Daan Nortier oor Sola Scriptura

Kyk ook:

Daan Nortier oor Sola Scriptura

Daan Nortier

Volksblad, 19 Junie 2015

Die kerk se navorsing oor die jeug se kerkbelewing en geloofslewe het in ’n bepaalde opsig ’n betekenisvolle antwoord. Byna ’n kwart sal die kerk verlaat as die woord en sakramente onsuiwer verkondig word. Dis insiggewend teen die agtergrond van ’n aanslag op Bybelse waardes, wat vloei uit die grondwet en reg skep wat tot met die koms van die grondwet onbekend was. Daar is min gesprek hieroor.

Die Christen-wingerd gloei welig aan Afrika se suidpunt grootliks weens sy protestantse geloofwortels, wat veral die Franse Hugenote hier kom plant het ná hul vlug weens vervolging ter wille van hul geloof en hul standpunt oor sola scriptura, die Bybel as absolute bron en hoogste gesag oor geloof, moraal en leefstyl. In ’n neutedop impliseer dié maatstaf deurentyd die Bybel is direk vanaf God en wat die Bybel sê, sê God.

Suid-Afrika is pure kerkwêreld. Met die laaste amptelike sensus (o.a. oor die kerk) het sowat 44 miljoen (80%) van die land se mense hulself as Christene tipeer. Bietjie meer as sesmiljoen glo nie. Dié kerke onderskryf almal die Bybel, hoewel met dogmatiese verskil. Twee kenmerke bly egter dieselfde, Jesus is hoof van die kerk en sola scriptura meet die Bybel.

Die Grondwet het die era van die postmodernisme in ons land met klem op die vryhede gevestig. Dit het die Bybel onder skoot gebring. Die Bybel is ’n boek met perke; die postmodernisme het nie brieke nie. ’n Botsing was onafwendbaar.

Die aktivisme gemik op Bybelse waardes is ou nuus. Die vernaamste bousteen van ’n stabiele Christengemeenskap, die huwelik en vitale gesinslewe, was eerste in gedrang. ’n Nuwe soort huwelik en gesin is geëis. Die huwelikswet is herskryf. In die proses is kommentare en aanbevelings aan die parlementêre komitee voorgelê, wat die wet moes skep. Kommentaar deur twee gereformeerde teolöe, wat die nuwe wet ondersteun het, wek eerder vrae as antwoorde.

Hul voorlegging lui o.m.: “Dit is daarom tog jammer dat sommige Christelike groepe, partye en kerke vir hulleself die morele hoëgrond opeis deur hulleself daarop te beroem om “die Bybelse standpunt” voor te staan (en dit hoër te ag as ’n sekulêre Grondwet).”

Wat word impliseer? Wat is die “Bybelse standpunt” wat bedoel word? Dis nie toegelig nie. Is dit denkbaar dat die Bybel by implikasie voor die grondwet moet kniel? Dis noodsaaklik dat die kerk duidelik hieroor sal praat en lei. Geld sola scriptura steeds, of is daar ’n nuwe maatstaf waaraan die Bybel en geloof gemeet moet word? Indien wel, wat is dit? Gelowiges behoort te weet. Die kerk moet sê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui