Aansluiting by Daan Nortier en Arno van Niekerk

Kyk ook:

Jan Louw van Reitz skryf:

29 Junie 2015

Ek wil aansluit by die skrywes van Daan Nortier (19/06) en Arno van Niekerk (24/06). Hulle wil weet waar staan die kerk met die Bybel in ’n postmoderne wêreld.

As ’n leraar van die NG Kerk is ek ook besorg daaroor dat die akademici en leierskap van die kerk ons humanistiese tydsgees omarm het:

  • Kerkleiers skryf boeke en sien die toekoms van die kerk in terminologie soos “in pas” kom met ’n postmoderne wêreld. Waarheid is glo “kollektief” en nie meer “absoluut” nie. “Vastigheid” moet plek maak vir “onsekerheid”, ens.
  • By die Algemene Sinodes dien daar studiestukke waar die volgende voorkom: ’n Nuwe verstaan van die Bybel oor homoseksualiteit. Geloof in die bestaan van die duiwel is opsioneel. Die evolusionêre wêreldbeeld is ’n gegewe en die Bybel moet daarvolgens aangepas word. Die “skeppingsverhaal” word voorgehou as ’n versinsel van die priesters in die ballingskapstyd om geloofwaardigheid te gee aan hulle godsdiens. Selfs die Apostoliese Geloofsgelydenis is onder skoot met onbeantwoorde vrae soos of “dit as samebindende simbole, as normatiewe spreekreëls behóórt te funksioneer”.
  • By teologiese fakulteite is daar teoloë wat openlik die opstanding van Jesus bevraagteken. Op ’n baie wye front word ’n voorstelling van God gepropageer waarin Hy nie ’n Persoon is nie (panenteïsme).

Jesus het gesê: Wie hom vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele” (Mark 8:38). As die Algemene Sinode van die NG Kerk vanjaar vergader sal baie van die sake wat ek hier te berde bring weer bespreek word. Dit is ’n geleentheid vir die kerk om Van Niekerk en Nortier se dringende vraag te beantwoord: “Waar staan ons oor die Woord?”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui