.

‘n Regte twyfelsaaier

G.P.D. Terblanche, oud-LP Bloemfonein

‘n Mens kan begryp waarom die NG Kerk tot die drastiese stap oorgegaan het om die dienste van Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode, te
beëindig. Sy onderhoud met Hanlie Retief wemel van sy krapperigheid met die kerk.

Oosthuizen was aanmekaal besig om gif te suig en op die rug van omstredenheid te ry kortom om twyfel in kerkgeledere te saai.

Twyfelsaaiers het die afgelope dekade soveel skade aan die NG Kerk, en ook ander kerke, aangerig dat nie nog een deur die kerk bekostig kan
word nie.

Wat verbasend is, is dat hy so lank toegelaat is om met “sy neus vir twis” sensasie te jag en “vrae te vra wat vir die kerk ongemaklik is”.

In’n komplekse liggaam soos die kerk sal daar altyd sake wees, soos byvoorbeeld die Belhar-belydenis en die gay-kwessie, waaroor almal nie saamstem nie.

Maar om aanmekaar op hierdie vals snare te tokkel bring geen heil vir die kerk nie.

Dit sal die kerk loon om hom sover moontlik van twyfelsaaiers in sy boesem te suiwer. Liewer minder lidmate wat vertrou kan word, wat glo en
werk en bou, as doring-in-die-poot-passasiers wat die pap suur maak.

2 thoughts on “Jean Oosthuizen afgedank”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui