Geloof oor Satan berus nie op Bybel – teoloog

Kyk ook:

Die volgende artikel is van Beeld gekopieer. Dit wys die tipe dwaling wat by sommige teologiese dosente by die Universiteit van Pretoria teenwoordig is.

************

Geloof oor Satan berus nie op Bybel – teoloog

2012-03-09 06:55

Neels Jackson

Baie Afrikaanse kerkmense se geloof oor die ontstaan van die duiwel berus nie op Bybelse gronde nie, al dink hulle so.

Dit is die siening van prof. ­Ernest van Eck, Nuwe Testamentikus aan die Universiteit van Pretoria.

Hy het gister gepraat op ’n konferensie van Scriptorium, ’n sentrum vir die studie van die Nuwe Testament.

Volgens Van Eck is daar by baie mense ’n oorgelewerde of tradisionele manier om die Bybel te lees. Hulle dink dit toon respek vir die grense en gesag van die Bybel, terwyl dit juis nie die geval is nie.

Een voorbeeld daarvan is dat baie mense dink die oorsprong van die duiwel is dat Satan tydens die skepping teen God gerebelleer het. Hy is toe saam met ’n derde van die engele uit die hemel geban.

Mense wat dit glo, hou dikwels vol dat hul siening op die Bybel gegrond is.

Inderwaarheid kom dit uit buite-Bybelse boeke, soos die Testament van Salomo, Henog en Tobit.

Die ironie is dat navorsers wat hulle daarop wys, as liberaal bestempel word.

[Die debat gaan nie oor die ontstaan van Satan nie, maar of hy ’n persoonlike karakter het.]

Van Eck het gesê soms aanvaar mense net die Bybeltekste wat by hul eie oortuigings inpas as Bybels.

Hy het verwys na twee tekste in Levitikus. Die een sê ’n homoseksuele verhouding is ’n gruwel in die oë van die Here en die ander sê twee mans in ’n homoseksuele verhouding moet doodgemaak word.

Die eerste word op sigwaarde gelees en as ononderhandelbaar beskou, maar wat word dan van die tweede?

’n Goeie lees van die teks moet die verskille tussen die destydse en die huidige kultuur en omstandighede in ag neem.

Hy wou weet watter rol die insig speel dat die twee tekste deel is van ’n gedeelte waarin Israel gemaan is om anders as die volke rondom hulle te leef.

Die vraag is of seksuele omgang tussen mense van dieselfde geslag destyds as afgodery beskou is omdat dit in die vrugbaarheidsgodsdiens van Israel se buurvolke voorgekom het.

[Die probleem is, as jy iets in die Bybel wat so duidelik opgeskryf is soos homoseksualiteit begin bevraagteken, dan maak jy die hele Bybel oop vir interpretasie. Daar is teoloë wat presies dieselfde argumente as hierbo gebruik om te redeneer dat Jesus nie uit ’n maagd gebore is nie en dat Hy nie werklik opgestaan het nie.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui