Behoort kerk nie die vredemaker te wees?

*******

BRIEF | Behoort kerk nie die vredemaker te wees? | Netwerk24

Sondag, 9 Oktober 2022

Amie van Wyk, Pretoria, skryf:

Die laaste tyd was die dagblaaie gevul met berigte oor die Russiese inval in Oekraïne. Daar is ook veel geskryf oor die heengaan van koningin Elizabeth II van Brittanje en haar besondere lewe. Deurlopend is ook besin oor die gebeure tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO, 1899-1902). Die vraag kom vanself na vore of daar enige verband tussen die drie gebeurtenisse is. Het die kerk hier enige rol gespeel en behoort die kerk ’n rol te speel?

Wat die Russies-Oekraïense oorlog betref, is dit opvallend dat die Russies-Ortodokse Kerk hierdie oorlog ondersteun en so ook pres. Wladimir Poetin, ’n lid van die Ortodokse Kerk in Moskou. Van die kant van die Rooms-Katolieke Kerk het pous Franciskus minstens by drie geleenthede hom teen hierdie oorlog uitgespreek en vir vrede gepleit. Na my beste wete het die Wêreldraad van Kerke nog geen uitspraak in hierdie verband gemaak nie.

Kyk ons na die ABO is dit opvallend dat die Anglikaanse Kerk in sowel Suid-Afrika as Engeland nooit enige verskoning gemaak het oor die misdade van hierdie oorlog nie. Tydens die ABO het sowat 34 000 Afrikaners hul lewe verloor, onder wie 28 000 vrouens en kinders in konsentrasiekampe en ook nog 20 000 swart Afrikane. 30 000 huise is verwoes, talle kerkgeboue beskadig, plaashuise is afgebrand en boerderye vernietig. (Toe my oupa Kruger ná die oorlog ná twee jaar in ’n Indiese interneringskamp terugkeer, vind hy presies dít wat hierbo beskryf is.)

In hierdie verband het die teoloog John de Gruchy die volgende opgemerk: “It was the policy of the British government at that time to destroy the Afrikaner culture. Tragically, the role of the English-speaking churches in all this was entirely jingoistic – not only was there no criticism of the imperial war effort, there was total support of it.”

Ja, daar was tydens die oorlog die enkele kritiese vrouestem van Emily Hobhouse, maar dit was ’n stem roepende in die woestyn. In ons tyd het aartsbiskop Desmond Tutu in 1996 die Vrouemonument tydens ’n sitting van die Waarheids-en-versoeningskommissie besoek en sy kop laat sak.

In die geval van koningin Elizabeth II ontvang die saak nog ’n dieper aspek aangesien die koningin van Brittanje ook die formele hoof van die Anglikaanse Kerk is. Helaas het die koningin nooit namens die Anglikaanse Kerk verskoning gevra of apologie aangeteken vir die wandade tydens die ABO nie.

Behoort die kerk nie die groot vredemaker op aarde te wees nie, deur vrede as voorbeeld uit te leef en deur ’n profetiese stem te laat hoor wanneer daar ’n oorlog dreig of uitbreek? Moet alle kerkgemeenskappe oor die wêreld nie nou waarsku teen die oorlog in Oekraïne en die moontlike gebruik van (taktiese) kernwapens nie? Is dit die einde van die wêreld soos ons hom ken? Of dalk die begin van die Voleinding?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui