Gay Hervormde leraars hoef nie meer selibaat te bly

Kyk ook:

Die volgende artikel het op 5 Oktober op Netwerk24 verskyn.

En toe was die Steedshervormers reg: Net soos die NG Kerk, het die Hervormde Kerk nou ook die groenlig gegee vir homoseksuele huwelike (kyk Geloofsbond van Hervormde Gemeentes oor NGK homo-besluit).

**********

Gay Hervormde leraars hoef nie meer selibaat te bly

’n Gay predikant in die Hervormde Kerk hoef nie meer selibaat te wees nie en kan ’n burgerlike verbintenis aangaan as die kerkraad of gemeente nie ’n beswaar daarteen het nie.

Die vereiste dat gay predikante in die Hervormde Kerk selibaat moet wees, wat deel van die kerk se vorige besluit oor homoseksualiteit was, is weggelaat uit die nuwe besluit wat Woensdagaand by die Hervormde kerk Wonderboom in Pretoria deur die kerk se algemene kerkvergadering geneem is.

Hoewel dit nie amptelik in die nuwe standpunt oor homoseksualiteit staan nie, is die implikasie van die Woensdagaand se besluit dat gay dominees nou burgerlike verbintenisse kan aangaan.

“Volgens die breër boodskap van die evangelie maak God se Gees dit vir mense moontlik om met hulle volle menswees in God se teenwoordigheid te lewe. Laasgenoemde sluit ook homoseksuele persone in,” lui die eerste punt van die besluit. Dit is herbevestig uit die besluit wat in 2007 geneem is.

[Hierdie is baie misleidend. Die Bybel is baie duidelik dat God heilig is en dat ’n mens in heiligheid na Hom moet gaan:

Psalm 15:1-2 : ’n Psalm van Dawid. Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat,

Galasiërs 5:24-25 : Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Kyk ook Die Bybel oor sonde.]

Die beskrywingspunt wat aanvaar is, stel dit duidelik dat sinodale vergaderings geen finale uitsprake oor homoseksualiteit moet maak nie.

Besluite aangaande gay mense moet binne “pastorale ruimtes” binne gemeentes self geneem word.

“Daarom behoort die gesprek oor seksualiteit nie op kerklike vergaderings plaas te vind nie, maar wel tydens pastorale gesprekke,” aldus die kerk se besluit.

Verder is besluit dat as daar ’n konflik van belange tussen die ampsdraer en die gemeente is, die gemeente se welstand en belange altyd swaarder as die ampsdraer s’n sal weeg.

Dit is duidelik gestel dat die kerk nie by die departement van binnelandse sake gaan aansoek doen om as denominasie te registreer om burgerlike verbintenisse tussen gay lidmate te kan bevestig nie.

Daar is egter niks wat ’n predikant keer om, nadat die wettige verbintenis reeds deur die staat voltrek is, ’n seremonie vir ’n paartjie uit te voer indien hy of sy wil nie.

Die kerk het dit egter duidelik gemaak volgens hom kan ’n huwelik slegs tussen ’n man en vrou bestaan, terwyl twee gay mense in ’n burgerlike verbintenis tree.

Ná ’n uur en ’n half lange gesprek is die besluit goedgekeur soos wat dit aanvanklik aan die vergadering voorgelê is.

Dit is met ’n oorweldigende meerderheid aanvaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui