By: Niks meer, niks minder

Die volgende artikel is van Beeld gekopieer en gee dr Johann Ernst se opinie oor die Opstandingsdebat.

******

By: Niks meer, niks minder | Beeld

Deur Johann Ernst

2009-07-24 18:27

Die teologiese gesprek oor die opstanding van Jesus het op gevaarlike rotse beland, skryf Johann Ernst.

Terwyl Julian Müller met sy boek Opstanding (2006) verkies het om eerder stomstreke te speel, wens ’n mens nou Adrio König het in sy boek Die Evangelie is op die spel (2009) liewer ’n wag voor sy mond geplaas.

Müller het kritiese opmerkings gemaak wat ’n groot deel van die kerklike publiek nie graag wou hoor nie. Wat hulle wíl hoor, wil Müller nie sê nie – dat Jesus liggaamlik, fisiek en histories opgestaan het. Müller se weiering word as ’n swye vertolk oor die werklikheid van die opstanding en die leë graf. ’n Storm het die NG Kerk en die Universiteit van Pretoria se teologiese fakulteit daaroor getref.

Wanneer daar in ’n storm uitgevaar word, is die gevaar op sy grootste om self nie die diep water te bereik nie. Dit het nie net in König se nuutste boek gebeur nie. Teruggedryf deur dit wat die kerkvolk nou wil hoor, het die moderators van die NG Kerk met hul verklaring oor die opstanding ook in die vlak water tussen die rotse gaan lê.

In ’n tyd waarin die sekerheid van ons geloof veel dieper lê, is die vlak, vreemde en valse vastighede wat maklik gegee word, gevaarliker as wat ons dink.

König doen sy bes om met ’n stortvloed woorde vir Müller uit te wys as teologies liberaal. König maak nie net golwe nie; hy stuur brander op brander. In sy hart moet Müller oortuig wees König het teologies fundamentalisties geword. In die teologiese oseaan is dié twee professore vastelande van mekaar verwyder.

Hulle kan mekaar nie hoor nie. König staan voor die skare. Müller sit by die randfigure. König rinkink met die nuwerwetse charismatiese verbruikersteologie. Müller dans met die ouderwetse filosofiese teologie.

König wil hê die “stomme” Müller moet hom verbaal en verbatim uitspreek ten gunste daarvan dat Jesus liggaamlik, fisiek en histories uit die dood opgestaan het. Müller reageer darem daarop en sê die breedsprakige König kom met “slimstreke” en voeg woordjies by ten einde ander te veroordeel of vry te spreek.

Die “stom” Müller sê vir die kerkvolk te min oor die opstanding van Jesus en skep baie onbeantwoorde vrae; die “spraaksame” König sê vir die kerkvolk te veel en skep ’n paar verkeerde antwoorde.

Nou het die moderators ook die water kom vertroebel deur met stelligheid te verklaar dat Jesus “liggaamlik uit die dood opgestaan het” en dat sy “fisieke liggaam opgeneem is in die opstandingsliggaam”!

Het Jesus “liggaamlik” uit die dood opgestaan?

Slegs die Bybel kan gebruik word om in die teologie en kerklike lewe die strome te toets en die seile te span. In die Bybel skryf Paulus met gesag dat die opgestane Jesus persoonlik aan hom verskyn het. Nêrens bied hy hierdie verskyning aan as ’n visioen nie.

Jesus het ook nie net in Paulus se gedagte of hart opgestaan nie. Sy liggaam is ook nie ná sy dood gesteel of êrens herbegrawe nie. Wie dit beweer, doen dit op eie gesag. Maar Jesus het ook nie “liggaamlik” (na sy aardse, menslike natuur) uit die dood opgestaan nie. In I Korintiërs 15 skryf Paulus nie ongekwalifiseerd oor Jesus se “liggaamlike” opstanding nie.

Hy maak spesifiek van Jesus se opstandingsliggaam as ’n “geestelike liggaam” (soma pneumatikon) melding en onderskei hierdie liggaam duidelik van Jesus se “natuurlike liggaam” (soma psuchikon). “Vlees en bloed” (natuurlike liggaam) kan nie die koninkryk van God beërwe nie! Hy wys ook daarop dat ’n gedierte en ’n planeet ook ’n liggaam het.

Terwyl fundamentaliste die liberale beskuldig dat hulle in ’n ruim “geestelike” opstanding glo, vereng die fundamentaliste hul siening tot ’n “liggaamlike” opstanding. Hulle verstaan daaronder dat minstens iets van die “natuurlike liggaam” van Jesus wat in die graf weggelê is, nou opgestaan het.

Vir die dualistiese Grieke is “geestelik” en “natuurlik” teenoorgesteldes, maar vir die Hebreër Paulus is dit twee verskillende maniere van lewe. Die “natuurlike liggaam” leef van asem of gees wat deur die keel kom (nèfesj/psuchon) en word by die dood uitgeblaas. Daarna vergaan die liggaam.

Die “geestelike liggaam” leef van die Gees, kom wel misterieus uit die liggaam van die gestorwene op, soos ’n halm uit die gestorwe graankorrel, maar as ’n nuwe liggaam. Die Gees verlaat hierdie liggaam nie en dié liggaam vergaan ook nie.

Die gesaaide “liggaam” wat in die grond weggelê is om te sterwe om die nuwe lewe voort te bring, is nie die halm se toekomstige “liggaam” nie. Die toekomstige “liggaam” is wel die gesaaide as sodanig (daar is identiteit), maar dit is volkome anders (daar is diskontinuïteit). Dit is Jesus wat sterf én opstaan. Hy – nie sy liggaam nie – het opgestaan tot ’n nuwe lewe. Diegene aan wie Hy verskyn, sien Hom!

Die fokus van die kerk se belydenis oor die opgestane Jesus is nie op die vorm (liggaamlik) of die aard (Geestelik) van sy nuwe lewe gerig nie, maar op die opgestane, lewende Here self.

Het Jesus “fisiek” uit die dood opgestaan?

Paulus voer aan Jesus het juis nie fisiek uit die dood opgestaan nie. Hy bring die woord fisiek (psuchon) spesifiek in verband met wat Jesus ná sy opstanding nié meer is nie.

Fisiek beteken “wat op die natuur of die natuurlike betrekking het”. Paulus skryf in 1 Korintiërs 15 dat Jesus ná sy opstanding nie meer ’n “natuurlike” liggaam het nie.

Fisiek het betrekking op die lewe duskant die graf, waar met die tydelike asem van die verganklike lewe geleef word. Geestelik het betrekking op die onverganklike lewe by God wat met die Ewige Asem van God geleef word. Laasgenoemde is nóg natuurlik nóg fisiek, maar in alle opsigte werklik.

Het Jesus fisiek opgestaan? Nee! Het Jesus regtig opgestaan? Ja! Met sy opstanding het Jesus juis kom wys dat die opstandingswerklikheid buite die grense van ons eie natuurlike, fisieke bestaan uitgaan. Die werklikheid waarin Jesus Hom nou bevind, is vir ons ’n geloofswerklikheid. Hy kan Hom vanuit hierdie werklikheid sigbaar en tasbaar aan ons openbaar.

Maar dit is nie hoe Hy nou is en leef nie. Want Hy is God en laat Hom nie in die fisieke vorm van ons bestaan vasvat nie.

In 2 Korintiërs 5 vers 16 geniet Paulus die deining van die diep blou see as hy skryf: “Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.”

Vir die ongelowige Tomas sê Jesus: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

Het Jesus “histories” uit die dood opgestaan?

“Histories” beteken ’n gebeurtenis het betrekking op die mens en sy geskiedenis. Net gebeure in die geskape werklikheid kan gedateer word. Die ewigheid ken geen tyd nie. Daarom is die gebruik van die term “histories” vir die opstandingsgebeure ’n contradictio in terminis.

Vanuit ons geslote werklikheid het die deur na die ewigheid oopgegaan en het Jesus as verrese Heer die oneindige ewigheid ingestap. Tegelyk het Hy op ons geskiedenis uitgestap.

Geen mens kon die opstandingsgebeure sien plaasvind nie en daarom is daar geen historiese optekening daarvan nie. Slegs die leë graf is die histories aanwysbare getuienis dat iets ewigs met Jesus gebeur het.

Die getuienis van dié aan wie Jesus verskyn het, kan as histories betroubaar geag word. Maar sigself was die opstanding geen historiese gebeurtenis nie. Slegs dit wat tussen konsepsie en dood met Jesus in ons wêreld gebeur het, kan op die historiese tydlyn aangeteken word.

Deur juis nie die term histories met Jesus se opstanding in verband te bring nie, erken ons daar is ’n bestaan wat groter en heerliker is as die werklikheid wat ons ken.

In die filosofiese teologie kan lank geredekawel word oor wat met Jesus gebeur het sonder om iets geloofwaardig te sê – solank dit net die teologie lewend hou!

In die verbruikersteologie is dit belangrik om seker te maak dat Jesus “suksesvol” (liggaamlik, fisiek én histories) opgestaan het, sodat Hy in ons gemeentelike suksesverhale geëksploiteer kan word.

Daar is goeie Bybelse gronde vir die kerk se eeue oue standpunt “dat Jesus op die derde dag uit die dood opgestaan het volgens die Skrifte” – ja, niks meer en niks minder nie!

  • Dr. Johann Ernst is aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui