E-pos gesprek tussen Frits en Laurie Gaum

Die gay predikant Laurie Gaum se lewensmaak, Douw Wessels, het ’n paar dae voor hy in 2005 selfmoord gepleeg het hul verhouding aan koerante bekendgemaak. Die boek Praat verby Grense is daarna uit e-posgesprekke tussen Frits Gaum, die behoudende dominee en kerkleier, en sy seun saamgestel.Laurie Gaum (links) en Frits Gaum (regs)

FROM: Laurie Gaum
To: Frits Gaum
Sent: Saturday, 25 April, 2009 9: 19AM
Subject: Douw se dood

Pa verjaar vandag – baie geluk! En dankie vir Pa se openhartigtigheid. Dit lyk my hierdie een gaan nie ’n maklike gesprek wees nie. Maar dan het ek ook al geleer baie dinge in die lewe is nie so maklik nie; daar’s maar een pad en dis daardeur!

Die dood – en Douw se dood in besonder: Ek het daardeur geleer (saam met baie ander dinge) dat nie almal die lewe “wil” nie. Soms kom ’n mens by eindes wat jy nie so sou verkies het nie, maar wat jy nie met jou wil kan verander nie.

Die dood kan vir sommige’n uitkoms wees – selfs ’n keuse. Pa skryf Pa wou bly lewe. Douw was ook so oud soos Pa daai tyd toe hy nie meer wou aanhou lewe nie.

Hoe Douw se dood aan my lewe gevat het? Pa moet onthou dat ek Douw liefgehad het.
Sy dood het my lewe op vele vlakke verander. Dit het my ook met die werklikheid gekonfronteer dat ’n mens nie almal se lewens kan “red” nie – sterker gestel: dat jy niemand se lewe kan red nie! Want elke persoon aanvaar uiteindelik verantwoordelikheid vir sy/haar eie lewe en vir die besluite wat hy/sy neem. Predikante of geestelike leiers en ander mense wat in die hulpberoepe is, kan maklik “God junior” speel en probeer “help” waar hulle dalk nie behoort te help of in elk geval nie kan help nie…

Die vreemde omstandighede voor Douw se dood en sy daaropvolgende selfmoord het my laat besef dat sommige dinge eenvoudig met ’n mens gebeur – oor jou lewe kom – as deel van die lewe. Ek dig alles nie sonder meer aan God toe nie. Dan beland jy maklik in die blaming game en verkwalik jy God as die oorsprong van dinge. Ek dink ek het my versoen met my gaywees toe ek opgehou het om die sin daarvan in die oorsprong van dinge te soek. Dis veel meer betekenisvol om te konsentreer op hoe dinge nou is en hoe om met die voor hand werklikheid om te gaan. Anders bly jy in die verlede lewe. As iets met jou gebeur – al is dit iets slegs – kan jy mos bepaal hoe jy daarop reageer. En met die krag van God kan selfs ’n slegte ervaring omgesit word in wat goed is.

Dis wat ek oor die lewe, my lewe en Douw se lewe, geleer het. En dit was juis in die lig van sy dood. Terwyl my lewe nou verweef was met syne, was die besluit wat hy oor sy lewe, en sy dood, geneem het, syne. En die verantwoordelikheid daarvoor syne. As ons dit nie so verstaan en elkeen voor God verantwoordelikheid vir sy en haar eie besluite aanvaar nie, dra ons ondraaglik swaar aan die las van mekaar se besluite.

From: Frits Gaum
To: Laurie Gaum
Sent: Sunday, 26 April, 2009 11:51 AM
Subject: Verantwoordelikheid vir mekaar

Natuurlik kan jy nie verantwoordelikheid vir Douw se dood aanvaar nie. Hy het uiteindelik self gekies, en vir hom was die uitweg die dood. Ek weet ook van die talle kere wat jy hom weggetrek het van daardie lokstem terug na die lewe toe. Juis toe het jy jou verantwoordelikheid teenoor hom probeer nakom, was jy sy “oppasser”. Ek weet ook hoe uiters vermoeiend, en slopend, dit vir jou was om elke keer weer met diese!fde situasie gekonfronteer te word.

Maar ek stem saam: om aanhoudend oor die verlede te tob (waaraan ’n mens niks kan doen nie), of na die toekoms te smag (waaraan ’n mens ook nie vee! kan doen nie), is futiel.

Die belangrike is hoe jy die hede hanteer, wat jy met vandag doen: hoe jy met die voor hand werklikheid omgaan, soos jy dit stel. En hoe ’n mens dan selfs ’n slegte ervaring kan omsit in wat goed is. Dit het ek destyds probeer doen deur my na my siekte met nog groter drif as voorheen aan my werk te wy. Of dit die “regte” ding was om te doen, kan ’n mens wel vra. Maar my redenasie was min of meer: Die Here het my lewe gespaar, nou moet ek wys dat ek dankbaar is deur die werk wat Hy my gegee het met alles wat ek het te doen. Maar dit was juis in jou vormingsjare. Dit is nou soms vir my ’n kwelvraag (al moet ’n mens nie terugkyk-terugkyk leef nie!): In watter mate was die “afwesige pa” daardie jare vir jou ’n probleem?

Ek dink jy het op die ou end baie goed daarin geslaag om die slegte ervaring van die openbaarmaking deur Douw in die geelpers van die feit dat jy’n gay dominee is, om te sit in dit wat goed is.

Johannes de Villiers het in Die Burger geskryf dat jy jou kruis opgetel en daarmee begin loop het. Is die feit dat jy gay is, ’n kruis, Laurie, of iets waaroor jy kan feesvier? Hoe het jy jou daarmee “versoen”, soos jy skryf?

Dankie vir die gelukwensing mer my verjaarsdag. Ja, dis ’n lang skof wat agterlê. En as ’n mens ouer word, is jou neiging tog maar om te wil terugkyk, bestek op te neem, uit die warreling van die verlede sin te probeer maak. En, natuurlik, jou optredes en doen en late van die verlede te regverdig, al is die maar net teenoor jouself.

From: Laurie Gaum
To: Frits Gaum
Sent: Monday, 27 April, 2009 9:01 AM
Subject: My gay-wees

Ek kan nie sê dat ek Pa in my grootwordjare as “afwesig” ervaar het nie. Ek onthou daardie jare op Wellington as gelukkig en sorgvry met ’n oorheersende herinnering aan geborgenheid. Ma het natuurlik ook baie gedoen om ’n huislike omgewing te skep. As ek terugkyk, waardeer ek veral die mate van vrye denke en uitdrukking wat julle as ouers toegelaat het. Dat ons ons kamers elkeen in die kleur(e) van ons keuse kon verf – wat beteken het dat myne geel, rooi en groen was, en Andre sin skuins geel en grys strepe gehad het – was nogal fantasties! Daar het altyd kreatiwiteit deur die huis geloop wat aangemoedig het tot selfstandigheid. Ons Sondagmiddagse etenstafelgesprekke oor kerksake en politiek was, hoewel hewig en partykeer onstuimig, ’n vorming in kritiese en onafhanklike denke.

Pa vra hoe ek my met my gaywees versoen het. Ja, dit is ’n “kruis” soos Johannes de Villiers geskryf het. Maar soos ek die plek van die kruis in die evangelie verstaan, kom die verlossing juis in die omhelsing daarvan. Dit is in en deur Jesus se wonde wat die genesing kom.

Wat my betref, dink ek ook die omhelsing van my “kruis” – die uitdagings van die lewe wat oor my pad gekom het – het vir my bevryding gebring. Daarom kan en behoon dit ook ’n “viering” te wees: van wie ek is, van wie God my gemaak het. Francois Tredoux van Stellenbosch sê dat gay-wees nie net oor ’n seksuele orientasie gaan nie, maar ’n “sensibility” is. Om dus daardie “skat” bloot te lê, die skat van om gay te wees! – is om die krag te ontdek waaruit jy lewe. My gay-wees is die lewenspassie wat my passievol laat lewe en passievol oor mense en die lewe maak. Meer nog as wat ’n heteroseksuele mens bly is dat hy of sy heteroseksueel is en met passie heteroseksueel wil lewe, want die minderheidsposisie van gay mense moedig hulle aan om die onskatbare waarde van hierdie “skat” te ontdek en te vier.

Maar ja, dit was ’n worsteling met God om my geloof en my roeping om predikant te word te behou en om ook regtig vrede te maak met my seksualiteit. Soos Pa baie goed weet, word dit steeds nie wyd in die samelewing – en in die kerk! – verwelkom dat ’n mens jou gaywees omhels en dit met jou geloof en alles wat jy is, integreer nie. Tog is daar myns insiens nie ’n ander pad om te loop nie, is daar geen beter manier om God en mens in die oë te kan kyk nie. Ek het myself dus met die genade van God aanvaar as gemaak na God se beeld. En siende dat ons vanuit die herskepping in Christus lewe, is die beeld van God ook in my herstel.

Maar dit is ’n gay beeld. En ek kan dit nie sidestep nie; ek mag nie! Ek wil dit omhels en soos enige ander gelowige verantwoordelik voor God lewe. Om gay te wees, is my kruis wat juis in die omhelsing daarvan my seën word!

Ek het dit baie waardeer dat Pa, nadat ek vir Pa vertel het dat ek gay is, bereid was om oor ’n lang tydperk saam met my na ’n pastorale terapeut te gaan en hierdie sake saam met my deur te praat. Pa was oop genoeg om oor iets te leer waarvan Pa nie genoeg geweet het nie. En Pa en Ma was bereid om nuwe kennis en insig in julle lewe toe te laat en nie die “makliker” weg re volg en ’n volstruis-mentaliteit in te neem nie. Maar die skuif in Pa se denke hieroor was seker ook nie sonder pyne nie?

From: Fries Gaum
To: Laurie Gaum
Sent: Tuesday, 28 April, 2009 12:01 PM
Subject: Die formele afspraak

Toe jy die dag met my ’n “formele” afspraak maak om met my op kantoor te kom praat, het ek geweet waaroor dit gaan. Sonder dat ons voorheen daaroor gepraar het, het ek geweer dat jy vir my wil kom sê dat jy gay is. Wat toe ook gebeur het.

Hoe op aarde is die dan dat ons nooit voorheen daaroor gepraat het nie? Eintlik het ek en Ma dit al vermoed – natuurlik, ja – maar dit was tog iets wat ons liewer nie vas in die oë wou kyk nie. Volstruis-mentaliteit? En dit om talle en talle redes baie dieselfde as die van die meeste ander ouers van gay kinders, maar tog dalk ook ’n bietjie anders.

Met jou daardie dag by my in die kantoor, is ek gekonfronteer met iets wat ek tot in daardie stadium op ’n veilige afstand kon hou. My seun is homoseksueel. En hy is ’n predikant van die NG Kerk wat, nes die grootste deel van die samdewing, met ’n dik frons na homoseksualiteit kyk.

Vir baie kerkmense, soos vir baie hardebaard-vleisbraaiers en stoere rugbykykers, was en is dit ’n kortpad hel toe. Ek het nooit so ongenuanseerd daarna gekyk nie, maar – soos ek gesê het – op my radarskerm het dit tot in daardie stadium skaars ’n flikkering veroorsaak. Maar daarna was dit anders.

Ek en Ma het ure daaroor gepraat, ons het hier en daar en oral kers gaan opsteek, ons het boeke gelees, ons het die Bybel gelees, ons het gebid. Baie.

Want dit was nie vir ons so ’n eenvoudige, maklike saak nie. Dit was iets waarmee ons algaande moes vrede maak – en dan eers nadat ons besef het dat ons vorige oppervlakkige siening van die saak glad nie meer van toepassing is nie. Ons kon dit nie daar en dan en kant en klaar “omhels” nie … maar ons kon en wou en moes jou steeds omhels, en het toe algaande besef dat – as ons jou omhels, omhels ons alles wie en wat jy is – vanselfsprekend ook jou gay-wees, want dit is wie jy is!

Ja, vir my was dit veral belangrik om by die Bybel “verby te kom” (nes Ben in Lente van ’66*!). Ek is op stuk van sake, soos jy, predikant. Op die oog af lyk dit of die Bybel van selfdegeslagseks niks wil weet nie. Ses, sewe tekste en Skrifgedeeltes word graag aangehaal as onomstootlike bewyse dat die Bybel homoseksualiteit afwys. Maar algaande het ek al beter verstaan dat daardie Bybeldele niks oor homoseksualiteit as sodanig sê nie (dis in elk geval ’n 19de-eeuse begrip). Die Bybel spreek hom nie uit oor aangebore homoseksualiteit en selfdegeslagverhoudings wat as lewensverbintenisse bedoel is nie. Die Bybel praat wel baie oor liefde. En oor geregrigheid.

Maar nou is daar tog ’n soort teenspraak in jou vorige brief, Laurie. Jy skryf dat jou Wellingtonse kinderjare gelukkig en sorgvry was – “geborge” noem jy dit – maar verder aan praat jy van jou worsteling met God en met jou roeping – jou worsteling om vrede te maak met jou seksualiteit. Het die stryd dan nie al in jou “sorgvrye” jare op Wellington begin nie?

Later hierdie week vertrek jy na Denemarke en Duitsland waar jy op ’n paar plekke gaan preek en ook gay en ander groepe gaan toespreek. Ek hoop jy skryf van daar af en vertel van jou ondervindinge!

From: Laurie Gaum
To: Frits Gaum
Sent: Sunday, 11 October, 2009 16:00 PM
Subject: Hoop

Liewe Pa

Op 70+ skryf mense wat kan, graag boeke. En outobiografleë. Sê Pa. Daarom moet Pa weet hoe vreesaanjaend dit is om al op 39 iets oor “my lewe” op skrif te sit. Maar soos iemand uit Kanada laat weet het toe ek vir hom skryf ons boek sukkel om te “gebeur”: “Dit het beslis al gebeur, dit moet nog net geskryf word.” En so het die skryfproses die afgelope paar maande gebeur en was dit vir my goed – ’n goeie terugreis, vorentoe reis, saamreis met Pa. Pa het Pa se hart oopgemaak. En ek myne. So het ons die tweegesprek wat die joernalis Comel Dunn in 2007 in die tydskrif Rooi Rose begin het, verder gevat.

Waarop hoop ek op 39?

Ek hoop op ’n gelyker samelewing. ’n Einde aan diskriminasie: ekonomiese diskriminasie, klassediskriminasie, rassediskriminasie, geslagsdiskriminasie, seksuele-orientasie diskriminasie.

Kan ek waag om te hoop dat daar nog in my leeftyd ’n einde aan diskriminasie in ons samelewing sal kom?

Ek, synde wie ek is, hoop op ’n samelewing wat met homofobie klaargespeel het. Ek hoop dat meer mense sal opstaan vir hulle Godgegewe menseregte en nee sal sê om deur ander geboelie te word wat vir hulle en oor hulle wil besluit. Ek hoop dat meer mense bemagtig sal word om hulle stemme te vind en te gebruik. Ek hoop op die dag dat ’n lesbiese vrou of ’n gay man trots en sonder skewe kyke hand aan hand straataf met haar of sy lewensmaat kan stap. Ek hoop op die dag dat ek in die Moederkerk op Stellenbosch, in die Groote Kerk, in Stellenberg, in Vredelust, in Moreletapark, kan trou as ek wil soos wat straight mense vir hulle daardie reg outomaties toe-eien.

Ek hoop dat daar ’n dag sal kom dat die kerk nie God se seën van sekere verhoudings sal weerhou en dit reserveer vir slegs sommige nie.

Ek hoop op ’n dag dat die kerk weer sal onthou dat almal met een doop gedoop word. Ek hoop op ’n dag dat meer gelowiges sonder voorbehoud die onvoorwaardelike liefde en aanvaarding van God aan almal sal bewys.

Ek hoop op ’n dag dat die kerk die nagmaal tot alle gelowiges se versterking sal bedien en dit nie van sekeres weerhou nie.

Ek hoop op die dag dat my suster, die swart lesbiese vrou in die township, ook daar aanvaar sal word en veilig sal voel.

Ek hoop vir ’n samelewing waarin ons sal onthou dat my menslikheid saamhang met joune!

Ja, Pa, ek hoop op ’n samelewing wat onder meer ook deur die “saak” van homoseksualiteit sal leer om sensitiewer met mense wat anders as hulle is om te gaan. Dit is nou eenmaal so dat die “andersheid” van “vreemdes” onder ons dikwels lei tot haat vir die ander (teenoor liefde vir die naaste!) in ’n samelewing wat nie weet watter kant toe met diversiteit nie. Dit laat diegene wat “anders” is, weerloos. In die samelewing. Ook in die “veilige ruimte” van die kerk.

Ek hoop. . .

Ek hoop baie hard.

“Ja, ek het hoop, Pa. Hoop dat dinge in ons samelewing, en in die kerk, anders word. Ek het hoop, as nie ’n teologie van kragdadigheid nie, nie ’n teologie van rigiede reëls en veroordeling en koudheid nie, maar ’n teologie van weerloosheid . . . van genade, van liefde . . . onder ons begin oorneem. Dis mos ’n teologie wat deur my en Pa se lywe loop. Dis ’n teologie waarna ek ’n sug hoor in Lente van ’66 as Ben (Pa?!) in ’n fiktiewe gesprek met Johan Heyns protesteer teen baie Afrikaners se teologie van die ou dae: “Die doopformulier sê ons is almal in sonde ontvang en gebore.

“Maar dit lyk my ons dink gay mense is nog meer in sonde ontvang en gebore as die res van ons. En vir hulle skryf ons teologie ’n lewe van stryd voor, en van veroordeling, en van verwerping, en van onreg . . . solank die dinge met ander mense gebeur, is dit goed en wel, Johan, solank dit net nie met my en my mense gebeur nie. Dis soos met apartheid … Ander ouens kan maar swaar kry, net nie ons wittes nie”

Ek sit my voet op die pad wat ’n “teologie van weerloosheid” vir my oopmaak, Pa – ’n teologie wat aanvaar dat ons almal mense en menslik is, niemand meer of minder mens as ander mense nie. In navolging van Jesus. En juis in hierdie passievolle maar weerlose Moeder Afrika van ons. Dankie vir Pa se hand wat my tot hier help lei het. En vir Ma se sorg van elke dag. Die reis lê lank en ver voor my, dis ’n pad – weet ek – met opdraandes, teleurstellings, neerlae, en stryd, met baie stryd. Maar ek, ons, is nie alleen nie. En ons “wapens” is hoop, geloof en liefde. En die grootste hiervan . . . Liefde!

* Lente van ’66 is ’n roman deur Frits Gaum.

KOPIEREG LAURlE GAUM EN FRITS GAUM 2010
Uittreksel uit Praat verby Grense deur Laurie en Frits Gaum. Let wel: Van die e-posse is verkort.
Uitgegee deur Umuzi, ’n druknaam van Random
House Struik (Edms.) Bpk. R150

2 thoughts on “E-pos gesprek tussen Frits en Laurie Gaum”

  1. Onlangs gehoor my geskeide dogter is nou in ’n selfdegeslagverhouding.
    Voel ook soos wat Fritz gevoel het…. dit gebeur met ander. ’n Oppervlakkige mening het my gesus dat ek wel ’n mening het. Noudat dit my dogter is, wil ek meer navorsing doen, beter ingelig wees en ’n meer geronde mening he.
    Ek voel broos en onseker oor die pad vorentoe. As ouer wil ek leiding en ondersteuning gee terwyl daar soveel worsteling is. Ek besef daar is nie ’n vinnige antwoorde nie.
    My bede is dat ek antwoorde sal kry op dit wat werklik saakmaak; die pad vorentoe ons geloof sal versterk en tot ’n beter verhouding sal lei.
    Hef aan!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui