Mitochondriese Eva

Kyk ook:

Aanduidings van een gemeenskaplike moeder, nie so lank terug nie…

Volgens mitochondriese DNS (mtDNS) is dit nie teenstrydig dat alle mense dieselfde moeder gehad het nie (alhoewel dit nie dit bewys nie). Dit is iets wat evolusioniste glad nie verwag het nie. Maar wat is mtDNS?

MtDNS sit buite die selkern en bevat inligting wat ons slegs van ons biologiese ma’s erf. Dit is amper soos ’n van wat jy van jou pa erf, dit is net van jou ma af hierdie keer. Om te verduidelik, die volgende voorbeeld: As mense met vier verskillende vanne op ’n eiland is, kan al die vanne uitsterf behalwe een as daar slegs dogters gebore word in sekere gesinne. As dit gebeur en iemand kom op die eiland en vind die mense daar het slegs een van, dan kan dit een van twee dinge beteken:

  1. Daar was nog altyd slegs een van.
  2. Daar was meer vanne, maar in sekere gesinne is net dogters gebore en toe sterf die vanne uit.

Dus is inligting van mtDNS nie noodwendig ’n bewys dat alle mense van dieselde moeder afkomstig is nie, maar dit is nie-strydig met die Bybel. As dit egter anders om was (mense met verskillende mtDNS), sou dit ’n reuse probleem vir skeppingsleerders wees, want dan sou dit beteken het dat alle mense nie uit een moeder, Eva, gebore is nie.

Wanneer het mitochondriese Eva geleef?

Mens kan bepaal wanneer mitochondriese Eva ongeveer geleef het deur te bepaal hoe vinnig mutasies in mtDNS plaasvind. As mutasietempo’s aanvaar word wat vandag gemeet word, het mt Eva ongeveer 6000 jaar gelede geleef!!!!!

Evolusioniste sal egter sê dat die mutasietempo nie noodwendig dieselfde was oor al die jare nie. My antwoord daarop sou wees dat die vervaltempo’s van die radiometriese metodes wat die heelal miljarde jare meet ook nie noodwendig dieselfde was oor al daardie jare nie. Wie is dan reg? Dit is die probleem met historiese wetenskap (in vergelyking met operasionele wetenskap). Wetenskap is baie beperk om vir ons te sê wat in die verlede gebeur het. Die Bybel is egter betroubare geskiedenis, en ’n ooggetuie is oor die algemeen meer betroubaar om jou te vertel van dinge wat in die verlede plaasgevind het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui