Kerkbode se nuushoof (Jean Oosthuizen) geskors, en Griffelmedia ’n “bloedbad”

Die artikels hieronder berig oor die skorsing van Jean Oosthuizen, Kerkbode se nuusredakteur, en verdere gevolge.

Wynand Louw maak ’n uistekende punt in Wat tel by Kerkbode: Hulle handelsmerk of die eer van God? Daarin sê hy onder andere die volgende:

“Dr Pieter Fourie is bekommerd oor Kerkbode se handelsmerk. Ek het persoonlik ’n tydjie gelede met Dr Fourie gepraat oor hoe Oosthuizen en sy vriend Abel Pienaar God se naam in die openbaar oneer aandoen. Ook dat Pienaar se godslasterlike boeke op Kerkbode adverteer word, wat Pienaar skynbaar die NG Kerk se amptelike Imprimatur verskaf. Dr Fourie het skynbaar geen probleme met Oosthuizen se godslasterlike uitsprake op Kletskerk gehad nie, en het allerhande verskonings gehad oor die advertering van Pienaar op Kerkbode se webwerf.

Vraag: Hoekom is Kerkbode se handelsmerk nou skielik belangrik maar toe mense gekla het dat Kerkbode deur Oosthuizen en sy assosiasie met Pienaar God oneer aandoen was daar geen probleem nie?”

Op die ou einde is Jean Oosthuizen toe afgedank – kyk Jean Oosthuizen afgedank.

Verwante artikels:

Inhoudsopgawe

*************

Kerkbode se nuushoof geskors ná ‘onwaarhede’

2013-02-17 23:58

(Van Die Burger gekopieer)

KAAPSTAD. – Die nuusredakteur van die Kerkbode, amptelike koerant van die NG Kerk, is glo Vrydag geskors.

Jean Oosthuizen is blykbaar gevra om sy kantoor te ontruim en sy persoonlike werkrekenaar te oorhandig.

Dit volg nadat die Kerkbode as donateur van die godsdiensgesprekke by die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees onttrek het.

Die bestuur en direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode en deel van Bybel-Media, het beweer hulle was onbewus daarvan dat die koerant as donateur sou optree.

Volgens ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van TM, is die nodige reëlings “nie langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie”.

Oosthuizen het dit egter verlede week teenoor Die Burger ontken en gesê dié idee is kort ná die vorige Woordfees in 2012 met onder meer TM en Bybel-Media se uitvoerende hoof, dr. Pieter Fourie, bespreek.

Ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van TM, het gister gesê Oosthuizen se skorsing hou geensins met die Woordfees verband nie, “maar met sy bewering op RSG en in ’n berig in Die Burger waar hy die direksie van onwaarheid beskuldig”.

Volgens Mouton het die TM-direksie reeds aangekondig dat die rede waarom die Kerkbode aan die Woordfees onttrek het daaroor handel dat die aard van die gespreksreeks “nie behoort tot die kernbesigheid van Kerkbode se handelsnaam nie”.

Oosthuizen is met behoud van volle diensvoordele gekors, in afwagting van ’n interne tugverhoor.

Gerugte oor Oosthuizen se skorsing het gister op die sosiale netwerk Facebook en die Kletskerk-gespreksforum versprei.

Oosthuizen self wou gister geen kommentaar lewer oor wat gebeur het nie.

Adri-Louise van Reenen, redakteur van die Kerkbode, het bevestig dat Oosthuizen geskors is, maar wou geen verdere besonderhede oor die klagtes teen hom bespreek nie.

– Die Burger

**********

Kerkbode-joernalis geskors ná uitlatings

2013-02-18 23:43

(Van Beeld gekopieer.)

Neels Jackson

Jean Oosthuizen, omstrede joernalis van Kerkbode, is Vrydag tien minute gegun om sy kantoor te verlaat nadat hy geskors is.

Dít nadat hy in die openbaar te kenne gegee het dat sy direksie nie die waarheid praat nie.

Die herrie het begin toe die direksie van die Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk besluit het Kerkbode moet sy borgskap van twee gesprekke oor God, die hemel en hel aan die Woordfees in Stellenbosch onttrek.

Ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie, het onder meer gesê die bestuur en direksie was nie bewus van die reëlings dat Kerkbode as borg vir die gesprekke sou optree nie.

Die reëlings is nie deur die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie.

Oosthuizen het gesê dis onwaar. Hy het die idee bespreek met sy redakteur en later op ’n vergadering waar dr. Pieter Fourie, uitvoerende hoof van Bybelmedia, by was. Daarna het hy en dr. Barend Vos, destydse waarnemende redakteur, die temas en deelnemers van binne en buite die kerk gefinaliseer.

Fourie het gister gesê hulle het dit nie teen die sprekers as mense nie. Die direksie het egter nie gedink hulle is die regte soort mense vir Kerkbode se mark nie. Die meeste NG lidmate is teologies konserwatief. Met dié mark het die direksie gevoel die gesprekke is nie tot voordeel van Kerkbode as handelsmerk nie.

Kerkbode se bemarkingsgeld kom van Bybelmedia en dié se skenkers gee geld sodat die goeie nuus van die evangelie versprei kan word. Hulle sal nie daarvan hou as dié geld gebruik word vir die koste van party van die sprekers nie.

Fourie het gesê Kerkbode se betrokkenheid is heelwat vroeër bespreek op ’n vergadering waar hy was, maar van die onderwerpe en sprekers het hy en die direksie eers gehoor toe die feesboekie verskyn het.

Wat dít betref het Oosthuizen niks verkeerd gedoen nie. Die skorsing hou verband met sy uitsprake oor die direksie.

Fourie sê ander ondernemings sal dit ook nie duld dat ’n werknemer openlik die direksie se integriteit bevraagteken nie.

Oosthuizen moet nou in ’n tugverhoor verskyn.

Binne die NG Kerk is daar al geruime tyd groepe wat Oosthuizen se kop eis, onder meer weens sy betrokkenheid by die forum Kletskerk, die boek Hier staan ek, waarin mense vertel hoekom hulle nie langer op tradisionele wyse kan glo nie, en oor die wyse waarop hy soms teen teologies konserwatiewe sienings standpunt inneem op sosiale media.

Voor die skorsing was daar geen tugstappe of amptelike waarskuwings teen hom nie.

**********

Rapport se Marlene Malan het soos volg daaroor berig.

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Oor-Jesus-Elvis-en-fans-20130223

Oor Jesus, Elvis en ‘fans’

2013-02-23 23:04

Marlene Malan

Die skorsing van Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die Kerkbode, is nie die eerste keer dat die NG Kerk se topstruktuur hom voor stok kry nie.

Oosthuizen is voorverlede Vrydag uit sy pos by dié amptelike NG Kerk-koerant verwyder hangende ’n interne tugondersoek omdat hy sy direksie in die openbaar van “onwaarhede” beskuldig het.

Hy is al tevore “ernstig en openhartig” deur die algemene sinode van die NGK oor beweerde “godslastering” aangespreek.

Dit was nadat minstens twee gemeentes, asook individuele NG Kerk-lidmate, gekla het oor sy “lasterlike” uitsprake op sy internet-gespreksforum, Kletskerk.

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, het eergister gesê minstens twee gemeentes, waaronder Moreletapark in Pretoria, het in 2011 al klagte oor Oosthuizen by die algemene sinode ingedien.

Benewens die “godslastering” en taalgebruik op sy forums was die gemeentes gegrief oor die toelaat van “godslasterlike gesprekke” en “kru taal” op die forum. Dit sluit in ’n spottende verwysing na die Heilige Gees en die herhaalde ydellike gebruik van die woord “Here”.

Kletskerk het die laaste jare gewemel van woorde soos “g*ts”, “jirre”, “k*k” en “p**ph*l”.

Oosthuizen is ook gekritiseer omdat hy die volgende aanhaling deur Gareth Cliff as sy e-pos-afsluitsin gebruik het: “Jesus is like Elvis… A very nice guy but His fan club freaks me out”.

“Daar het ’n baie ernstige en openhartige gesprek met hom plaasgevind tydens ’n vergadering van die moderatuur van die algemene sinode,” het Niemandt by navraag gesê. Daarby is dit duidelik gestel Klerkskerk is nie ’n webblad van die NG Kerk nie.

Dit word bevestig op die NG Kerk-webblad: “Die moderatuur het verskeie klagtes rakende die inhoud van Kletskerk en die skakels op ons webblad daarheen ontvang. Daar is besluit om alle skakels na Kletsklerk op die webbladsye van die NG Kerk en Kerkbode te verwyder.”

Nogtans is Oosthuizen toegelaat om in sy redakteurspos aan te bly. Die voortslepende spanning het verlede week tot uitbarsting gekom. Die bestuur en direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode, het Oosthuizen gevra om sy kantoor te verlaat en sy werkrekenaar te oorhandig.

Dit kom nadat Kerkbode hom as donateur van die gesprekke met die temas “Net een God?” en “Hemel en hel?” by die Universiteit van Stellenbosch (US) se Woordfees onttrek het.

Ds. Danie Mouton, voorsitter van die TM-direksie, sê Oosthuizen het nie “die nodige reëlings langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie”. Oosthuizen sê daar is al ’n jaar gelede hieroor ooreengekom.

Mouton het Vrydag gesê TM kan geen verdere kommentaar lewer nie omdat ’n tugondersoek aan die gang is. Volgens hom gaan die Kerk­bode van 1 Maart ’n berig oor die Kerkbode/Woordfees-kwessie hê.

Dit sal ook deur die loop van die week aanlyn beskikbaar wees by www.kerkbode.co.za.

Oosthuizen word nie toegelaat om kommentaar te lewer nie.

**********

US-Woordfees en NG Kerk ‘vat hande in gees van versoening’

2013-02-26 05:45

Malani Venter in Volksblad,

http://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/US-Woordfees-en-NG-Kerk-vat-hande-in-gees-van-versoening-20130225

STELLENBOSCH. – Die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees en die NG Kerk het besluit om in ’n “gees van versoening hande te vat”.

Dit kom nadat Kerkbode, die NG Kerk se nuuskoerant, sy donateurskap van die Woordfees onttrek het.

Dié koerant se nuusredakteur, Jean Oosthuizen, is ook intussen geskors.

Dr. Braam Hanekom, moderator van die NG Kerk in die Wes-Kaap, en prof. Dorothea van Zyl, direkteur van die Woordfees, het gister in ’n gesamentlike verklaring bekend gemaak dat daar geen kwade gevoelens tussen die kerk en die fees is nie.

“Dorothea van Zyl het ’n uitnodiging aan dr. Braam Hanekom gerig om deel te neem aan die volgende gesprek by die US Woordfees, wat hy graag aanvaar het,” lui hul verklaring.

Dié gesprek heet “Hemel en hel?” en sal op 8 Maart om 10:00 in die Boektent op Stellenbosch ten tyde van die Woordfees aangebied word.

Van Zyl sal met Hanekom, dr. Abel Pienaar, medestigter van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, prof. Nico Koopman, dekaan van die fakulteit teologie aan die US, en prof. Jurie van den Heever, paleontoloog aan die US, praat oor hierdie onderwerp. Dit word aangebied deur Protea-boekwinkel.

In die verklaring word benadruk dat “hierdie uitnodiging en gepaardgaande aanvaarding losstaan van ’n onafhanklike interne ondersoek wat tans deur Tydskrifte Maatskappy (TM) onderneem word”. TM is die uitgewer van Kerkbode en deel van BybelMedia.

Die verklaring lui verder: “Dit wil graag enige persepsies teengaan wat mag ontstaan het dat daar enige konflik en/of verwydering tussen die NG Kerk en die US Woordfees sou bestaan; en dat die NG Kerk nie daar­toe bereid sou wees om ewewigtige oop gesprekke te steun in die belang van ’n groter versoenende gesprek in Suid-Afrika nie.

“Diegene wat in die lig van die Skrif soos kinders glo én diegene wat met erns besin en redeneer oor wesensvrae is vir die NG Kerk belangrik.”

Die Woordfees begin Vrydag en duur tot 10 Maart.

**********

Kerk sou moes pa staan vir dié gesprek

(Van Beeld gekopieer)

deur Ds Andries Louw

2013-02-25 18:20

Dr. Abel Pienaar se brief Kerk mis weer kans vir ope gesprek (Beeld, 20 Februarie) het betrekkings.

Dit is lankal duidelik dat Jean Oosthuizen hom beywer vir die bevordering van die soort geloofsdenke wat ook deur dr. Pienaar voorgestaan word. Die gesprek by die Woordfees sou duidelik onder sy leiding ook in diens van dié agenda staan.

Dit sou ’n situasie skep dat Kerk­bode “pa staan” vir ’n gesprek waar die mees basiese geloofswaarhede van die Christelike geloof in die openbaar bevraagteken of aangeval sou word – waarskynlik sonder enige teenspraak deur ander wat aan die kerklike belydenis getrou wil bly. Ek ondersteun die direksie se besluit heelhartig.

Dr. Pienaar het lank reeds, minstens sedert sy bedanking as leraar en lidmaat van die NG Kerk, die Christelike geloof vaarwel toegeroep en ’n ander stel “geestelike waarhede” in die plek daarvan aanvaar. Dit lyk egter asof hy ’n behoefte het om die NG Kerk van buite af tot sy nuwe denke-insigte te bekeer. Miskien sou die geleentheid by die Woordfees die indruk kon wek dat dit selfs van binne is.

Ek gee dr. Pienaar gelyk dat talle lidmate wel “nuut dink” of begin om “anders te glo”. Net so is daar baie wat bekommerd is oor die openbare uitsprake van sommige teoloë en kerkleiers die laaste paar jaar.

Ek stem ook saam dat die NG Kerk by ’n kruispad gekom het, maar om ’n ander rede. ’n Kerk kan nie op twee stoele sit nie. Kerkbode se besluit laat my hoop die kerkleiers begryp dit ook.

Tog sou ek eerder van hulle wou hoor dat dit nie om “teologiese konserwatisme” gaan nie, maar om getrouheid aan die evangelie en aan die kerklike belydenis.

Ter wille van die oop gesprek is ek bereid om met dr. Pienaar in ’n openbare debat te tree – op voorwaarde dat dit gestruktureerd met ’n neutrale moderator aan die stuur sal plaasvind.

Ek stel voor ons maak die onderwerp: “Kan ons die evangelie nog met integriteit glo?” Ek sal die saak te stel dat ons dit inderdaad kan doen.

**********

Gevaarligte flikker kwaai vir NG Kerk

(Van Beeld gekopieer.)

deur Prof. Hoffie Hofmeyr, emeritus professor, departement van kerkgeskiedenis, UP, skryf

2013-02-25 18:20

Selde in die onlangse verlede het die glybaan-alarms so skerp afgegaan ook vir die NG Kerk soos tans. Dié waarneming is op die spits gedryf deur die berig “Kerkbode-joernalis geskors ná uitlatings” (Beeld, 19 Februarie) en Abel Pienaar en ander se reaksies daarop (Beeld, 20 Februarie).

Ernstige vrae ontstaan oor watter karakter die NG Kerk wil uitstraal.

Natuurlik moet hy eietyds en oop bly, en ook in die 21ste eeu vaandeldraer van die liefdesevangelie wees.

Maar die NGK is myns insiens om die volgende redes op ’n glybaan:
– Die groot daling in die afgelope twee jaar van byna 50 000 NG lidmate dui, soos met ons samelewing, op ’n inherent ernstig siek liggaam. Ondanks mooi verduidelikings wys duisende mense met hul voete hulle is ongemaklik is met die huidige NGK;

– Die NGK het toenemend onverdraagsaam geword deur die gedurige dooddruk van tallose gebalanseerde stemme. Hoekom sukkel hy, net soos die owerheid, so om ’n gesonde eenheid in verskeidenheid na te streef?;

– Die NGK het in vele opsigte ’n dissiplinelose kerk geword. Ons wil so graag in alles vir almal wees, dat ons later niks vir niemand word nie. Haas enigeen kan maar soos ’n wafferse Malema sê of doen wat hy wil;

– Van integriteit en geloofwaardigheid het min oorgebly. Word die NGK nog enigsins ernstig opgeneem? Het hy hoegenaamd genoeg gedoen in verband met die morele krisis, bandeloosheid en aggressie in die samelewing soos uit Bredasdorp en Silver Wood?; en

– Die kern van die glybaan-probleem is dat die NG Kerk plek-plek verleer het om ’n eietydse Skrifgetroue en belydenisgetroue karakter te handhaaf. Natuurlik moet die kerk oorloop van omgee-liefde, maar die uitreik na armes durf nie ’n oppervlakkige humanisme word nie.

Mag dit beskik word dat alle NG mense, wat dit ernstig bedoel met die kerk, dié gevaartekens betyds sien.

**********

Verguising deur NGK

deur Anna Louw

2013-02-25 05:45

(Geplaas in Volksblad:

http://www.volksblad.com/MyVolksblad/Briewe/Verguising-deur-NGK-20130224 )

Die berig “Kerkbode-joernalis moet kantoor blitsig ontruim” (VB, 19/02) het betrekking. Volksblad haal dr. Pieter Fourie as volg aan: “Die skorsing hou verband met sy uitsprake oor die direksie.” Voorts sê Fourie “ander ondernemings sal dit ook nie duld dat ’n werknemer openlik die direksie se integriteit bevraagteken nie.”

Enige onderneming wat geloofwaardig wil wees, en sy openbare beeld beskerm, sal sulke optrede nie duld nie.

Onbegryplik dat die direksie van Kerkbode & Bybelmedia, ’n Christelike maatskappy, nie so drasties opgetree het teen Oosthuizen toe die eer van God Drie-enig openlik op die NGK se sosiale netwerke (wat wêreldwyd gelees word) gruwelik aangetas is nie? Deur Sy kerk! Vele bewyse in hul onnoembare kruheid is beskikbaar. Herhaalde vertoë tot die kerkleierskap het op dowe ore geval. ’n Skare instansies en openbare figure het oor jare deurgeloop in spotprente in Kerkbode en ander verguising, soos Angus Buchan, Isak Burger, Gretha Wiid, die Gereformeerde Kerk en Steeds Hervormers.

Wat van hul integriteit en die erge verleentheid vir die NG Kerk binne die Christelike gemeenskap in Suid-Afrika? Dis moontlike regsaksies uitgesluit.

Enkele NGK-leiers en -lidmate wat ’n Bybelse standpunt durf inneem, moes ook deurloop.

Evangeliese lidmate se reg tot spraakvryheid is op die spel! Die reaksie – ’n teleurstellende, dawerende stilte pleks van ’n openbare apologie.

My bedanking as lidmaat in 2012 was oor die gruwelike aantasting van die Heiligheid van die Here oor jare op die NGK se sosiale netwerke en die afwesigheid van optrede en wantroue in die huidige kerkleiers.

NGK-leiers moet in voeling kom met lidmate op voetsoolvlak. Nou word die indruk gewek dat as geld ’n faktor word, daar oplaas ingegryp word!

Ladybrand

**********

Direksielid van Kerkbode se uitgewer bedank

2013-03-01 23:02

Neels Jackson in Die Burger

http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Direksielid-van-Kerkbode-se-uitgewer-bedank-20130301

PRETORIA. – Die onttrekking van Kerkbode aan die Woordfees op Stellenbosch het nou gelei tot die bedanking van een van die direkteure van Kerkbode se uitgewer.

Tobie Wiese, ’n ervare joernalis, het gesê dis met spyt dat hy verplig voel om uit die direksie van die Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk te bedank.

Dit volg op ’n herrie wat losgebars het nadat Kerkbode kort voor die fees onttrek het as borg van die godsdiens­gesprekke op die fees.

Die direksie van die Tydskrifte-maatskappy het aangevoer dat hy nie vroeër besonderhede oor die aard van die gesprekke gehad het nie en dat die regte prosedures vir die reëling van die borgskap nie gevolg is nie.

Dit het tot ’n verdere herrie gelei toe Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode, gesê het die direksie se verklaring is nie waar nie. Hy is daarna geskors en moet voor ’n tugverhoor verskyn.

Wiese het gister gesê sy bedanking hou verband met die onttrekking aan die Woordfees en die redes wat aangevoer is.

–Neels Jackson

**********

‘Bloedbad’ by bankrot uitgewer

2013-03-02 23:56

Marlene Malan, in die Rapport

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Bloedbad-by-bankrot-uitgewer-20130302

’n Bloedbad! Só word die uitgewer Griffel beskryf nadat hy bankrot gespeel het en skrywers duisende rande moes hoes om hul boeke te red.

Van dié skrywers tree vandeesweek by die Stellenbosse Woordfees op.

Griffel se baas, Evert Buurman, erken kontantvloeiprobleme het dié maatskappy op sy knieë gedwing.

Twee skrywers, Pienkes du Plessis en John van den Berg, sê hulle moes duisende rande uithaal om te keer dat dié bekendstellings gekelder word.

Van den Berg sê hy moes R42 550 betaal sodat Griffel volgens kontrak 1 500 eksemplare van sy spanningsroman 18th Variation sou druk. Net 200 is egter gelewer.

Die ooreenkoms was dat hy 50% van die produksiekoste betaal, vir 45% van die netto wins.

Du Plessis, pa van die TV-aanbieder Janie du Plessis, sê sedert Griffel sy boek Anderkant duskant uitgegee het, “was daar net moeilikheid”.

Volgens ooreenkoms sou Griffel 1 000 druk. Hy het dieselfde opsie as Van den Berg gekies en R36 000 betaal, waarvoor 200 gelewer is.

Krisjan Fourie van die tydskrif Pomp, voorheen ’n Griffel-publikasie, sê hy het einde verlede jaar R30 000 aan Griffel betaal “om hul kantore aan die gang te hou”.

“Ek het alle eksemplare van Pomp opgekoop om te keer dat dit verpulp word. Griffel is ’n bloedbad. Niks behalwe boeke is oor nie.”

Die finansiële skrywer en oud-TV-aanbieder Jerry Schuitema sê hy het ook 50% van die publikasiekoste betaal in ruil vir 50% wins op Value Through Values.

“Dit was R20 000. Ek het self laat redigeer; my eie promosie behartig. In die eerste maande het ek R5 000 ontvang. Daarna niks meer nie.”

Twee skrywers wat anoniem wil bly, vertel dieselfde verhaal.

“Ek wag al sewe jaar vir tantième en die beloofde terugbetaling van insetkoste,” sê een.

“Ek kon nie eens state uit Griffel kry nie. Hulle kon nie vir drukwerk betaal nie. Die bemarking was vrot.”

Volgens die ander skrywer “het my een boek redelik verkoop. Van dié inkomste het ek geen sent gesien nie.”

Buurman het by monde van sy ouditeur, Marinus Coetzee, gesê: “Griffel is tegnies bankrot. Ek het Griffel probeer red, maar kon nie.”

Kommentare:

Karin Prinsloo Stuart – Maart 3, 2013 om 21:26

Hierdie is so ’n hartseer verhaal. Sterkte vir almal betrokke. 🙁

Susan Loubscher – Maart 3, 2013 om 22:38

Jean Oosthuizen wat betrokke was by Hier Staan Ek wat Griffel uitgegee het het gereeld gepraat oor hoe goed die boek verkoop het … hy het ook groot geraas gemaak oor hoeveel ondersteuning hulle onder NG dominees en baie lidmate gehad het … as dit regtig die volle waarheid was, hoekom maak Griffel toe?

Hans Pietersen – Maart 4, 2013 om 16:11

Dus is daar ander (sug). Ekself het duisende in daardie put gestort en niks uitgekry nie. Klink na ’n resep.

**********

Teoloog onttrek aan godsdiens-gesprek op Woordfees

2013-03-03 22:36

Carryn-Ann Nel, in Die Burger

http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Teoloog-onttrek-aan-godsdiens-gesprek-op-Woordfees-20130303

KAAPSTAD. – Die omstredenheid rondom die Kerkbode se onttrekking van sy borgskap aan ’n gespreksreeks op die Stellenbosse Woordfees het uitgekring toe ’n bekende teoloog, dr. Chris Jones, hom daaraan onttrek het.

Hoewel Jones gesê het hy onttrek “om persoonlike redes” het hy bygevoeg dat “verdere stappe” oorweeg word sodra die tugverhoor van Jean Oosthuizen, geskorste nuusredakteur van dié mondstuk van die NG Kerk, afgehandel is.

Jones, senior projek-koördineerder van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch, het hom verlede week onttrek.

Jones sou Donderdag saam met Lina Spies en sjeg Thaffier Najjaar aan die gesprek “Net een God”? in die Boektent deelgeneem het.

Die Woordfees het Vrydag in die Eikestad begin.

Dr. Francois Wessels, sekretaris van die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaap se taakspan vir leer en ak­tuele sake, sal nou in Jones se plek aan die gesprek deelneem.

Jones het gister aan Die Burger gesê: “Daar het onlangs ’n klomp omstredenheid rondom gesprekke losgebars, maar my onttrekking is om persoonlike redes. Ek het geen druk van iewers gekry om te onttrek nie.”

Hy het gesê dat hy einde verlede week vir Melt Myburgh, woordkunsprojekbestuurder, hieroor ingelig het.

Jones het verder gesê: “Ek wil net sê die laaste woord rakende die Kerkbode-Woordfees-kwessie is nog lank nie gespreek nie. Daar is ’n paar van ons, en ek wil nie name noem nie, wat net wag vir Jean se tugverhoor om afgehandel te word.

Verdere stappe word oorweeg. Die stappe het nie noodwendig iemand as teiken nie.”

Die Burger het onlangs oor die onttrekking van die Kerkbode as borg vir gesprekke oor godsdiens by die Woordfees, berig. Oosthuizen, nuusredakteur van dié blad, is kort hierna geskors.

Die bestuur en direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van die Kerkbode en verbonde aan Bybel-Media, het beweer hulle was nie daarvan bewus dat die koerant as donateur sou optree nie.

Oosthuizen het vroeër gesê die direksie se verklaring is nie waar nie. Hy moet hiervoor voor ’n tugkomitee verskyn.

Jones wou nie uitbrei oor die stappe nie, en het bygevoeg dat dit bloot “’n oorweging” is.

“Ek het ook vir Melt gesê dit was glad nie druk van enige oord wat my so laat besluit het nie. Ek het dit uit my eie besluit.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui