Denke soos dié is wat nodig is

In die artikel hieronder noem Jan Lubbe dat die behoudende teoloog, Abraham Kuyper, as premier van Nederland, drie ministers uit Roomse geledere in sy kabinet ingesluit het. Daarmee wil hy sê dat behoudendes in die NG Kerk dieselfde ruimte moet maak vir verskillende geloofskwessies in die NG Kerk.

‘n Christen staatpresident gaan tog nie die Moslemgeloof uit die land verban nie en hy mag dalk selfs Moslems as ministers aanstel. Dit is egter heeltemal anders as om ruimte in die kerk te maak vir Jesus se opstanding, Sy Godheid, homoseksualiteit, ens.

******

Denke soos dié is wat nodig is | Netwerk24

Jan Lubbe

09 November 2021

’n Koalisie met die Katolieke? Ondenkbaar! Dít was die uitroep van afkeuring toe dit in 1901 in die Kaap bekend geword het dat die aangewese premier van Nederland, die gereformeerde teoloog en koerantredakteur dr. Abraham Kuyper, drie ministers uit Roomse geledere in sy kabinet ingesluit het. Was Rome en Genève dan nie prinsipieel onversoenbaar nie?

Vroeër, toe Kuyper – wat op 8 November 101 jaar gelede oorlede is – homself nog as predikant in die konserwatiewe kringe van die Hervormde Kerk in Utrecht bevind het, was hy ’n uitgesproke teenstander van Rome. Gaandeweg het hy begin onderskei tussen “conservatisme” en “de ware orthodoxie”. Vir eersgenoemde het dit om ’n behoud van die eerste bloeisels van die lewensplant Christus gegaan; vir laasgenoemde “om die plant, mét de vormingskracht die in haar wortelen schuilt (en) mét de profetie van ontelbare bloesems”.

Of, ’n ander beeld: ’n Konserwatiewe behoudsug wil die skulp, die uiterlike verskyningsvorm, vashou, terwyl dit vir die ortodoksie om die pêrel gaan: “de verborgen levenskiem, het levenscheppende Woord Gods”, aldus Kuyper.

Daarmee het hy nie slegs die letters of klanke waarin dit gespreek is, bedoel nie, maar soos wat die Woord mens geword het in Christus en van Hóm uit, as lewenskrag die ganse werklikheid deurdring. Altyd vernuwend, onderweg na die hemel en aarde waarna ons in Advent en eskatologie verlang. Geen duimbreed van gans die Skepping is uitgesluit van die boodskap én appèl van Christus, sy liefde, genade en geregtigheid nie. Óók nie die politiek van die dag nie.

Ontworsteling van tirannie

Op hierdie punt het Kuyper en die leier van die Rooms-Katolieke Party, dr. Herman Schaepman, mekaar in die aanloop tot die verkiesingsoorwinning van 1901 gevind: ’n Koalisie op konfessionele grondslag, waarmee Christene hulself in vryheid sou kon handhaaf en uitleef in ’n groeiend diverse samelewing. Trouens, dít sou ook die grondslag word vir die Christelik-demokratiese alliansie wat ’n halfeeu later in Nederland tot stand sou kom.

Wat was die beginsels van dié koalisie van 1901? Ironies, dit was juis die liberale grondwet van 1848 wat ruimte geskep het – óók vir minderhede – om hulself te kan ontworstel van die tirannie van liberalisme én konserwatisme, en tewens ook ’n verweer sou kon wees teen die totalitêre ideologieë wat die 20ste eeu uiteindelik so verslawend en vernietigend vir die gees gemaak het. Pluralisme in ’n vrye samelewing, wat voorsiening sou maak daarvoor dat individue en gemeenskappe tot ’n eie en selfstandige uitdrukking, assosiasie en organisasie kan kom, en dit in ewewig met die gelyke regte, vryhede en verantwoordelikhede van ander. Lees: Geen gewetensdwang in staat, skool of kerk nie.

Soewereiniteit in eie kring

En die geniale greep van Kuyper daarop: soewereiniteit in eie kring. Die staat se doel en funksies beperk tot die basiese reëling van reg en orde, die ontwikkeling van ruimtes waarbinne burgers veilig en vry mag leef en die voorsiening van die basiese dienste. Kortom: ’n beskeie, en bekwame staat. Met ’n aktiewe en waaksame burgery, veral waar owerhede – óók van skole en kerke! – so geneig is om in te meng in ander lewenskringe soos huwelik en gesin, sport en wetenskapsbeoefening.

In die woorde van die jongste Kuyper-biograaf, Johan Snel (2020): “Vanuit zijn radicaal-democratische beginselen omarmde Kuyper het pluralisme: joden, katholieken, socialisten, allen hadden gelijke rechten op maatschappelijke en geestelijke ontplooiing.”

Kuyper en sy koalisiegenoot Schaepman was hul tyd hierin vooruit.

Dít is die denke wat ’n mens graag sou wou sien noudat ons verkose gemeenskapsleiers hulle in koalisie­gesprekke moet begeef.

* Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Gerrit Kotze

Ek dink hier is onderskeid nodig met hierdie artikel: Kuyper wou polities saam werk om ‘n staatsverwante oogmerk te bereik. Die kerk durf egter nie sodanige kompromieë te maak as dit oor leer en lewe gaan nie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui