‘Gay is nie ’n keuse, maar liefde is’

Kyk ook:

Hierdie is die tweede keer dat dat Nelus sy progay opinie in die openbaar lig. Kyk ook Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’.

Die Bybel is baie duidelik dat homosekualiteit sonde is. Die wetenskap wys ook dat ’n mens nie so gebore word nie. Vir meer hieroor, kyk Die Bybel oor Homoseksualiteit.

***************

‘Gay is nie ’n keuse, maar liefde is’

Rapport

Sondag 05 Julie 2015 12:02

Prof. Nelus Niemandt, algemene moderator van die NG Kerk, het aan Claudi Mailovich gesê die kerk het gays nie altyd met liefde behandel nie.

Jy is as valse profeet en antichris uitgekryt omdat jy gesê het gay predikante moet kan trou. Hoe voel jy daaroor?

Die reaksie is dieselfde heftige reaksie van albei kante af as in 2007 toe die NG Kerk die eerste keer oor hierdie saak gepraat het. Aan die een kant sê mense hulle is verskriklik dankbaar dat daar ’n sagte, liefdevolle stem uit die kerk kom oor hul baie, baie moeilike situasie.

Ander mense gebruik die hele ding om ’n mens te verdoem.

Maar dit is nie die eerste keer dat ek sien dit is só nie. In die VSA en in Suid-Afrika het elke gay-debat dit maar tot gevolg gehad. Ons is in oorgangstye.

Wat ek ook opmerk, is dat daar ’n groot gros mense is – meer as in 2007 – wat bereid is om met ’n oop oor na die Bybel te luister.

Van oorgangstye gepraat, dink jy jou uitsprake gaan konserwatiewe lidmate vervreem en nuwes lok?

Kyk, die punt wat ek eintlik baie sterk wil maak, is dat daar in ons wêreld vandag mense is – teoloë – wat sê die drie Nuwe Testament-tekste wat ter sprake is, wys homoseksuele verhoudings is verkeerd.

Dan is daar ander teoloë wat sê dit is glad nie die homoseksualiteit wat ons nou ken wat ter sprake is (in die tekste) nie.

Dan dink ek is dit ons plig as Christene om terug te val op die groot lyne in die Bybel. En daai groot lyne is die lyne van liefde en eenheid en geregtigheid.

Het jy nog altyd só gevoel oor gay gelowiges?

Dit verander in ’n mens se eie lewe wanneer jy met familielede te doene begin kry wat gay is.

Dis nie asof mense ’n keuse het nie. Dit was veral uit gesprekke met toegewyde en passievolle gay Christene wat die Here verskriklik lief het en wat baie, baie stryd het oor hul eie sek­sualiteit. Baie, sou ek sê, wens amper dat hulle anders is, maar weet dat hulle vrede moet maak met dit wat hulle is en hul geloof. Dan dwing dit jou om standpunte waarmee jy grootgeword het, en wat jy gedink het reg is, wat jy sommer net aanvaar het – om dit in heroorweging te neem.

Jy het ook gesê daar moet normalisering met betrekking tot lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele mense in die kerk kom. Wat is hierdie normalisering?

Ek dink die kerk moet baie sterk standpunt inneem teen seksuele losbandigheid en teen die kommersialisering van seks in ons tyd. Die gay groepering het ’n geweldige stryd daarmee.

En daarom voel ek hoe gouer ons sulke mense binne die normale funksionering van die kerk kan laat tuiskom, hoe beter.

Met ander woorde ook binne die sterk etiese reëls van die kerk. Hoe gouer ons dit kan normaliseer, hoe gouer kan ons sê ’n langtermyn- liefdevolle verbintenis met iemand van dieselfde geslag kan net so sinvol en Christelik wees as iemand wat in ’n heteroseksuele verbintenis is.

Voel jy die kerk doen in hierdie stadium ’n onreg aan gay lidmate wat nie voor die kerk kan trou nie en aan gay predikante wat glad nie kan trou nie?

Ek dink daar is sedert 2007 ’n baie groter ruimte vir gay lidmate om hul geloof voluit uit te leef. Daar is nog uitstaande sake waaroor ons moet dink, soos oor selibaat wees en dat sulke mense by sekere ampte toegelaat word en by ander ampte nie. Ons kan nie daarvoor wegkruip nie.

Maar dink jy persoonlik die kerk doen ’n onreg aan gay mense of nie?

Ek dink dit is baie duidelik dat gay mense in die verlede te na gekom is met die geskiedenis van die Christendom. Dat kulturele waardes met die Bybel se eise van liefde vermeng is en dat ons nou in die tyd van verandering is.

Ek sou graag wou positief kyk en sê ek dink die NG Kerk en baie ander kerke is besig om hul standpunte hieroor te hersien en dit is goed so, want in die verlede was die optrede nie soos wat ’n mens verwag van ’n liefdesgemeenskap nie.

Waarom is jy so uitgesproke hieroor?

Ek staan op hiervoor, want dit is die pad wat die NG Kerk by sy algemene sinode gekies het. Die NG Kerk het by sy algemene sinode gekies om nuut en anders te dink rondom seksualiteit en gay mense. En as ’n mens die kerk verskriklik baie liefhet, en jy ’n passie het vir almal wat die Here aan die kerk gee, dan moet jy op ’n manier logies probeer sin maak daarvan.

Dit is maar wat ek probeer doen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui