Hofsaak: lidmate stel arbitrasie voor

Kyk ook:

En steeds wil die Gaum’s nie gaan lê nie. Die volgende artikel het op kerkbode.christians.co.za verskyn.

Volgens Wikipedia:

Arbitrasie is ’n wetlike middel om geskille tussen partye buite die hof te skik. Die partye verwys hulle geskil na ’n derde neutrale party (arbiter) en kom ooreen om hulself deur die party se beslissing te laat bind. Anders as ander middele vir die skikking van geskille (mediasie en onderhandeling) is die beslissing net soos in ’n hofgeding bindend op die betrokke partye.

**********

Hofsaak: lidmate stel arbitrasie voor

2 November 2017

Neels Jackson

Die saak tussen ’n viertal lid mate en die NG Kerk, sy Algemene Sinode en vier leiersfigure in die kerk, kan moontlik uit die hof gehou word.

Dit kom nadat die lidmate (prop Laurie Gaum, dr Frits Gaum, prof Michelle Boonzaaier en prop Judith Kotze) op 28 Julie deur hulle regsverteenwoordigers voorgestel het dat die saak vir arbitrasie verwys word. Die regsverteenwoordigers sê in hul brief dat dit in belang van al die partye is om die saak so gou moontlik af te handel.

Die vier lidmate versoek in hulle hofstukke dat die appèlkommissie en Buitengewone Algemene Sinode van 2016 se besluite rakende verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag tersyde gestel word op grond van vermeende onreëlmatighede in die prosedures wat gevolg is en op grond van grondwetlike oorwegings.

Volgens dr Frits Gaum sal ’n arbitrasieproses vinniger wees, waarskynlik goedkoper en dit sal “sagter op die oor val” as ’n hofsaak.

Die voorstel is dat die arbitrasie gedoen word deur ’n paneel van drie afgetrede regters. In hulle brief word ’n lys van agt name van sulke afgetrede regters voorgestel. Hulle is regters Yvonne Mokgoro en Kate O’Regan van die Konstitusionele Hof, regters Louis Harms, Craig Howie, Fritz Brand en Piet Streicher van die Hoogste Hof van Appèl, en regters Brian Southwood en Meyer Joffe.

Die gedagte is dat die lidmate en die kerk elk een regter benoem en dat die twee regters dan ’n derde regter benoem wat as voorsitter van die paneel optree. Die paneel se beslissing sal finaal wees. Daar kan met ander woorde nie daarteen geappelleer word nie.

Dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode en voorsitter van die Algemene Taakspan Regte (ATR), het by navraag gesê een van die ATR se take is om die kerk uit die hof te probeer hou. Daarom is hulle oop daarvoor om die voorstel te oorweeg.

Die kerk se regsverteenwoordiger het intussen op grond van die ATR se advies vir adv Schalk Burger SC aangestel as senior advokaat. Op sy beurt het adv Burger versoek dat adv Borgstöm hom moet bystaan.

Die ATR het ’n omvattende dokument voorberei om adv Burger op die hoogte te bring van die saak, van hoe die kerk funksioneer en van die kerkreg. ’n Eerste ontmoeting met die advokaat is geskeduleer vir vroeg in November.

Die voorstel vir arbitrasie sal ook in oorleg met die regspan gehanteer word. Die kerk se regspan sal dan die lidmate se regspan laat weet of hulle die voorstel aanvaar of nie.

Dr Gaum het gesê hulle meen die voorstel van arbitrasie trek die angel van die hofsaak so ’n bietjie. Dit is ’n minder konfronterende proses.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui