Is Satan die duiwel of ’n teenstander?

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Rapport verskyn.

************

Is Satan die duiwel of ’n teenstander?

2012-07-28 23:56

Johannes de Villiers

Party mense grawe die duiwel agter elke bos uit, maar die een plek waar jy hom nie gaan vind nie, is in die Ou Testament, meen ’n teoloog van Pretoria.

Hoewel die woord “Satan” soms in die Bybel se Ou Testament voorkom, is dit bloot die Hebreeuse woord vir “teenstander” en verwys dit nie na ’n “spesifieke wese met ’n persoonlike identiteit wat Satan heet” nie, skryf dr. Gerda de Villiers.

De Villiers het die afgelope week ’n artikel met die opskrif “Satan in die Ou Testament?” gepubliseer in teo.co.za, ’n digitale publikasie waarin teologiese artikels verskyn.

In die artikel skryf De Villiers: “Volgens die Hebreeuse woordeboek kan ‘satan’ ’n werkwoord of ’n selfstandige naamwoord wees. As werkwoord is die betekenis ‘om ’n wrok te koester’ of ‘vyandig te wees’ (vgl. Ps 38:12). ‘Satan’ as selfstandige naamwoord beteken ‘teenstander’ of ‘aanklaer’ en kan ’n aardse mens of ’n hemelse wese aandui.”

Sy ontleed dan ’n paar tekste waarin die woord “satan” in die Hebreeuse Bybel voorkom.

Die bekendste een is Job, waarin verwys word na “die satan” wat aan God voorstel dat Job sy rykdom ontneem moet word. Daar moet die woord eintlik as “die aanklaer” vertaal word, eerder as “Satan”, meen sy, want dit dui op ’n lid van die hemelse raadsaal eerder as op die figuur wat mense vandag as die duiwel ken.

Ook in die verhaal van Bileam en sy donkie kom die woord “satan” voor [Numeri 22:22]. In dié teks word na die engel van die Here, wat voor Bileam se donkie in die pad kom staan, verwys as ’n “satan” omdat hy ’n hindernis in Bileam se pad is.

Ook uit dié teks blyk dit duidelik dat die term “satan” na ’n teenstander eerder as die duiwel verwys.

Sy bespreek ook verdere voorbeelde van die woord in die Ou Testament en sluit af: “Die konsep van satan as ‘bose’, as die Here se aartsvyand in die Ou Testament, moet afgewys word … Satan as persoon, as vyand van die Here was nie deel van Ou Israel se geloof nie.”

’n Skakel na die artikel het tot ’n hewige debat op die Facebook-blad van Kerkbode, die NG Kerk se lyfblad, gelei.

Die bestaan van die duiwel is sedert verlede jaar opnuut ’n debatspunt in die NG Kerk nadat die algemene sinode amptelik besluit het daar is in die kerk ruimte vir sowel diegene wat in die duiwel se bestaan glo as diegene wat dit glo Satan bestaan nie regtig nie.

Ná die sinode het ’n lidmaat, Wynand Louw van Melkbosstrand, ’n klag van dwaalleer teen dr. Ben du Toit, direkteur: kommunikasie van die NG Kerk se Sinode van Wes-en-Suid-Kaap, by die ring van Kuilsrivier aanhangig gemaak omdat Du Toit in die openbaar erken het hy glo nie in die bestaan van ’n persoonlike duiwel nie. Die ring het Du Toit onskuldig bevind, maar Louw het teen dié besluit geappelleer.

Kommentaar

Die woord “Satan” kom 14 keer in die Ou Testament voor (1953 vertaling):

  1. 1 Kronieke 21:(1) Toe het SatanH7854 teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel. (2) En Dawid het aan Joab en die owerstes van die volk gesê: Gaan tel Israel van Berséba tot Dan, en bring vir my berig, dat ek hulle getal kan weet.
  2. Job 1:6, 7, 8, 9, 12 en Job 2:1, 2, 3, 4, 6, 7 (In al hierdie gevalle is die Hebreeuse woord H7854)
  3. Zec 3:1 Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae. Zec 3:2 Toe sê die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ’n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?

Volgens Strong se konkordansie, die volgende:

  • H7853: A primitive root; to attack, (figuratively) accuse: – (be an) adversary, resist.
  • H7854: From H7853; an opponent; especially (with the article prefixed) Satan, the arch enemy of good: – adversary, Satan, withstand.

“Satan” word ook elke keer met ’n hoofletter gespel in beide die 1953 en 1983 vertaling, wat dui daarop dat dit na ’n persoon verwys – nie net na ’n algemene opponent nie. Dus het beide die 1953 en 1983 Bybelvertalers (en vertalers van ander tale) dit ook geïnterpreteer dat daar van ’n persoonlike duiwel, naamlik Satan, gepraat word. Waar kom die nuwe “wysheid” nou vandaan dat daar nie ’n duiwel bestaan nie?

En dan ook “Skrif verklaar Skrif”: Selfs al kan ’n mens nie uit die Ou Testament aflei dat daar ’n Satan bestaan nie, moet jy na die hele Bybel gaan kyk om vir jou ’n antwoord te gee. Die Nuwe Testament is nog duideliker oor die bestaan van Satan en die hel. Kyk bv Die Bybel oor die duiwel/Satan.

Die vraag is weer: waar kom die nuwe wysheid nou skielik vandaan dat daar nie ’n Satan bestaan nie? Is dit omdat dit polities onkorrek is om te glo dat jy ander mense moet oortuig om soos jy te glo, want anders gaan hulle hel toe? Hierdie argument gaan egter nie baie help nie, want daar is net te veel ander dele in die Bybel wat dan geïgnoreer sal moet word – kyk Die Nuwe Testament oor Redding.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui