Christendom groei vinnig

Christendom groei vinnig | Beeld

2011-12-21

Leopold Scholtz

Die Christendom is verreweg die wêreld se grootste geloof, groter as die Islam. Terselfdertyd word die swaartepunt van die Christendom van die Weste na Asië en Afrika verskuif.

Dít is die belangrikste gevolgtrekkings van ’n omvattende verslag van die Amerikaanse navorsingsinstituut Pew.

Luidens die verslag is daar tans 2,18 miljard Christene ter wêreld, oftewel meer as ’n derde van die wêreldbevolking. Daar is sowat 1,6 miljard Moslems, of 23,4% van die wêreldbevolking.
Die Christendom groei ook vinniger as die Islam.

Dalk die belangrikste element van die verslag is egter die ontwikkeling van Christene se geografiese verspreiding. In 1910 het Europa en die Amerikas byna 93% van die Christene bevat; ’n eeu later was dit slegs 62,7%.

Daarteenoor het die persentasie Christene wat in Asië en Afrika woon, in dieselfde tyd van 5,6 tot 36,7 toegeneem. Die Midde-Ooste en Noord-Afrika – bolwerke van die Islam – bevat die minste Christene, te wete 0,7% in 1910 en 0,6% ’n eeu later.

Die studie wys dat die Christendom in Afrika suid van die Sahara geweldig gegroei het. In 1910 het iets meer as 8,5 miljoen Christene (9,1% van dié streek se bevolking) daar gewoon; teen 2010 het dié getal tot meer as
516 miljoen (62,7%) gestyg.

Die ooreenstemmende syfers vir Asië is 27,5 miljoen (2,7%) en 285 miljoen (7%).

Meer as die helfte van die wêreld se Christene is Rooms-Katoliek en 36,7% Protestants. 11,9% behoort aan een van die Ortodokse Kerke.

Wat Suid-Afrika betref, sê die verslag daar woon 40,6 miljoen Christene in die land.

  • 2,18 miljard Christene ter wêreld.
  • 1,6 miljard Moslems ter wêreld.
  • 40,6 miljoen Christene in Suid-Afrika.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui