Bartlett ‘sal geen ooreenkoms oor vertroulikheid teken’

Bartlett ‘sal geen ooreenkoms oor vertroulikheid teken’ | Netwerk24

Deur Jana Marx

30 Januarie 2021

Buiten die vertroulikheid wat die kerkorde van die NG Kerk (NGK) reeds van hom verwag, sal hy geen ooreenkoms teken wat sy mond verder snoer nie, dr. André Bartlett Vrydag bevestig.

Netwerk24 het verneem dat daar in sy tugverhoor, benewens die kerklike reglement oor tug en vermaning wat reeds vertroulikheid bepaal, gepoog is om belanghebbendes ’n vertroulikheidsooreenkoms te laat teken.

“Ek gaan nie ontken of bevestig dat ek of enigiemand anders gevra is om ’n niebekendmakingsooreenkoms te onderteken nie, maar ek kan wel bevestig dat ek geen só ’n dokument onderteken het en ook nie van plan is om dit te doen nie,” het Bartlett by navraag gesê.

“Ek dink daar is ’n verkeerde indruk by sommige mense oor die vertroulike of geheime aard van die ondersoek. Die kerklike reglement vir die hantering van tugsake bepaal slegs dat die vergadering wat so ’n ondersoek hanteer, ’n geslote vergadering is. Daar is geen bepaling dat die identiteit van die partye of die saak waaroor dit gaan, vertroulik gehou moet word nie.”

Volgens Bartlett gaan die sake in elk geval oor dié dinge wat hy in die openbaar gesê en waaroor geskryf het.

Dr. Johann (Tokkie) Ernst, voormalige aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode (AS) en emerituspredikant, kla Bartlett aan van die verbreking van die negende gebod, naamlik: “Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.”

“Dit sou dus vir my geen probleem wees as die aard en die inhoud van die klag bekend gemaak sou word nie,” aldus Bartlett.

Dr. Bertus Celliers, hoof van die ondersoekliggaam, het by navraag oor die vertroulikheidsverslag gesê: “Ek sal niks van die vergadering met jou kan bespreek nie.”

Die verhoor word op 3 Februarie hervat.

Wat is dus vertroulik?

Adv. Dewyk Ungerer, AS-aktuarius, het bevestig dat die kerk se reglement oor tug en vermaning bepaal dat tugverhore ’n geslote en interne kerklike proses is.

“Die ondersoekliggaam het my raad oor die moontlikheid van so ’n vertroulikheidsooreenkoms gevra en ek het vir hulle gesê daar is reeds ’n gebonde vertroulikheid (soos bepaal deur die kerklike reglement). Dit maak nie sin om agterna met so ’n ooreenkoms te kom nie.”

Ungerer meen dis genoeg as ’n ondersoekliggaam per geleentheid die betrokkenes daaraan herinner dat hulle aan ’n kerklike vertroulikheidsproses gebonde is.

Ungerer het in sy persoonlike hoedanigheid as kerkregkenner gesê hy verstaan die vertroulikheidsklousule in die reglement as “wat daar gebeur, bly daar”, soos die inhoud van ’n klag, “wie wat sê” en hy verstaan ook as getuies se identiteite beskerm word, aangesien sodanige vergadering in camera plaasvind.

“Maar ek dink nie die bekendmaking van die identiteite van ’n klaer, of aangeklaagde, of as jy nou sou skryf ek, Dewyk, lei ’n ondersoek, raak regtig die vertroulikheid nie.”

Die klag

Die klag hou onder meer met twee verklarings wat Bartlett in 2018 onderteken het, asook sy kommentaar in ’n Rapport-berig verband. [‘Eers gays, dan ook pedofiele’]

Die verklarings was albei ’n reaksie op die diskoers wat rondom die uitlatings van dr. Chris van Wyk, ’n voormalige lid van die AS se moderamen, oor homoseksualiteit en pedofilie ontstaan het.

Bartlett het aan Rapport gesê Van Wyk se uitlating “kom op haatspraak neer”.

Van Wyk is by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) verkla en adv. André Gaum, MRK-kommissaris, het Vrydag bevestig dat die saak teen Van Wyk voortgaan.

Van Wyk ontken dat hy ooit ’n vergelyking tussen homoseksualiteit en pedofilie getref het.

‘Meer openheid’

Emerituspredikant Adelbert Scholtz, wat hom vir dominees se arbeidsregte beywer het, het in kommentaar op ’n rubriek deur dr. Chris Jones [Lig sluier oor ondersoek na Bartlett (27 Jan 2021)] geskryf: “By ’n tugsaak, soos dié teen André Bartlett, is dit noodsaaklik dat die kerklike publiek op die hoogte van sake gehou word.”

Hy het verwys na prof. Johannes du Plessis van die Stellenbosse kweekskool wat in die 20ste eeu van kettery aangekla is.

“Alles wat op ringsvergaderings en in sinodes gesê is, is volledig in die pers gerapporteer.”

Jones, tans verbonde aan die eenheid vir morele leierskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch, het in sy rubriek na sake van dwaalleer teen proff. Jurie le Roux, Dirk Human en Julian Muller verwys, waar “volledige klagte en uitkoms van die sake op die NGK se webblad geplaas is”.

Oor of die ondersoekliggaam sal ag slaan op pleidooie soos dié van Jones en Scholtz, het Celliers verduidelik dat die ondersoekliggaam slegs aan die ring van Johannesburg (namens wie hulle optree) en die AS se algemene taakspan vir predikantesake verslag doen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui