Luister fyn na hulle wat saggies wegloop

Kyk ook:

Die volgende artikel het in die Kerkbode en ook op www.kerkbode.co.za verskyn in Maart 2010. Intussen is dit verwyder.

******************

Anton sê sy sê

Anton Pienaar

Maart 2010

Die luisterseisoen het die afgelope ruk ’n paar stewige opstoppers gekry. Die houe het onder andere gekom van lidmate wat beswaard was omdat George Claassen by die opening van UP se Teologiese Fakulteit opgetree het. Hulle wil nie hoor wat ’n ateïs sê nie.

Ander is omgesukkel en wil nie hoor dat die kerk oor saamwoon gaan praat nie. Nog ander is steeds kwaad omdat die kerk oor gay-wees nie na hulle interpretasie van die Bybel wou luister nie. Die luisterseisoen moet rekening hou met ’n groot bondel onverdraagsaamheid binne die kerk.

Vir my is hierdie soort onverdraagsaamheid iets wat ek nie met evangelie kan verdedig nie. ’n Mens word mos nie iets anders as jy net luister nie? Ek is oortuig daarvan dat Jesus nooit weggedraai het of hom beter gehou het as enigiemand anders nie. Waar kom ons daaraan om so eng en veroordelend te wees?

Ek hoop maar net dat daar min mense in die NG Kerk is wat hulle nog wil doof hou vir stemme waaraan hulle nie gewoond is nie. Dit kom uit ’n era toe ons almal dogmaties in afgesonderde beddings ingeplant en afgerig was. Ons is geleer dat alles wat nie soos ons is nie, óf kommunisties óf antichristelik is, en dat ons hoogste roeping is om dit wat ons nie kan bekeer nie, te beveg.

Maar veel swaarder as die harde houe, is om die sagte voetval te hoor van mense wat om ander redes weg van die kerk af stap. Nie oor hulle minder in God glo of die boodskap van Jesus se liefde verwerp nie, maar omdat hulle die onverdraagsame en liefdelose geraas nie meer kan verduur nie.

Hulle het nog nie die kerk formeel gelos nie, maar hulle vashou is veel sagter. Hulle het nie na ander kerke toe gaan nie; hulle het net huis toe gegaan. Hulle sien en hoor uitsprake van Christene wat in die openbaar gal braak, en hulle word baie ongemaklik daarmee. Baie van hulle se wêreld is volledig geïntegreer met die wetenskap en filosofie van die dag. Dit maak hulle nie ongelowig nie, maar hulle dink en sien dat die stemme in die kerk vreemd vir hulle geword het.

Die meeste van hierdie mense praat sag of sê niks. Hulle kom net nie meer nie. Want hulle het ander insigte oor evolusie, en hulle betrokkenheid by gays maak dat hulle nie meer veroordelend kan wees nie. Hulle is nugter en eerlik oor samelewingstendense soos saamwoon.

Ek is so bang ons luister na en fokus so op die onverdraagsame geraas, dat as ons die dag wakker skrik, ons vind hulle die enigstes is wat oorgebly het in die kerk.

Kommentaar

Vrede, vrede roep jy
2010/03/19

Gaan en sondig nie meer nie, het Jesus vir die prostituut gesê. Wat is die nut van ’n kerk wat sy aanhangers nie tot bekering probeer lei nie, maar al paaiende oor die afgrond help. DIT Anton, is die punt wat jy aanhoudend omseil! – Daniël Michau

Wat sou Jesus doen?
2010/03/19

Ek het geen probleem as die teologiese fakulteit vir George Claassen kry om te hoor wat sy standpunt is nie [kyk Seisoen van (eensydig) luister!], maar ek het ’n probleem daarmee as teoloë dan sê: “ek kan nie met jou verskil nie.” Ek het ook ’n reuse probleem daarmee dat daar ’n versoek aan UP Teologiese Fakulteit was dat Mark Harwood, wat ’n skeppingsleerder/kreasionis is, ook daar optree en dat dit van die hand gewys word.

Ja, ’n mens moet versigtig wees vir oordeel, maar die Bybel is duidelik dat ons wel die sonde moet veroordeel.

Daar is ’n tyd om te luister en daar is ’n tyd om jou sê te sê oor sonde. Wanneer spreek jy jouself uit oor die sondes waarvan jy hierbo praat: homoseksualiteit, saambly, ens. Daar is baie mense wat die sondes baie driftig veroordeel, maar dit is omdat dit lyk of sommige in die NG Kerk nie meer dink dat dit verkeerd is nie.

Natuurlik loop ’n mens ’n pad saam met mense wat die kerk verlaat het, maar as kerkleiers vol selfvertroue beweer dat sommige dinge nie meer sonde is nie, dan moet hulle baie duidelik hoor dat hulle besig is om te dwaal.

Jy probeer voorgee dat Jesus net sou luister en dat Hy maar almal se sonde sou aanvaar het. Jy weet baie goed dat dit nie waar is nie. Hy het juis die grootste prys kom betaal omdat Hy so ernstig oor sonde is.

Wat dink jy sou Jesus doen? – Daniel

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui