Nelus Niemandt kry wind van voor

In die volgende artikel spreek Dirkie van der Spuy sy ongelukkigheid uit oor die feit dat Nelus Niemandt ’n openbare progay standpunt ingeneem het. Sy probleem is egter lyk my nie Niemandt se opinie nie, maar omdat Niemandt nie die regte kanale gevolg het nie. ’n Mens het baie respek vir Dirkie van der Spuy en Moreletapark wat Johan Strydom afgedank het omdat hy openlik gay was. ’n Mens voel tog egter ’n bietjie teleurgesteld in Van der Spuy se reaksie. Dit is ’n baie diplomatiese reaksie. Niemandt was bereid om ’n baie kontroversiële standpunt in die publiek in te neem. As ’n mens in ag neem hoe ernstig Jesus self was oor verkeerdhede is die vraag of kerkleiers wat met Niemandt verskil, dan nie ook in die publiek standpunt moet inneem nie? Van der Spuy sê dat hy vrede wil hê. Dit laat ’n mens dink wat Jesus in Matteus 10:33-38 gesê het:

(33)Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is. (34)Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. (35)Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. (36)En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees. (37)Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. (38)En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.

Later die jaar, ná die 2015-besluit, het Dirkie weereens ’n baie tegemoedkomende opinie uitgespree – kyk Nelis Janse van Rensburg en Dirkie van der Spuy oor die 2015 NGK homoseksuele besluit (10 Okt 2015).

************

Nelus Niemandt kry wind van voor | Netwerk24

Deur Claudi Mailovich

3 Julie 2015

‘Media nie regte plek vir debat’

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, kry die wind van voor ná sy versoenende opmerkings oor gays se rol in die kerk vroeër vandeesweek.

Die kerk se oostelike sinode, wat die ooste van Pretoria en dele van Mpumalanga en Limpopo insluit, is ontevrede omdat Niemandt sy standpunt aan die groot klok gehang het.

Dié sinode se leierskorps het Donderdag ’n brief aan die moderamen van die algemene sinode gestuur omdat hulle glo die media is nie die regte platform “om so ’n kontensieuse saak aan te spreek nie”, het ds. Dirkie van der Spuy, moderator van die oostelike sinode, gesê.

Hy wou nie meer oor die inhoud van die brief sê nie.

Niemandt het vandeesweek aan Beeld gesê dit is sy persoonlike wens dat daar in Oktober op die algemene sinode besluit sal word dat gay predikante nie selibaat hoef te wees nie en dat gay paartjies met die volle seën van die kerk mag trou.

Omdat die verslag wat oor die saak handel nog nie op die algemene sinode gedien het nie, wou Van der Spuy nie breedvoerig oor dié kwessie uitwei nie.

“Ek wil die saak op ’n kerk­like wyse hanteer,” het hy gesê.

Volgens Van der Spuy het hulle vandeesweek in hul sinodale diensraad-vergadering onder meer oor gay-verhoudings gepraat toe Niemandt se uitsprake ter sprake gekom het.

“Ons soek almal vrede en rustigheid, maar ons wil aan sterk beginsels en aan die riglyne van die Skrif vashou,” het Van der Spuy gesê.

Volgens hom sal almal op die algemene sinode saampraat.

Van der Spuy was voorheen leierpredikant van die NG kerk Moreletapark in die ooste van Pretoria en is steeds aan dié gemeente verbonde.

– ds. Dirkie van der Spuy, moderator van die oostelike sinode

—————————–

Dié gemeente se amptelike standpunt is dat die uitleef van homoseksualiteit teen God se wil en plan is, het Johan Smook, kerkraadsvoorsitter, vroeër vanjaar gesê.

Dié kerk het in die tyd toe Van der Spuy die gemeenteleier was in ’n hofstryd gewikkel geraak met ’n gay musiekdosent, Johan Strydom. Hy is van sy dienste by die gemeente onthef nadat hulle vasgestel het hy is gay en in ’n verhouding.

Neels Jackson, redakteur van Kerkbode, het by navraag gesê: “Moreletapark se standpunt bepaal nie noodwendig die oostelike sinode se standpunt nie, want hoewel hulle ’n groot gemeente is, is hulle een van sowat 80 gemeentes.”

[Kommentaar: Neem kennis dat Neels Jackson openlik progay is.]

Niemandt het Donderdag nog nie die brief onder oë gehad nie.

“Ek deel die oostelike sinode se gevoel dat daar in die kerk rustigheid hieroor moet wees en dat daar ’n goeie teologiese gesprek op die algemene sinode sal wees. Dié week se debat dui daarop dat daar intense en uiteenlopende standpunte is.”

Dr. Johann Ernst, aktuarius van die NG Kerk, het bevestig die moderamen het die brief ontvang. Hy meen ook dat die gesprek nie in koerante gevoer moet word nie.

Hy het vandeesweek op Facebook gesê Suid-Afrika se wetgewing “maak ’n duidelike onderskeid tussen die huwelik (Wet op Huwelike 1961) en dieselfdegeslag-verbintenisse (Wet op Burgerlike Verbintenisse, 2006).

“Ons kan dus nie van gay-huwelike praat nie. Die NG Kerk sal nie van sy standpunt afsien dat ‘volgens ons verstaan van die Bybel slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word nie’.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui