‘Dis taai om kerk te los’

Kyk ook:

Die volgende artikel gee ’n goeie aanduiding wat die besware van die steedsHervormers was.

***********

‘Dis taai om kerk te los’ | Beeld

30 Oktober 2012

Dr. Johan Otto is een van die kernfigure in die huidige skeuring in die Hervormde Kerk. Neels Jackson het met hom gesels.

As student was Johan Otto ’n judo-Springbok.

Soms moes hy met sy raps meer as 80 kg opponente van 95 kg of meer aanpak.

Hy het geleer om nie bang te wees nie.

Dié ervaring kom nou nuttig te pas vir dié 51-jarige predikant van Premiermyn, een van verskeie gemeentes wat hulself onafhanklik verklaar het.

Otto is ook voorsitter van die steedsHervormers, die vereniging van ontevredenes.

“Dis ’n ander soort geveg dié,” sê Otto. Beslis nie een wat hom vreugde gee nie. Aan die een kant is hy kwaad. Aan die ander baie hartseer.

Hy het sy oomblikke van twyfel, maar dit het hom nie minder vasberade gemaak nie. Telkens besef hy weer hy is waar hy moet wees.

Maar wat, in sy woorde, is die hart van die stryd wat nou besig is om die Hervormde Kerk uitmekaar te skeur?

“Dis ’n verstaan van die evangelie waarmee ek my nie kan vereenselwig nie en wat ek nie terugvind in die Hervormde Kerk se tradisie nie,” antwoord hy, “… wat die Bybelse boodskap afwater”.

Hy noem die gedagte dat dit nie saak maak of Maria, die moeder van Jesus, verlei, verkrag of ’n los meisie was nie. Die beskouing dat manlike semen betrokke was by die verwekking van Jesus.

Dít teenoor die siening waarby hy staan dat Jesus se verwekking ’n Godswonder was, dat die genade van daardie begin af ’n Goddelike inisiatief was.

Maar waar kry hy sulke sienings in die kerk se standpunte?

Dis nie in die amptelike standpunte van die kerk nie, maar dit word in die kerk toegelaat, sê hy, en vertel van ’n bosberaad in 2010 van die Hervormde Kerk se Raad vir Kerk en Teologie.

Daar het minstens vier dominees gesê daar was nie ’n maagd betrokke by Jesus se geboorte nie, vertel Otto.

Toe hulle aan die begin van die algemene kerkvergadering in 2010 vra dat die vergadering kernpunte van die belydenis moet bevestig, is dit vir studie verwys, sê Otto.

Die maagdelike geboorte is maar een van die kwessies waaroor daar verskil is, sê Otto. Daar is ook die opstanding, die siening van die Bybel as die Woord van God…

Maar watter rol het die omstrede besluit 54 van die algemene kerkvergadering in 2010 dan gespeel?

“Dit was beslis die vonk wat alles laat ontplof het,” sê Otto.

Maar dit gaan oor meer as net besluit 54. Dié is net die oortjies van die seekoei, sê Otto.

Maar wat is die verband tussen dié oortjies (saam met die opvolgbesluit van die buitengewone algemene kerkvergadering) en die seekoei van teologiese besware wat deur die steedsHervormers geopper word?

Otto sê die verband lê by die fakulteit teologie. Dit is waarvandaan die beskrywingspunt gekom het wat besluit 54 geword het. Dis ook waar die teologie vandaan kom waarteen die steedsHervormers dit het.

Die besluite self, sê Otto, bevat baie meer as om die kerk te distansieer van die teologiese regverdiging van apartheid.

Dit verklaar apartheid tot sonde.

Oor die ongenuanseerdheid daarvan is hy baie ongelukkig.

In elke stad, sê Otto, is daar kosmopolitaanse mense, maar in elke stad is daar ook mense wat hulle eenkant wil hou, wat erg is oor hul kultuur en meen hulle behoort hulself op ’n manier en in ’n mate af te sonder. Hy verwys na die Duitse skole in Pretoria en Johannesburg as voorbeelde.

Om een denkpatroon te verketter is vir hom onaanvaarbaar.

Hy weet verwerplike goed het in die apartheidstyd gebeur en hy het groot medelye met die slagoffers daarvan, maar die mense wat dié wandade gepleeg het, moet voor God verantwoording gaan doen.

Mense wat in die 1970’s en ’80’s grootgeword het, het nie die intensies geken van mense in die ’40’s en ’50’s nie.

Apartheid het ’n kombers geword waarmee alles in die verlede toegemaak word. Om op grond van vandag se perspektief te sê dit was “teen die evangelie” hou nie rekening met die geskiedenis nie, sê Otto.

Dink hy dis moontlik om ’n besluit te formuleer waarmee die Hervormde Kerk hom distansieer van die teologiese regverdiging van apartheid waarmee die steedsHervormers tevrede sou wees?

Otto bepleit weer genuanseerdheid. Die kerk kan hom distansieer van die vergrype, maar nie van die intensies nie, sê hy.

“Die ergste,” merk hy op, “is dat dit iets is wat dood is.” Apartheid lê al hoeveel jaar in die verlede.

Waarom dus soveel protes oor iets wat in elk geval dood is?

Dit gaan oor die teologie agter die besluit, sê Otto. Dis volgens hom ’n teologie wat al in 1983 deur die Hervormde Kerk verwerp is, bevrydingsteologie, ’n verskraalde teologie wat fokus op menslike geregtigheid.

Dis teologie wat nie ruimte laat vir ’n ewige lewe nie. Dit wil fokus op die euwels van hier en nou, sê hy.

Maar al sê die Hervormde Kerk dis nie hul teologie nie, twyfel Otto geensins dat dit wel in die kerk teenwoordig is nie.

“As hulle sê dis nie hul perspektief nie, sou ek daaroor wou praat,” sê hy. Maar hy kla dat die gesprek nie op dreef kon kom nie.

Die bemiddelingskomitee wat die gesprek moes fasiliteer, was nie neutraal nie, verwyt hy.

Uit die kerk word die steedsHervormers egter daarvoor verwyt dat hulle heffings begin weerhou en doleer het voordat daar tyd vir gesprek was.

Otto vergelyk dit met die optrede van ’n kind wat desperaat sy ouers se aandag probeer trek. Hulle wou die saak onder die kerk se aandag bring.

En wat hom betref, was die staat van belydenis wat die steedsHervormers verklaar het nie ’n verkettering van die kerk nie, maar ’n wekroep.

Tog sê die staat van belydenis die buitengewone algemene kerkvergadering se besluit om besluit 54 te behou, “verloën die evangelie van Jesus Christus as die opgestane HERE”.

Otto antwoord dat hulle baie ernstig wou waarsku dat daar kettery in die kerk is en dat dit reggemaak moet word, maar hulle voel die kerk hoor hulle nie.

Maar wat is die logiese verband tussen besluit 54 en die beskuldiging van die staat van belydenis?

Otto verwys na bevrydingsteologie wat besorg is oor verdruktes en gemarginaliseerdes en wat niks met die leë graf van Jesus te doen het nie.

Hy sê agter die besluit lê ’n “evangelie van deernis” wat voor die leë graf stop.

En hy is seker dat hul vertolking van die besluite geldig is.

Het hy enigsins hoop dat die Hervormde Kerk die besluite wat geneem is, gaan omkeer?

Ja, hy dink die moontlikheid bestaan. Dalk nie op 2013 se algemene kerkvergadering nie, maar moontlik by die volgende een drie jaar later, of die een daarna. Daarom wil hulle nie nou ’n nuwe kerk stig nie.

Die onafhanklike gemeentes wat uit die Hervormde Kerk getree het, sal wel ’n verbond moet sluit sodat hulle saam aan sake soos teologiese opleiding aandag kan gee.

Maar hulle wil op die kerk wag. “Ons het regtig ’n sterk verbintenis met die kerk,” sê hy.

Om nou ’n nuwe kerk te stig sou wees om die band met die Hervormde Kerk deur te sny.

Hulle wil ’n deurtjie oophou.

So lui besluit 54 van die algemene kerkvergadering (AKV) van 2010:

Die 69ste AKV maak in die lig van die 68ste AKV se besluit dat dit verkeerd was om ’n bepaalde regeringsbeleid (apartheid) goed te praat, onomwonde die uitspraak dat apartheid nie teologies geregverdig kan word nie.

Die kerk verwerp sy goedkeuring van apartheid omdat dit:

  • in stryd is met die evangelie van Jesus Christus;
  • gebaseer is op die idee van onderlinge onversoenlikheid;
  • onreg sanksioneer;
  • die beeld van God in mense aantas.

Die vergadering beklemtoon die Bybels-teologiese aard van die uitspraak.

Die buitengewone algemene kerkvergadering (BAKV) van 2011 het die volgende besluit geneem:

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika verklaar dat die politieke beleid van apartheid wat toegepas is in die Republiek van Suid-Afrika nie teologies geregverdig kan word nie, en herroep hiermee alle goedkeurings in die verlede van die beleid in uitsprake deur die kerk en namens die kerk.

Dit was in stryd met die evangelie van Christus.

  • Die kerk sê dat besluit 54 vervang is deur die opvolgbesluit van die BAKV, maar die steedsHervormers hou vol dat besluit 54 steeds staan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui