Opsomming van Kerkbode-Woordfees-debakel

Hier volg ’n opsomming van die Kerkbode-Woordfees-debakel:

Verwante artikels:

***********

In Maart 2013 is Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die Kerkbode, afgedank omdat hy sy werkgewer, Bybel-Media, van “onwaarhede” beskuldig het nadat dié beweer het dat Jean nie die normale bestuurskanale gevolg het toe hy aan Woordfees ’n borgskap toegestaan het namens Kerkbode nie.

Hier volg ’n opsomming van die gebeure wat aanleiding gegee het tot die Kerkbode-Woordfees-debakel vroeg in 2013:

Agtergrond oor die US-Woordfees

Die Woordfees word elke jaar georganiseer deur die Universiteit Stellenbosch. Dit is amper soos ’n Klein Karoo of Grahamstad kunstefees. Die NGK kry jaarliks ook ’n “stalletjie”, die boektent, wat in die verlede deur Jean Oosthuizen bestuur is. Die boektent is baiekeer gebruik om godsdienstige kwessies te bespreek. Tydens die 2013 Woordfees is bv die onderwerpe “Net een God?” en “Hemel en hel?” bespreek. Gewoonlik kry liberales, soos Lina Spies, Abel Pienaar en Chris Jones ruim geleentheid om hulle standpunte daar te stel.

Agtergrond oor Bybel-Media

Bybel-Media is ’n NG Kerk inisiatief en ’n oorhoofse struktuur. Die volgende is ’n eenvoudige struktuur van Bybel-Media:

  • Bybel-Media (BM)
    • Tydskriftemaatskappy (TM)
      • Kerkbode
      • LIG
    • Flam
    • Vonkk
    • Nehemia-Bybelinstituut
    • Hugenote-Bybelinstituut
    • Elektroniese media

Wie is wie:

  • Pieter Fourie: Uitvoerende hoof van die Bybel-Media groep. Dus rapporteer hy aan die moderamen van die NG Kerk waarvan Nelus Niemandt die moderator is.
  • Danie Mouton: Voorsitter van Tydskriftemaatskappy (TM)
  • Adri-Louise van Renen: Redakteur van beide LIG en die Kerkbode.
  • Jean Oosthuizen: Die nuusredakteur van die Kerkbode op daardie stadium voor hy afgedank is.
  • Danny Fourie: hoof van Bybel-Media se publikasie- en video-afdeling. Hy is getroud met Adri-Louise van Renen (kyk Hoe rooier hoe mooier vir Kerkbode-redakteur.)

In kort is die volgende wat gebeur het:

Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode het namens Kerkbode ’n borgskap toegestaan aan die US-Woordfees. Danie Mouton, voorsitter van Tydskriftemaatskappy (TM), het die borgskap onttrek omdat hy beweer het dat die bestuur en direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM) onbewus was daarvan. Jean Oosthuizen het dit egter ontken en het beweer dat daar aan hom toestemming gegee is om voort te gaan om die borgskap toe te staan. Kyk Kerkbode sê nee vir Woordfees.

Die feit dat Jean Oosthuizen sy direksie in die openbaar van “onwaarhede” beskuldig het, het tot sy skorsing en latere afdanking gelei (kyk Kerkbode se nuushoof (Jean Oosthuizen) geskors, en Griffelmedia ’n “bloedbad” en Jean Oosthuizen afgedank).

Dit het ook gelei tot Tobie Wiese se bedanking uit die direksie van Tydskriftemaatskappy (kyk Direksielid van Kerkbode se uitgewer bedank).

Chris Jones, senior projek-koördineerder van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch, wat aan die Woordfees sou deelneem, het onttrek (Teoloog onttrek aan godsdiens-gesprek op Woordfees). Braam Hanekom, het egter wel deelgeneem.

Twee naamlose briewe is aan Bybel-Media geskryf waarin dr Pieter Fourie, uitvoerende hoof van Bybel-Media, sowel as ds Danie Mouton, voorsitter van die direksie, openlik uitgedaag is om te bedank. Later het Danny Fourie, hoof van Bybel-Media se publikasie- en video-afdeling, erken dat hy die briewe geskryf het. Hierin sê hy dat Pieter Fourie en Danie Mouton blatant gelieg het oor die feit dat die regte kanale nie gevolg is toe die borgskap toegestaan is nie (Kerkman liég, sê brief).

Kort hierna het Lina Spies uit die NG Kerk bedank: Op 23 Maart 2013 verskyn die artikel Ek los nou die kerk waarin Lina Spies haar bedanking uit die NGK verklaar. ’n Week daarna, op 30 Maart 2013, reageer Frits Gaum daarop in Vlug net vorentoe, liewe Lina.

Hierdie insident het baie sleg op die NG Kerk gereflekteer, soos gesien kan word uit die artikel Leuens en die kerk hieronder deur die redakteur van Rapport op 17 Maart 2013.

Op 13 Maart 2013 word ’n pastorale brief op Facebook/Kerkbode geplaas: Pastorale brief aan alle gemeentes in die NG Kerk. Die vraag ontstaan of die doel van hierdie brief nie was om moontlike skadebeheer toe te pas na afloop van die Kerkbode-Woordfees-debakel nie …

***********

Leuens en die kerk

(Kyk oorspronklike artikel op rapport.co.za.)

Deur die redakteur van Rapport, Bokkie Gerber.

2013-03-16 23:50

Meer as ’n maand ná Kerkbode, die amptelike mondstuk van die NG Kerk, se besluit om hom as borg aan ’n godsdiensgesprek by die Woordfees te onttrek, het die stof rondom dié besluit steeds nie gaan lê nie.

Sedertdien het ’n direksielid van Bybel-Media, die kerk se uitgewersmaatskappy, bedank, die nuusredakteur van Kerkbode sy werk verloor en is ’n vooraanstaande dominee [Danie Mouton]beskuldig dat hy “lieg soos ’n tandetrekker”.

In ’n poging om ’n streep onder die gebeure te trek, het die moderamen, ’n vergadering van die kerk se mees senior besluitnemers, Woensdag sy steun aan die direksie van Bybel-Media toegesê en die besluit om aan die Woordfees-gesprekke te onttrek, verdedig.

Het dit die kritiese stemme stilgemaak, soos die kerkleiers klaarblyklik gehoop het? Glad nie.

Om die waarheid te sê, dié verklaring laat net nog méér vrae. Hoe rym die moderamen sy siening dat die kerk nie gesprekke kan borg wat “groter twyfel by mense gaan saai” nie met die feit dat dr. Braam Hanekom, die kerk se tweede mees senior amptenaar, aan dié einste gesprekke deelgeneem het? Of dat die moderamen “berigte en skrywes” met ernstige bewerings oor die ­Bybel-Media-bestuur as vals afmaak terwyl ’n ondersoek hierna nog nie afgehandel is nie?

Hierdie kwessie dring deur tot die hart van wat baie lidmate en dominees meen verkeerd is in die kerk. Hoe gaan ’n mens om met diegene van wie jy verskil? Hoe rym jou dade met jou woorde? Die wyse waarop die moderamen verkies het om die Woordfees-debakel te hanteer, stem baie kerkmense erg ongemaklik.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui