Bartlett onskuldig bevind op meeste klagte in gay-saak

Vir meer agtergrond, kyk Bartlett ‘sal geen ooreenkoms oor vertroulikheid teken’ (30 Jan 2021).

*********

Bartlett onskuldig bevind op meeste klagte in gay-saak | Netwerk24

Deur Charles Smith

25 Junie 2021

Dr. André Bartlett, voorsitter van die NG Kerk se Hoëveld-sinode, sê hy is onskuldig bevind op die meeste klagte teen hom in die vertroulike dissiplinêre verhoor rakende sy uitsprake ten gunste van gay mense.

Bartlett, skrywer van die boek Weerlose weerstand: Die gaydebat in die NG Kerk, sê hy is onskuldig bevind op vier van die vyf klagte teen hom wat deur dr. Johann (Tokkie) Ernst, voormalige aktuaris van die NG Kerk se algemene sinode (AS), ingedien is. Dit hou verband met die negende gebod en die lewer van valse getuienis.

Bartlett het by navraag gesê hy moet die volledige uitspraak van 94 bladsye nog bestudeer, maar hy voel tevrede met die verloop. “Ek is verlig dat die saak nou agter my lê.”

Toe hy gevra is of hy ’n lastereis gaan instel, het hy nee gesê. “Die saak was ontwrigtend genoeg. Ek wil nou aangaan met my lewe en my werk.”

Dr. Bertus Cilliers van die Vrystaat was voorsitter van die ondersoekliggaam.

Ernst het by navraag gesê Bartlett is skuldig bevind op al die aanklagte wat verband hou met die berig wat op 23 September 2018 in Rapport verskyn het.

Die ander klagte hou verband met verklarings wat Bartlett in 2018 onderteken het in reaksie op die diskoers wat ontstaan het rondom dr. Chris van Wyk, ’n voormalige voorsitter van die Oos-Kaapse sinode en voormalige lid van die AS se moderamen, se uitlatings oor homoseksualiteit en pedofilie.

Ernst sê dit waarop Bartlett skuldig bevind is, sluit in subklagte dat hy tot “oneer, belastering en veroordeling” van Van Wyk gesê het dat hy (Van Wyk) op sosiale media met guerrilla-oorlogvoering besig is, dat hy (Van Wyk) niks amptelik doen nie, maar verdeeldheid saai op sy Facebook-blad, dat hy dr. Nelis Janse van Rensburg, moderator, en die res van die kerk se leierskap, waarvan Van Wyk deel is, ondermyn en dat Van Wyk se standpunt oor waarin hy ’n verband tussen homoseksualiteit en pedofillie probeer trek, kom neer op haatspraak.

Sy bevoegdheid as predikant en sy posisie as predikant in die gemeente en by die kuratorium van die Universiteit van Pretoria kom nie hiermee in die gedrang nie. ~ Ds. Rudi Swanepoel

Die klagte sluit in dat Bartlett ook gesê het dat Van Wyk met handskoene hanteer word en die kerk versuim om hom daarvan te distansieer en “dat iemand Van Wyk behoort aan te gee daaroor en dat dit lyk of niemand die moed het om teen hom op te staan nie”.

Ernst sê die kommissie het Bartlett op die res van die aanklagte onskuldig bevind, waaronder die ondertekening van twee verklarings en twee uittreksels uit sy boek. Daar is beweer dat daar ’n vergelyk getrek is oor pedofilie en of dit teen Van Wyk gerig is.

“Ek sou ook die stukke wou bestudeer. Ek het geen behae om dit verder te voer nie. Ek het my kerklike plig gedoen om dit op kerklike wyse te laat hanteer. Wat my betref is die saak afgehandel.”

Ernst sê Bartlett is ter vergadering bestraf en hy moet voor die einde van die jaar met Van Wyk versoen en hy moet terugvoer gee daaroor. Hy is nie onder sensuur geplaas nie en sy ampsbevoegdheid is nie opgeskort nie.

Ernst het aanvanklik geëis dat, sou Bartlett skuldig bevind word, hy van sy status as leraar onthef word.

Ds. Rudi Swanepoel, voorsitter van die ring van Johannesburg, het by navraag bevestig dat die dissiplinêre proses Vrydag afgehandel is, maar dat die besluit geneem is om die uitspraak slegs aan die Kerkbode beskikbaar te stel.

Luidens Swanepoel se verklaring, wat Vrydagaand op die Kerkbode se webtuiste geplaas is, is Bartlett op grond van die negende gebod, soos uiteengesit in die Heidelbergse Kategismus, in vyf klagte aangekla oor uitsprake wat op verskillende platforms verskyn het.

“Dr. Bartlett is op een van die klagte skuldig bevind. Hy is ter vergadering hieroor tereggewys. Daar word ook regstellende optrede van hom vereis. Sy bevoegdheid as predikant en sy posisie as predikant in die gemeente en by die kuratorium van die Universiteit van Pretoria kom nie hiermee in gedrang nie.”

Die volledige uitspraak van sowat 94 bladsye sal aan die Hoëveld-sinode uitgereik word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui