Groep van 35 predikant in Vrystaat gee hulle steun aan Belhar

Kyk ook:

Net voor die sinode van Vrystaat moes stem oor die wysinging van Artikel 1 van die kerkorde, het 35 predikante van die Vrystaat hulle steun aan Belhar verklaar, waarskynlik om die Vrystaatse sinode te oortuig om ook so te stem.

Dit is egter interessant dat Belhar soveel reaksie uitlok. ’n Mens wonder waar was hierdie mense met ander belangriker teologiese kwessies, bv:

Die volgende berig het in die Kerkbode van 6 Maart 2015 verskyn. (Kyk ook die berig hierna met mense se kommentaar onderaan.)

*********

‘Dit bring ons by ’n beslissende moment . . . ’

6 Maart 2015, Kerkbode

Die Vrystaatse gemeentes van die NG Kerk het oorweldigend gestem teen die voorgestelde Artikel 1 van die Kerkorde wat ruimte sou maak vir lidmate om die Belydenis van Belhar as belydenisskrif te onderskryf. ’n Groep van 35 Vrystaatse predikante en lidmate wat Belhar wél onderskryf, het die onderstaande verklaring uitgereik. Hulle nooi ander lidmate wat wil, om hulle name by die lys te voeg. Die groep sê: “Op hierdie manier sal ons graag ’n bydrae wil maak wat die kerk, wat onder die regering van Christus staan en deur die Woord en Gees gelei word, dien.”

In die lig van die proses rondom die wysiging van Kerkorde Artikel 1 in die NG Kerk Vrystaat en die gevolglike posisie van diegene wat Belhar as belydenis onderskryf, verklaar ons die volgende: 1. Ons ondersteun die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van harte. Daarin maak ons ruimte vir mekaar, respekteer ons mekaar se oortuigings, vat ons hande en bou ons saam aan die eenheid binne die NG Kerk en die NG Kerkfamilie. Ons erken daarin die reg van mense wat om welke rede ook al nie die Belydenis van Belhar as belydenis onderskryf nie, maar ons maak ook ruimte vir hulle wat dit wel doen. 2. In die verloop van die stemproses rondom die wysiging van Kerkorde Artikel 1 het die vraag ontstaan of so ’n “referendum onder lidmate” te rym is met ’n proses van geloofsonderskeiding waarin Christus sy kerk deur sy Woord en Gees regeer, deur die vergaderinge van die kerk (ons gereformeerde verstaan en historiese praktyk van kerkregering). Ons spreek daarom ons ongemak uit oor die teologiese gefundeerdheid van die proses. 3. Die uitslag van die stemproses toon duidelik dat ’n meerderheid Vrystaatse gemeentes nie bereid is om ruimte te maak vir “lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat die Belydenis van Belhar as in ooreenstemming met die Woord van God bely” nie. Dit plaas ons wat wel die Belydenis van Belhar onderskryf in ’n uiters moeilike posisie. Net so min as wat ons die NG Kerk as ons geestelike tuiste kan verlaat, net so min kan ons konformeer en ophou om die Belydenis van Belhar te onderskryf. 4. Dit bring ons by ’n beslissende moment waar ons nie anders kan as om openlik oor God Drie-enig se eiendomsreg op die kerk, die Bybelse eis tot eenheid, versoening en geregtigheid en ons gehoorsaamheid aan Jesus Christus as Here te bely en te getuig nie. 5. Ons erken dat alle dokumente wat in ooreenstemming met die Skrif is, nie noodwendig belydenisskrifte word nie. Wanneer die waarheid van die evangelie egter in die samelewing op ’n omvattende en skreiende manier verontagsaam word, bely ’n gereformeerde kerk wat die kerk glo, en druk dit in ’n belydenisskrif uit. In die vroeë 1980’s was die waarheid van die evangelie oor eenheid, versoening en geregtigheid op so ’n omvattende wyse in ons Suid- Afrikaanse samelewing in die gedrang, dat die NG Sendingkerk hulle gedronge gevoel het om te bely wat hulle glo. Dit was vir hulle ’n kreet uit die hart. Oor dié waarheid van die evangelie het hulle in ’n staat van belydenis gegaan; daaroor sou hulle nie weer kon swyg of swig nie. Daarom respekteer ons

die diepe betekenis wat hierdie belydenis vir ons susterkerk het en ons vereenselwig ons daarmee. 6. Ons oordeel dat die waarheid van die evangelie oor eenheid, versoening en geregtigheid in ons eie tyd en samelewing op nuwe maniere omvattend bedreig word – vergelyk die onreg, geweld, korrupsie, gebrek aan respek vir lewe, plaasmoorde, diskriminasie teen en vervreemding van minderhede, onversoendheid, groeiende rassespanning, asook die onvermoë en skynbare onwilligheid van kerke in die NG Kerkfamilie om te herenig. Daaroor kan ons nie anders nie; ons is geroepe om nou weer ’n helder profetiese stem te laat hoor. In die Belydenis van Belhar word dié evangeliese protes juis vanweë die historiese konteks daarvan klokhelder en geloofwaardig verwoord en aanvaar ons dit as geskenk uit ons susterkerk. 7. Juis in ons eie tyd en konteks bly ons geroepe om sáám, as die één liggaam van Christus, met geloofwaardigheid te getuig. As ons dit nie doen nie en in ons kerklike afsondering volhard, sal die klippe dit uitroep! Daarom staan ons ootmoedig voor die Here aan wie die kerk behoort en bely en getuig ons, in die woorde van die Belydenis van Belhar – wat in ooreenstemming met die Skrif en ons ander belydenisskrifte is – oor die eenheid, versoening en geregtigheid wat God self aan ons skenk, en daarom ook van ons vra om in gehoorsaamheid te beliggaam en uit te leef. Ons doen dit met die vaste geloofsoortuiging: “Jesus Christus is Here!”

Die Vrystaatse moderamen het ná ’n vergadering, waarin hy verteenwoordigers van die groep ontmoet het, in ’n verklaring gesê:

  • Die Moderamen het reeds op 24 November 2014 besluit om by die Sinode aan te beveel dat alle huidige lidmate, ongeag hulle persoonlike standpunt oor die Belharbelydenis en ongeag die uitkoms van die stemproses oor Artikel 1, sonder voorbehoud welkom is in die Kerk.
  • Die Moderamen bevestig dat die NG Kerk Vrystaat verbind is om konstruktief betrokke te wees by die genesing en die opbou van die land en ontken enige bewering tot die teendeel.

Geteken deur: Eugene Barnard, Coen Bester, Gerhard Botha, Nico Combrink, Shaun Darker, Anneri du Toit, Danie du Toit, Jeanne Durand, Retha Durand, Kirna Hellmuth, Nelius Jordaan, Charles James, Hein Kotze, Francois Lamprecht, Deon Langenhoven, De la Harpe le Roux, Roelf Lindeque, Christo Louw, Jana Marx, Nico Mostert, Coenie Nolte, Frans Oosthuizen, Lindo Pieters, Daan Potgieter, Kobus Schoeman, Fanie Spamer, Barnard Steyn, Jean van Biljon, Carel van der Merwe, Nico van der Walt, Gideon van der Watt, Pieter van Straten, Danie van Tonder, Rikus van Zyl en Leon Venter.

**************

Die volgende berig het op Netwerk24 verskyn ook na aanleiding van hierdie voorval.

‘NG Kerk gaan lede vervreem’

Brief volg op buitengewone sinodesitting

Vicus Bürger

Saterdag 14 Maart 2015 03:00

“DIT IS EGTER IN HUL PERSOONLIKE HOEDANIGHEID AAN DIE KOERANT GERIG EN MOET NIE AS ’N STANDPUNT VAN DIE FAKULTEIT TEOLOGIE VERTOLK WORD NIE.”

Lede van die NG Kerk-familie sal vervreem word indien die Vrystaatse sinode nee vir die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die kerkorde stem.

Só sê dr. Gerhard Botha, ds. Martin Laubscher, ds. Marlene Oosthuizen, prof. Kobus Schoeman, prof. Fanie Snyman, prof. Jan-Albert van den Berg en prof. Rian Venter, almal verbonde aan die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), in ’n brief wat aan Volksblad gerig is.

Dit is egter in hul persoonlike hoedanigheid aan die koerant gerig en moet nie as ’n standpunt van die fakulteit teologie vertolk word nie.

Die brief handel oor Dinsdag se buitengewone sinodesitting van die Vrystaatse NG Kerk in Bloemfontein.

“Op 17 Maart stem die sinode van die NG Kerk Vrystaat oor die aangeleentheid van die wysiging van Artikel 1 van die kerkorde van die NG Kerk om dit moontlik te maak dat die Belydenis van Belhar as deel van die belydenisgrondslag van die kerk opgeneem kan word.

“Indien die sinode ja sou stem, gee die NG Kerk in die Vrystaat ’n belangrike boodskap aan die res van die NG Kerk in ander sinodale gebiede en, selfs belangriker nog, aan die familie van NG Kerke en ook aan die gemeenskap van Suid-Afrika. Met ’n ja-stem sê die sinode in die tyd is eenheid, versoening en geregtigheid so belangrik dat ons dit saam met duisende ander gelowiges in Suid-Afrika en die wêreld heel pertinent wil bely.

“Ons wil graag saam met medegelowiges ’n belydenisskrif aanvaar wat nie oorspronklik in Latyn of Nederlands deel van ons geloofsoortuiging geword het nie, maar wat in Afrikaans die lig van die Woord op drie belangrike sake in ons samelewing laat val. Teenoor die Kerk wat nie een is, bely ons die eenheid van die Kerk; teenoor soveel onversoendheid bely ons die versoening in Christus; teenoor soveel ongeregtigheid bely ons God se geregtigheid.”

Die brief lui indien ’n teenstem uitgebring word, vervreem die NG Kerk haar van lede van die NG Kerk-familie, want “ons sê daarmee ons deel nie die erns wat medelidmate oor eenheid, versoening en geregtigheid het nie”.

Dié brief is aan die moderamen gerig en dr. Carin van Schalkwyk, skriba, het ontvangs erken. “Ons het eerskomende Maandag om 18:00 ’n buitengewone moderamenvergadering. Ons sal die verklaring daar hanteer.”

Kommentare

Carel van der Merwe

Hopelik het Christus se koms na die aarde ’n nuwe bedeling daar gestel, anders was Sy lyding en kruisiging heeltemal verniet of hoe Piet Piet?

Cobus Botha

Hierdie is ’n blatante en ongevraagde poging om die uitslag van die stemming in die Vrystaat te manipuleer. Maar benoude katte maak benoude spronge, al is die spronge oneties. Die kruipers en apologete het reeds lekker bloedneus gekry met die uitslag in Namibië en Noord-Kaap. En dit lyk of dit in die Vrystaat ook gaan gebeur. Daarom hierdie desperate baba-maak-vir-gogga-bang verklaring.

In elk geval, hierdie obsessie/fetish om met deel te word van die VGK gaan my verstand te bowe.

Koos Kriek

Wiens brood men eet, wiens woord men spreek

Piet Piet

Carel

Jesus het nie ’n nuwe bedeling gebring nie. Hy het dit net kom bevestig en nog moeiliker gemaak. Bv, die gebod om nie ’n ander man se vrou te begeer nie. Kyk wat sê Jesus daaroor.

Die Vader kan nooit verander nie. Dink jy Jesus sou teen Sy Vader draai? Al wat weg geval het is die bloedoffers, niks anders nie. Jesus bevestig met Sy twee gebooie net die 10 gebooie nl om die Vader lief te hê en Sy booie te bewaar (eerste 4 gebooie) en jou naaste lief te hê soos jouself (laaste 6 gebooie)

“On these two commandments hang all the Law and the Prophets.”

“You shall not murder,” “You shall not commit adultery,” “You shall not steal,” “You shall not bear false witness,” “Honor your father and your mother,” and “You shall love your neighbor as yourself”.

Dit is dit is deel van die 10 gebooie. Dit het NOOIT weg geval nie.

Moenie toelaat dat enige iemand jou anders leer nie. Die ou testament staan vas verewig!

‘Why do you call Me good? No one is good but One, t

Christiaan Potgieter

Ek vind hierdie klomp briefskrywers as Belhar-drywers se argumente en styl werklik bedenklik. Hulle is besig om die NG Kerk weg te skeur uit die harte van hulle volksgenote en veral Vrystaters wat erg geteister word deur ’n erg diskriminerende bedeling wat nie ’n tree agter die lelikste dinge van apartheid staan nie. Julle wil voortgaan om ons kinders en hulle kinders se neuse in witskuld te vrywe. Julle styl is ook erg onkerklik en pas nie by die trotse tradisie van Kovsies nie. Julle skuld die sinode ’n apologie.

Marinus Opperman

Staan daar nie ok geskrywe dat enige ding wat twis veroorsaak maar liewer verwyder moet word nie? Belhar is polities en politiek en die kerk hoort nie saam nie. Al het die kerk dit in die verlede gedoen, moet die toekoms van hierdie foute gespaar word.

Hein Bertram

As wat hierdie menere beweer, waar sou wees, sou dit ’n tugwaardige oortreding wees om “nee” te stem, want dit sou neerkom op skeurmakery.

Maar as ’n gemeente met ’n oorweldigende meerderheid TEEN Belhar gestem het, sal dit mos ONEERLIK wees vir die leraar om daarVOOR te stem, dan nie?

My gemeente het met ’n geweldige meerderheid TEEN Belhar gestem.

As wat hierdie menere beweer, naamlik dat lidmate van die NGK-familie van mekaar vervreem gaan raak as ek teen die voorgestelde verandering van Artikel 1 stem, waar is, is dit mos ’n tugwaardige oortreding om so te maak.

Nou maar goed, Menere: Ek nooi julle vriendelik uit om my voor my plaaslike ring te daag op aanklag daarvan dat ek TEEN Belhar gaan stem, en TEEN die verandering van Artikel 1 van die Kerkorde.

Want ek weier om ONEERLIK te wees, en die teenoorgestelde te stem as wat my gemeente gestem het; en ek weier om my eie gewete te verkrag en te stem vir iets wat indruis teen my geloof.

Kosie Theron

Nou word die politiek ook al in die Kerk gepropageer en in jou keel afgedruk.

nic grobler

So pateties, die geworra-worra oor bog.

Dis hoekom die charismatiese kerke groei. En die baklei oor die neef Belhar? Verstaat dit nie. Soos in GLAD nie.

Is hy nie verlangs familie van Belsubub, die oom van Meester Lucifer nie?

Nicola vd Merwe

teug in die ou dae. Die geleerdes dink hulle is reg.

*********

Ja-stemmers wil verklaring oor Belhar aflê

Pleit om ruimte vir verskille in NGK

Vicus Bürger, Vrydag 20 Februarie 2015 03:00

“DIE KERK BAKLEI NIE IN KOERANTE NIE . . . ONS WIL NIE IN DEBATTE BETROKKE RAAK NIE, ONS WIL IN DIALOË MET MEKAAR BETROKKE RAAK.”

– Dr. Carel van der Merwe, leraar van die Universitas-Wes-gemeente

Predikante en lidmate van die NG Kerk wat glo daar moet ruimte geskep word vir die Belhar-belydenis beplan om op die Vrystaat se komende buitengewone sinode ’n geloofsverklaring af te lê waarin hulle die voorgestelde wysiging van Art. 1 van die kerkorde onderskryf.

Volksblad verneem dat hulle op die sinode wat 17 Maart in Bloemfontein plaasvind, gaan sê dat hulle glo ruimte vir verskillende standpunte móét binne die kerk geskep word.

Intussen het die moderamen van die NG Kerk in die Vrystaat in ’n verklaring gesê die voorgestelde wysiging van Art. 1 (wat ruimte vir die aanvaarding of nie van die Belydenis van Belhar wou maak) is in slegs agt gemeentes in die Vrystaat goedgekeur. In 149 gemeentes is dit nie goedgekeur nie, lui die verklaring.

Aanvanklik is berig altesaam 141   gemeentes  het  teen  die wysiging  gestem  en  16 daarvoor.

Dr. Carel van der Merwe, leraar van die Universitas-Wes-gemeente, het by navraag gesê: “Ek is bekommerd oor die toekoms van die NG Kerk.”

Hy het sy stem gevoeg by dié van ds. De la Harpe le Roux van die Torings van Hoop-gemeenskap (Tweetoringkerk) in Bloemfontein.

Le Roux het vroeër oor die oorweldigende meerderheid van Vrystaatse gemeentes wat nee gesê het vir die voorgestelde Art. 1, gevra: “Beteken dit nou daar is vir ons wat die Belydenis van Belhar as ’n belydenisskrif wil aanvaar, geen plek in die NG Kerk in die Vrystaat nie?”

Van der Merwe sê daar is ander in die provinsie wat nes Le Roux “ongemaklik” is.

Volgens hom is dit egter nie “ ’n drukgroep” nie en hulle wil nie in ’n debat in koerante betrokke raak nie.

“Die kerk baklei nie in koerante nie . . . Ons wil nie in debatte betrokke raak nie, ons wil in dialoë met mekaar betrokke raak. Ons wil in dialoë wees totdat almal mekaar gehoor het,” sê Van der Merwe.

Die verklaring van die moderamen lui verder dat hulle reeds op 24 November 2014 besluit het om by die sinode aan te beveel dat alle huidige lidmate, ongeag hul persoonlike standpunt oor die Belhar-belydenis en ongeag die uitkoms van die stemproses oor Art. 1, sonder voorbehoud welkom is in die kerk.

“Die moderamen bevestig dat die NG Kerk Vrystaat verbind is om konstruktief betrokke te wees by die genesing en die opbou van die land en ontken enige bewering tot die teendeel.”

Die verklaring van die moderamen is onderteken deur ds. Helgard Janse van Rensburg, voorsitter, prof. Johan Janse van Rensburg, ondervoorsitter, en dr. Carin van Schalkwyk, skriba.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui