Nagmaal onverwags ’n versoeningsmaal

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Rapport verskyn.

************

Nagmaal onverwags ’n versoeningsmaal | Rapport

12 Februarie 2011

Laurie Gaum

Broer Dennis nooi my na sy 80ste verjaardagpartytjie. Ek kan nie glo dat hy al so ver in die lewe trek nie. Hy praat van Maandagoggend, maar ek is on­seker wanneer presies om op te daag en besluit dus op 11:00.

Sy huis is op die hoek net oorkant die VGK in Belhar. Ja, sowaar daardie plek wat aan die beroemde belydenis waaroor mense so struwel sy naam gegee het. Dit is einste by ’n sinode in daardie kerkgebou waar die Belydenis van Belhar in 1986 deur die tóé nog NG Sendingkerk amptelik aanvaar is.

Ek ken die pad na broer Dennis se huis. Onderweg soontoe dink ek aan die baie kere wat ek hom daar gaan oplaai het om die een of ander besoek te bring; of dit nou huis-, sieke- of hospitaalbesoek was. Dis seker min predikante se vreugde, huisbesoek, “but it pays the dues”, soos ’n kollega eenkeer gesê het.

Ek en broer Dennis het kruis en dwars oor die Kaapse Vlakte gery terwyl hy my touwys gemaak het in soveel kunsies van die bediening. Die grootste daarvan was seker om eenvoudig bý mense te wees.

Elfuur is blykbaar ’n bietjie vroeg vir die geleentheid. Die tyd raak nog verwagtend vir wat kom. Ek doen solank die rondes in die lugtige vertrek om die susters en enkele broers te groet.

Daar word hartlik opgevang en vertel hoe dit met dese en gene gaan.

Drupsgewys kom meer en meer mense aan totdat al die stoele gevul is en ’n paar opslanes staangemaak moet word. Dan daag die nuwe leraar en juffrou op. Die tafel is al swaar gelaai van elkeen wat iets bylas.

Die dominee val weg met ’n grappie hier en daar; die lees van ’n Bybelgedeelte; hy bring ’n boodskap. Maar dan sorg hy vir die verrassing. Hy sê dat die nagmaal bedien word as deel van dié viering. Ek’s effens onkant betrap.

Toe ek tot verhaal kom, is ons al amper anderkant die formulier uit.

Met dié dat ons by die gedeelte kom waar jy “die oordeel oor jouself eet en drink”, wonder ek of die mense nie dalk wonder of ek ’n oordeel oor myself eet en drink nie. Vir ’n oomblik gaan dit deur my gedagtes of húlle nie dalk ’n oordeel oor húlself eet en drink nie. Dan los ek die oordeel uit en is ons deur die formulier.

Twee diakens staan by vir die bediening en deel eers die brood uit – die versplinterde liggaam – in klein, bleek stukkies gesny: “Dit is my liggaam, gebreek vir jou.”

Een beker doen die ronde. Ek dink aan kerkraadsvergaderings waar ons tot laataand geredekawel het of ons ook maar kan afsien van die beker ten einde kelkies te gebruik by die nagmaal. Maar nou kry die eenheid van die beker en die wyn vir my betekenis.

Die skerp reuk tref my neus, die vloeistof raak ligweg aan my lippe en vloei warm in my mond toe ek dit drink. “Die bloed… vir my.”

Die bloederigheid van dié maal kom by my op. Dít staan my nie aan nie, om eerlik te wees – al die bloederigheid. Ek sukkel om my kop te kry om ’n offerlam en “soenoffer” en watter betekenis dit vir ons het. Ek sal weer na die ander versoeningsteorieë moet gaan kyk, dink ek by myself.

Tóg voel dit vir my op hierdie oggend, tussen hierdie mense – oorkant die VGK in Belhar – na ’n versoeningsmaal. Bloed en lyf vir my, weerklink dit in my kop. Bloed en lyf vir my lyf; my lyf tussen die ander lywe in die vertrek. Ek dink aan eenheid, ek dink aan versoening – en aan geregtigheid.

Ek dink aan die dinge wat mense aan mekaar doen.

My gedagtes gaan na die mooi gerestoureerde kerkie op Riebeeckplein in die Kaap – die eerste teater in die land.

My gedagtes sweef oor generasies en oor jare, oor dekades, tot daar waar St. Stephen ’n kerk vir vrygemaakte slawe geword het. Ek sien hoe mense dié kerkie met klippe bestook het. En hoe van die mense saam met my hier in die vertrek, later jare uit Distrik Ses oor die Kaapse Vlakte versplinter is.

Ek wonder oor verskoning vra en sondes bely en vergifnis kry. Moet dié wat jy voel jou te na gekom het, in persoon teenoor jou bely? Dit maak dit seker makliker, maar is dit absoluut noodsaaklik as dit nie só gebeur nie?

Kan ’n mens sommer net laat los? Of wat kos dit? Is die koste te hoog indien jy voel dat die seermakery nog nie opgehou het nie? Het jy die een of ander katarsis nodig in die boetedoenings- en vergifnisprosesse? En prosesse ís hulle.

’n Paar broodkrummels het op my skoot beland. Ek vee dit met die plat kant van my hand af; dieselfde hand waarmee ek netnou, tydens die vredesgroet, my medebroers en susters gegroet het. Toe ek my later losmaak uit dié gemeenskappie en terugry stad toe, verby die Belhar VGK, is dit of ek ’n bietjie vryer voel.

* Laurie Gaum is verbonde aan die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Kaapstad.

Wat het vroeër gebeur?

* Nadat dit in 2005 op die lappe gekom het dat ds. Laurie Gaum in ’n gay-verhouding met mnr. Douw Wessels is, het die NG gemeente St. Stephen, waarvan hy die leraar was, besluit om sy dienste te beëindig.
* Die St. Stephen-gemeente word in ’n historiese kerkgebou in Breestraat, Kaapstad, gehuisves.
* Dit was ook vroeg reeds ’n ongewone verskynsel binne die NG Kerk deurdat dit dié kerkverband se eerste oorwegend bruin gemeente was wat ’n kudde van oor die hele Kaapstad heen bedien.

– Rapport

Lewer kommentaar

Ralph – Februarie 13, 2011 om 00:57

Oomblikke soos dié gee hoop. Sonder hoop kan ons nie ’n nuwe gemeenskap bou nie. Hoop moet ons inspireer tot sterker aandrang op geregtigheid. Anders sal die ongeregtigheid wat jou getref het, Laurie, steeds bly voortwoed teenoor duisende ander.

Pierre – Februarie 13, 2011 om 19:36

@ Ralph . Hoop vir wie ? Daar is altyd hoop my vriend . Hoop eerder op jou verlossing as dat Die Woord se woorde gaan verander . Gays behoort altyd welkom in enige christelike kerk te wees maar moet nie die gaywees storie deur n gay christenprediker op my afdwing nie . Dit bly onnatuurlik en onbybels .

OllieMor – Februarie 14, 2011 om 07:27

En hier gaan ons maar weer. Thank you god, for making me a lesbian. Thank you christians, for making me an atheist… (versag)

Ryno – Februarie 13, 2011 om 08:10

Ek bly verstom dat Laurie en sy Pa altyd besig is om die slagoffers te speel. Dink Laurie mense het vergeet dat sy lewensmaat Douw selfmoord gepleeg het na Laurie se kaalfoto’s op die strand saam met ’n klomp ander gay mans op die lappe (en in Huisgenoot) gekom het? Watter gemeente het so ’n man vir ’n predikant nodig! Die pretensieuse vals profete wat die Gaums is behoort almal ’n guns te doen en uit die kollig te verdwyn waarin hulle sp graag baai

Blaauwberg – Februarie 13, 2011 om 09:48

Ek het nie veel tyd vir Fritz Gaum nie, wat sy seun egter betref so what as daar kaal foto’s van hom en ander pelle geneem is, dit was sy persoonike album en het niemand skade aangedoen nie

billpieterse – Februarie 13, 2011 om 10:57

Lees wat sê die woord.

Luk 6:37 En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word

Joh 8:7 Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ’n klip op haar gooi

Ralph – Februarie 13, 2011 om 12:09

Ryno, hoe goed ken jy die omstandighede? Het jy kennis gedra van Douw se depressie en selfmoordneigings? En dat hy die foto’s laat uitlek het? Dit is egter nie die punt waaroor dit gaan nie. Die punt is dat daar teen gaymense onbillik gediskrimineer word, waarvan Laurie – en Douw – en duisende ander slagoffers is en was. Die vraag is dan: Vergewe en versoen mens net of dring jy aan die regstelling van ’n onregverdige sisteem waarin die waarde van ’n mens gemeet word aan jou seksualiteit?

jannef – Februarie 13, 2011 om 13:07

Ryno, jou kommentaar is die juiste ding waarteen die kerk moet bly veg. Die eng, selfgeregtigheid waarmee jy oordeel uitspreek openbaar boekdele oor jouself. Die slotsom bly vergifnis en vrymaking. Dit bly verstommend vir my dat mense in die naam van die Here sulke selfgeregverdige haat en seermaak-woorde kan uiter.

faan – Februarie 13, 2011 om 15:00

As Laurie nie gay was nie en sy in-die-see-kaalfoto`s sou in die koerante verskyn, sou hy kwalik as predikant kon voortgaan. Nou is hy gay en baie reken dat dit maar reg was oor die genoemde foto`s. Praat daarteen en jy is liefdeloos teen gay mense. Terloops, ek ken Douw se familie. Nee Laurie, jy was “ontrou” lyk dit my. Klim van jou martelaarstoel af en gaan soek hulp.

faan – Februarie 13, 2011 om 15:02

billpieterse, Jesus het ook vir die vrou gesê dat sy kan gaan maar nie meer moet sondig nie.

OllieMor – Februarie 14, 2011 om 07:28

Jislike, Ryno. Who died and made you king? Wie’s jy om te oordeel. O, wag. Jou god het seker vir jou gese jy mag

Shatters – Februarie 16, 2011 om 12:08

HOEKOM MAG RYNO NIE ‘N MENING HE NIE? Wie dink julle ander is julle om hom aan te val net omdat julle van hom verskil .. respekteer sy mening soos julle wil he hy julle s’n moet respekteer .. As jy persoonlik uit die kerk wil uitbly . BLY WEG . dit is ’n saak tussen jou en God .. so moenie ander mense skuld daarvoor gee nie ..

Murky Bucket – Februarie 13, 2011 om 16:39

“Dit is my liggaam, gebreek vir jou.” Jesus se woorde. Wie kan Jesus volg maar ook alles doen wat sy eie liggaam begeer? In die nagmaal moet mens die ligaam van Jesus aanskou. Dit is gebreek, nie volgens sy eie wil nie, maar volgens sy Vader se wil. Die wat eet moet volg.

southerntraveller – Februarie 14, 2011 om 11:05

o genaaaaaaade! ek kan nie GLO in die jaar 2010 is kerkwees en kerkkleur en kerksaamslaap nog ’n ISSUE nie! weet mense NIE dat daar armoede en lyding in elke liewe land is nie en dat DIT uitgesorteer moet word nie???

Shatters – Februarie 16, 2011 om 12:09

jy is ’n JAAR agter ou maat ..

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui