Uitdaging aanvaar: Hier is formulier

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Uitdaging aanvaar: Hier is formulier | Netwerk24

Sondag, 9 Oktober 2022

Hennie Pienaar, George, skryf:

‘Mý kerk beledig’

Die briewekolom is die laaste plek vir persoonlike aanvalle op mense. Ek dink egter as prop. Hennie Pienaar die NG Kerk beskuldig van ruggraatloosheid, skynheiligheid en oneerlikheid (Rapport, 29 September), is hy regtig nou besig om my kerk te beledig.

Ek het gay familie en vriende vir wie ek die grootste respek het. Hulle is nie jukskeibrekers wat dreig met hofsake nie.

Ek en baie NG lidmate daag Pienaar uit: Stel vir ons ’n Bybels-gefundeerde huweliksformulier vir gay huwelike op en laat dit in Rapport publiseer.

NG Lidmaat, Hartenbos (1 Oktober 2022)

Beste Hartenbos-lidmaat

My kritiek is teen die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) van die NG Kerk en nie die NG Kerk soos u vermeld nie.

U beskuldiging dat ek die kerk beledig, is daarom nie korrek nie.

Soos uself het ek heelwat gay familie en vriende van wie baie ook in die NG Kerk is. Juis daarom my kritiek teen die ASM, wat voete sleep met die gay-saak in die kerk. Die NG Kerk het reeds ’n hofsaak verloor weens die feit dat hulle hul eie prosedure oortree het en ook onkonstitusioneel opgetree het teen hulle gay lidmate. Soos die kerk u en my kerk is, is dit ook die kerk van lidmate wat gay is, asook hulle wat deel uitmaak van die LGBTIQ+-groep.

U hoef my nie eens uit te daag om ’n formulier te publiseer nie, ek doen dit graag. Hier is ’n moontlikheid, hoewel ek dink dat ’n formulier nie staties moet wees nie, maar dinamies en saam met elke paartjie opgestel behoort te word:

Johan en Stefan (of Marinda en Emma)

God is liefde en daarom is wat vandag hier gebeur mooi en Godgegewe.

Julle wil graag julle liefde vir mekaar as ’n hegte eenheid verklaar en dit is julle wens om dit vandag hier voor familie en vriende en in God se alomteenwoordigheid te doen.

Soos elkeen van julle op julle eie unieke manier deur die liefde van God aangeraak is, wil julle met mekaar in liefde omgaan en mekaar respekteer, net soos Christus in liefde omgegaan het met mense.

Dit is verder julle wens om te verklaar dat julle in die alomteenwoordigheid van God en in die Gees van Liefde saam te wil leef, saam te wil sing, saam te wil speel, saam te wil werk, saam te wil huil, saam te wil troos, en saam bly te wil wees . . . en wat die lewe ook na julle kant toe stuur, dit saam te wil doen met die wete: God is en bly liefde.

Aangesien daar dan geen wettige beswaar teen julle wettige verbintenis is nie, antwoord asseblief die volgende vraag: Is dit julle wens om vir solank as wat dit menslik moontlik is hierdie verbintenis te eer?

Johan (Marinda), wat is jou antwoord?

Stefan (Emma), wat is jou antwoord?

Gee aan mekaar die regterhand.

Hiermee verklaar ek julle dan wettig getroud. Gee aan mekaar die ringe as teken van julle liefde en eenheid.

Mag die son vir julle nuwe energie bring elke dag.

Mag die maan julle sagkens vernuwe deur die nag.

Mag die reën al julle bekommernisse wegwas.

Mag die briesie nuwe krag in julle wese in waai.

En mag julle al die dae van julle lewe sagkens deur die lewe loop en weet God is en bly liefde.

Amen

Kommentaar

Daniel Louw

Was dit nou so moeilik gewees? Hierdie formulier behoort heeltemal goed te werk om homoseksuele huwelike in die NG Kerk te bevestig.

‘n Mens wonder hoekom die ASM daarteen besluit het om ’n formulier te ontwikkel. Was hulle dalk bang vir die moontlike kritiek teen so ’n formulier? Dit sal vreemd wees, want NG kerkleiers het al baie erger dinge kwytgeraak, soos byvoorbeeld: “Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie.” (Nelis Janse van Rensburg)

Wat sê mens van hierdie formulier?

As behoudende kan ’n mens jouself natuurlik hoegenaamd nie hiermee vereenselwig nie, maar dit help amper nie eers om hierdie formulier teen die Bybel te meet nie, omdat daar so ’n vasgelooptheid bestaan tussen behoudendes en liberales oor hoe die Bybel gebruik moet word.

Vir die huidige huweliksformuliere, kyk:

*******

Mooi formulier, maar is dit Bybels? | Netwerk24

Rapport, Sondag, 16 Oktober 2022

Hennie Pienaar, in die formulier wat hy opgestel het vir gay-“troues” (09.10) kon maar by die inleiding gestop het: “ . . . wat vandag hier gebeur is mooi en Godgegewe dinge”.

Verdere woorde het die Godgegewenheid misken. Daar was nie een Bybelversie nie; geen seëngebed; geen Christusverkondiging nie. (Die enkele woord “Christus” kon netsowel gebruik word deur ’n imam in ’n moskee wat bloot aan die bestaan van ’n aardse Jesus-profeet glo.) ’n Mens voel nie of God persoonlik teenwoordig is by die lees van die formulier nie. Twee maal gebruik hy die woord “Alomteenwoordig” as attribuut van God, maar dan as God wat “al om die rondte” is, maar nie teenwoordig is in die formulier nie. God mag nie toekyk nie. Die hemelse Bruidegom mag dalk wonder waar die bruid is! – Ds. Pieter de Jager, Reddersburg

*****

Ek moet Hennie Pienaar ter ere gee dat sy formulier vir selfdegeslag-huwelike baie mooi is. Daar is net een probleem: Dit is nie Bybels gefundeerd nie. “God is liefde” kom uit die Bybel uit, maar het absoluut niks met ’n huwelik te doen nie. Genesis 2:20-23 is ’n voorbeeld van ’n Skrifgedeelte wat wél op die huwelik betrekking het en dus met reg in bestaande formuliere gebruik word. Dit sal gewaardeer word as Pienaar sy Bybelverwysings kan noem. Dan kan almal daarna gaan kyk en self oordeel. – Hannes Swart

*****

Baie dankie vir prop. Pienaar se reaksie. Nou weet ons hoe hy en sy geesgenote dink. Ek moet wel ’n paar opmerkings maak. Hy noem die formulier moet LGBTQIA+-mense insluit en saam met ’n paartjie opgestel word. Dis darem te veel verwag – die NG Kerk is nie ’n supermark waar elkeen koop wat hy wil en soos hy wil nie. Die belofte om die verbinding te eers “solank as wat dit menslik moontlik is”, pla ook. Vir my as Christen is ons huwelik daar totdat die dood ons skei. – NG Lidmaat, Hartenbos

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui